Ons het ʼn geruime tyd terug vir Mahindra gevra of ons ʼn beurt kan kry met die nuwe S10 Pik Up-bakkie. Mens sien heelwat Mahindras op ons paaie, en as waardebelegging wou ek sien waaroor die bohaai gaan.
Die Mahindra is beslis nie die mooiste bakkie met die eerste oogopslag nie, maar darem nie die lelikste nie. Dit is tog uit die aard van die saak ʼn bakkie. Met die inklimslag was ek nie dadelik gemaklik nie, maar ná ʼn paar minute se gevroetel darem aanvaarbaar gemaklik. Die Mahindra voel dadelik grof en hard, ʼn kenmerk van duursame werkesels. Dié voertuig is in Indië gebore, waar die omgewing nie vreeslik ontwikkel is nie, en padreëls net ʼn riglyn is.
Die dryfstelsel voel aanvanklik net so grof, maar namate die bakkie op temperatuur kom en ek aan hom gewond raak, begin ons ʼn ritme vind. Skielik is ek net effe rustiger met die rathefboom en koppelaar en die ervaring verbeter dadelik. Met die enjin op temperatuur en ʼn nodige verbysteekpoging begrawe ek die versneller in die vinielvloer en, sjoe – die 2.2 mHawk-enjin spring aan die lewe en stoot die Mahindra soos ʼn trein oor die horison.
Die 2.2 mHawk-viersilinderturbodieselenjin is ʼn aangename verrassing met 103 kW en 320 Nm. Al klink dit nie asemrowend nie, in werklikheid voel die Mahindra regtig sterk. Die 6-spoed-ratkas hou die omwentelinge lekker laag op die snelweg en dus kan mens ʼn redelike brandstofverbruiksyfer behaal. Mahindra beweer 8.1 ℓ/100 km is moontlik, en ek sal nie stry nie. Die Pik Up mag 2.5 ton sleep en al die weergawes is standaard toegerus met ʼn ewenaarslot.
Ek was in ʼn vorige artikel oor die TUV300 streng op Mahindra se stop/start-tegnologie wat nie altyd reg werk nie, en dit was eintlik my fout. Met die Pik Up het ek agtergekom mens moet net die koppelaar mooi trap en inhou tot die enjin weer aangeskakel is. Met die TUV300 het ek net te vinnig die koppelaar begin los, dan skop die knormoer uit en jy staan by die verkeerslig met ʼn rooi gesig.
Die Mahindra het ʼn goeie spesifikasievlak. Daar is twee ISOFIX-monteringspunte, navigasie, multifunksionele stuurwiel, spoedbeheer, outomatiese ruitveërs en intelligente kopligte. Twee lugsakke, ABS en EBD, is daar vir veiligheid.
Die Mahindra Pik Up is maklik om op te som. Indien jy ʼn sterk werkesel soek teen ʼn taai begroting kan jy beslis hierna kyk. Die enjin beïndruk, en die dryfstelsel voel rateltaai.
Die reeks lyk só:
Mahindra Pik Up S4 enkelkajuit 4×2 | R189 995 |
Mahindra Pik Up S6 enkelkajuit 4×2 | R241 995 |
Mahindra Pik Up S10 dubbelkajuit 4×2 | R327 995 |
Mahindra Pik Up S10 dubbelkajuit 4×4 | R357 995 |
Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 20 000 km.
Die kompetisie lyk só:
Isuzu KB250D-teq dubbelkajuit 4×4 Hi-Rider | 100 kW/320 Nm | 7.9 ℓ/100 km | 5 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R418 500 |
Ford Ranger 2.2 dubbelkajuit 4×4 XL | 118 kW/385 Nm | 6.9 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 6 jaar/90 000 km-diensplan | R445 500 |
Toyota Hilux 2.4 GD-6 dubbelkajuit 4×4 SRX | 110 kW/400 Nm | 7.3 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R487 300 |
Volkswagen Amarok 2.0TDI dubbelkajuit Comfortline 4Motion | 103 kW/340 Nm | 7.8 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R575 900 |
Die kompetisie is taai en die aanbieding van die groter vervaardigers bitter sterk maar ook baie duurder. Die prysgaping tussen die Mahindra en die Isuzu is die kleinste – tóg baie, maar die Isuzu is ʼn meer betroubare handelsmerk wat bakkies betref.
Ek ry die 4×2 d/c. Het alreeds 20 000 kommer vrye kilo’s gedoen. Het voorheen met een van die Japanese goed gery (wat nou vir die Duitsers help). Die Mahindra KAN 2.5ton sleep. Het dit al beproef, en die d/c laai ‘n ton, ook beproef. Die “Diff lock” werk soos ‘n droom. Sal nie weer iets anders somer ry nie. Kry gemiddeld 12km/L, met meeste stad ry.
Ons het 4 van hulle vervang met Hi Lux 2.4 bakkies omdat die Mahindras ons gemiddeld R80 000 per jaar aan instandhouding gekos het toe hul ‘n jaar oud was.
Piet, ‘n jaar oud, is dit dan nie nog onder waarborg nie? Sien dit is vir 4 jaar gewaarborg.
Ek dink nie Piet is regverdig met sy kommentaar nie. Om vir ons te vertel dat al vier R80 000 se instandhouding geverg het is te dik vir ‘n daalder. Klink te veel na jaloesie eerder as die waarheid. Gee meer inligting Piet sodat ons kan sien wat was hierdie groot issue met al vier.
Net om iets verder uit te klaar. Die Navara wat ek gery het, se dienste was gemiddeld R7000. “Fuel rail”- R27000, Linker kant “window motor” – R13000… Het ‘n NP200 in ons vloot: Eerste diens R3200, Mahindra R2800 (maar onder diensplan, dus nie self betaal nie)
Navara se “drive train” op 120 000km vervang- R100000.00… Kyk dan na inruil waardes. Navara het nuut net oor R500 000 gekos, inruil R96 000, Mahindra R324000, inruil R100 00, wie verloor meeste… Gee my die Mahindra enige tyd…. Net omdat my Oupa se Oupa ‘n Toyota donkiekar gehad het, meen nie dat ek ook een moet ry nie…
Piet, jy praat nonsens. Ek ry self Mahindra. Jy gaan my nie daai storie vertel nie.
Ek het nou my tweede Mahindra 2.2 Scorpio 2013 model.
108 568 km na 5 jaar en my onderhouds koste tot nou was 1 stel rem blokkies, skokbrekers en die “altenator” borsels vervang al vir onder R5000.00
Sal nie my donkiekar verruil vir ander een nie
Piet,by watter Toyota garage het jy toe die 4 nuwe bakkies gaan koop. ??
Piet en by watter Mahindra handelaar het julle brekende onder waarborg jaar oud Mahindras gekoop? Sal ‘n antwoord waardeer.
Piet, is jou vingers afgekap en jy nou stil? Ek soek eerlike menings man, ek lees nie verniet hierdie kommentare nie!!
Dis in my prysklas, maar gaan hy hou oor rowwe terrein as jy dit hoofsaaklik vir toer en “off road” geleenthede wil gebruik? Ek dan die kwessie van beskikbare onderdele indien iets langs pad in Afrika breek?????
Manie, op Facebook is daar ‘n Mahindra 4×4 groep. Daar is een man wat al die hele Afria met sy Mahindra plat gery het, en nie hy of sy bakkie is al klaar nie… Ek het met my 4×2 in Mboytjie aan die Wilde Kus agter een van local’s aan gaan watervalle kyk, hy het 2 keer vas gesit met sy 4×4 Isuzu, die S10 se “diff lock” het my gehelp om NIE vas te sit nie, en ek het absoluut geen “off road” ondervinding nie. Ek glo nie mens sal fout maak om ‘n Mahindra te koop nie. Oppas net vir die antenna op die dak by lae plekke as jy in tru rat is… Myne sommer op eerste oggend onder afdak by huis agter gelos.