Padtoets: Dié karretjie skitter in sy eenvoud       

Die Suzuki Celerio. Foto: Verskaf

Vir die meeste mense is ʼn motor letterlik ʼn vorm van vervoer. Dit moet goedkoop wees, maklik om te bestuur en belangrikste van alles – lig op brandstof. Vir ʼn klein persentasie van die bevolking is vuurvretende V8’s hul droom, maar die meeste mense soek net ʼn karretjie.

Suzuki is ʼn handelsmerk wat tans die een toekenning na die ander opraap. Hulle bly getrou aan wat Suzuki goed doen – eenvoudige, klein rygoed. Die kleinste, die Celerio, is ietwat van ʼn verrassing vir my. Gewoonlik is ʼn mens geneig om met minder tevrede te wees, want dis goedkoop. Wat die Celerio betref is dit egter nie die geval nie.

Die binneruim van die Suzuki Celerio. Foto: Verskaf

Die Suzuki Celerio het ʼn eenvoudige luikrugontwerp – maar is glad nie lelik nie. Tot sy klein wieletjies lyk nie buite verhouding tot die res van die voertuig nie. Die binneruim is doelgerig uitgelê, sonder enige foefies. Die spasie binne is indrukwekkend as ‘n mens die voertuig se dimensies in ag neem.

Daar is tot ʼn paar oulike luukshede in die Celerio. Daar is kragstuur, elektriese vensters, Bluetooth, twee lugsakke en ABS. Drie dekades gelede was sulke funksies net op ʼn Mercedes-Benz S-Klas te vinde.

Waar die Celerio’tjie vir my uitblink is met sy dryfstelsel. Daar is ʼn puik 998 cc atmosferiese driesilinderenjin gekoppel aan ʼn doodgewone 5-spoed handrat. Kyk, ek sê dit nog altyd, en sal dit weer hier herhaal: Suzuki maak vir my tans van die lekkerste enjins. Ek sluit die nuwe kleinkapasiteit turbo-enjins hierby in. Suzuki se kragkurwe en versnellerreaksie is puik gekalibreer. Jy kan regtig rustig rondploeter in die verkeer sonder ʼn gestamp en stoot, en indien jy haastig wil wees, gaan ʼn rat of twee terug en laat die toere bo 4 500 r/min klim, dan voel die Celerio net so sterk soos enige nuwe turbo-kontrepsie. Die enjintjie bied 50 kW en 90 Nm, heel voldoende vir dié soort voertuig.

Die binneruim van die Suzuki Celerio. Foto: Verskaf

Die vering en ritgehalte op die Celerio beïndruk ook. ʼn Mens moet onthou dat die Celerio ʼn piepklein asafstand het, so die feit dat hy so rustig en stabiel ry op die snelweg is voorwaar ʼn prestasie. Ja, die kattebak is nie reusagtig nie, maar dit is regtig ʼn intreevoertuig vir jong mense wat net begin, of mense wat afskaal en nie meer kinders het om rond te karwy nie.

As ʼn mens dink aan stapelmodelle uit die verlede soos die Golfie, Uno en Atoz … dit was klein tjorre wat goeie waarde gebied het. In dié klas, sal ek sê jou R156 000 kan nie ʼn beter splinternuwe voertuig koop nie.

Gaan toetsbestuur beslis een, jy sal moontlik net so beïndruk wees soos ek.

Die reeks lyk só:

Celerio 1.0 GAR139 900
Celerio 1.0 GLR156 900
Celerio 1.0 GL outoR170 900

Die kompetisie lyk só:

Renault Kwid 1.0 Dynamique50kW/ 91Nm4.7ℓ/100km5 jaar/ 150 000km waarborgR141 900
Datsun Go+ 1.2 Lux50kW/ 104Nm5.2ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborgR142 700
Kia Picanto 1.0 Street49kW/ 95Nm5ℓ/100km5 jaar/ onbeperkte km waarborgR155 495
Hyundai Grand i1048kW/ 94Nm5.4ℓ/100km5 jaar/ 150 000km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000km dryfstelselwaarborg

R162 900
Mahindra KUV100 Nxt 1.2 K461kW/ 115Nm5.9ℓ/100km3 jaar/ 100 000km voertuigwaarborg

5 jaar/ 150 000km dryfstelselwaarborg

R163 999
Honda Brio 1.2 Trend65kW/ 109Nm5.6ℓ/100km5 jaar/ 200 000km waarborg

2 jaar/ 30 000km diensplan

R164 200
Toyota Aygo 1.053kW/ 93Nm4.3ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborgR168 500
VW take uP!55kW/ 95Nm4.6ℓ/100km3 jaar/ 120 000km waarborgR171 200

Dié segment is nogal wydverspreid. Die Renault Kwid en Datsun Go is beslis goedkoper, en ʼn mens voel dit. Die Kia Picanto en Celerio is die naaste mededingers en gaan hard vuis slaan met mekaar. Ek sit die duurder mededingers by, maar dié segment is regtig prys sensitief. Ek dink die Celerio is ʼn puik waarde proposisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos1 ·

Ek is ‘n baie groot Suzuki “fan”, maar sal beslis neimand aanraai om die outo te koop nie. Dit is ‘n AMT wat basies ‘n handrat is wat self ratte wissel. Klink goed nè? Totdat jy hom bestuur en besef dat as jy stop, gaan die ratkas in neutraal in. As jy wil weg trek dan loop die motor eers 5 meter agtertoe of voorentoe (hang van pad af), voordat die ratkas ‘n rat haak. Dit is ‘n “scary” oomblik, vir jou as bestuurder en die bestuurders voor en agter jou!
Suzuki, sit asb normale kragomsetter outo ratkaste terug in julle voertuie!

Nita ·

Die pryse van nuwe motors is skandalig. Om te dink die kleinste, pieperigste motors kos al meer as R150000. Iewers vanuit die motorbedryf, word Jan Alleman vir n helse “ride” gevat.

Dinkvoorjypraat ·

Seker die motorbedryf se skuld ook dat petrol, melk en brood ook so duur is…

Chris Ws ·

Nita en “Dinkvoorjypraat” ,die regering vat 45% van ‘n nuwe voertuig se prys as belasting.Min mense wil dit glo.Dis ‘n feit.So ‘n R150,000 voertuig se regte prys is dus R82500 !So word ons in SA uitgebuit.

honourable member ·

Karre het belaglik duur geword, hoe groot of klein dit is. Iewers maak iemand lekker geld uit ons uit.

anton ·

Ons het nou vier Suzuki’s in die familie. Baie tevrede met die produk. Dis nou wel die duurder en groter modelle as die Celerio nl . 2 SX4 en 2 Vitara’s. Daar sal moontlik binnekort nog meer Suzi’s bykom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.