Padtoets: Die McGuyver-mes

Die Golf R. (Foto: Verskaf)

Motorjoernaliste vergeet partykeer dat ʼn mens moontlik net een kar besit. Daardie motor moet dan alles wees vir daardie persoon. Indien jy ʼn veelsydige luikrug soek wat ook jou broek aan die brand kan steek met sy spoed, én ʼn ysige, modderige of nat pad kan baasraak, dan wil jy nou verder lees.

Die Golf R is seker die veelsydigste luikrug waarin ek al gery het. Dit is steeds prakties met vier deure en vyf sitplekke en die kattebak is nie te versmaai nie. Die sportsitplekke voor is vir my lieflik gemaklik en die inligtingstelsels en kontroles is standaard soos in die ander Golfies wat in die reeks beskikbaar is.

Daar is twee gróót verskille. Eintlik drie. Vierwielaandrywing, die enjin en die prys. Die vierwielaandrywing verander die Golf se karakter van ʼn rustige luikrug na ʼn buks wat ʼn supermotor van verkeerslig na verkeerslig kan pak gee. Die enjin in die R bied 213 kW en 380 Nm. 0 – 100 km/h neem maar net 4,6 sekondes en die Golf is beperk tot 250 km/h.

Ek het tydens ʼn bekendstelling ʼn video gesien van ʼn vriend se vriend se ma se hond se Golf R in Suid-Afrika wat 312 km/h haal. Hau. Mense, dis ʼn Golfie. Bo 300 km/h is gereserveer vir Porsche’s, Lamborghini’s, Ferrari’s en sulke goed.

Die Golf R. (Foto: Verskaf)

Wat van die prys? Dit is wild, maar – die tegnologie wat hier beskikbaar is, is nie goedkoop nie. Een van die Golf R se truuks is lanseerbeheer. ʼn Mens skakel traksiebeheer af, skakel die Golf R in sportmodus, trap die rempedaal so hard as wat jy kan met jou linkervoet, trap dan die versneller tot teen die vloer – die omwentelinge bou tot so 5 000 r/min en as jy die remme los, is die hel ook los. As ʼn mens dit die eerste keer ervaar sal jy dink iemand het van agter in jou vasgery so aggressief is die versnelling.

Wat beïndruk van die Golf R is dat ten spyte van die feit dat hy so vinnig is, skreeu hy glad nie daaroor nie. Daar is nie allerhande drukvinne en bakvlerke nie. Dit is net ʼn Golf met mooi wiele, maar klim agter die stuur en wees bereid om te glimlag. Die vierwielaandrywingstelsel het vir my regtig uitgestaan want ons het in Gauteng verskriklike reën daardie week beleef, en die Golf R was glad nie bang nie.

Indien jy in dié klas kan speel is daar ʼn paar opsies, en almal verskil redelik baie, maar moet beslis nie die Golf R miskyk nie.

Die reeks lyk só:

ModelKragBrandstofverbruik0 – 100km/hTopspoedPrys
VW Golf GTD130kW/ 350Nm5ℓ/100km7.4 sek230km/hR509 400
VW Golf GTi169kW/ 350Nm6.4ℓ/100km6.4 sek248km/hR548 600
VW Golf R213kW/ 380Nm7ℓ/100km4.6 sek250km/hR664 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 120 000km waarborg en 5 jaar/ 90 000km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruik0 – 100km/hTopspoedWaarborgPrys
Honda Civic Type R228kW/ 400Nm8.4ℓ/100km5.8 sek272km/h5 jaar/ 200 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R635 500
BMW M140i250kW/ 500Nm7.1ℓ/100km4.6 sek250km/h2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan

R687 940
Ford Focus RS257kW/ 440Nm7.7ℓ/100km4.7 sek266km/h4 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 100 000km diensplan

R712 900
Subaru WRX STI221kW/ 407Nm10.4ℓ/100km5.2 sek255km/h5 jaar/ 150 000km waarborg

3 jaar/ 75 000km omvattende instandhoudingsplan

R737 000
Mercedes-AMG A45 4Matic280kW/ 475Nm7.3ℓ/100km4.2 sek250km/h2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan

R812 259
Audi RS3 Sportback294kW/ 480Nm8.3ℓ/100km4.1 sek250km/h1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan

R903 500

Die segment het regtigwaar ʼn paar juwele. Die prysklas is wyd, en daar is verskeie wapens om van te kies en keur. Die Golf is beslis ʼn sterk mededinger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Pompies ·

Soos ek hier sit nadat ek die berig gelees het is daar net een woord…. jaloers. Sal baie graag so ‘n Golf AWD vir ‘n rit vat deur die skerp draaie hier in MPA. Hierdie was sekerlik Brandon se voorreg…hoop van harte jy het die toets geniet.

Paul ·

Die Golf R kom met hoëverrigting somerbande as standaardtoerusting. Ek sal graag wil sien hoe ry jy daarmee op ‘n ysige pad sonder om te gly.
Vir ‘n ysige pad is dit nie die vierwielaandrywing wat werklik die verskil maak nie, dis die bande. Met somerbande op kan jy die beste vierwielaandrywing ter wêreld hê, en jy gaan steeds nêrens kom nie.

In die teks van die artikel staan dat die Golf R 0 to 100 kan doen in 4.2 sekondes. Dis foutief. In die tabel staan 4.6 sekondes. Dis wat VW sê, hoewel dit self ook bietjie ooroptimisties is, as mens kyk na die tye wat motorpublikasies kon behaal, wat meer van so 4.8 tot 5 sekondes wissel.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Paul
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Turbo ·

Ja-nee, ek stem saam PP!! :)

Op ‘n manier eintlik goeie waarde vir geld in vergl met bv die TT. (Ander klas, maar enjin gewys vergelykbaar)

Joe-v-Heerden ·

Die prys maak die Golf R ‘n aantreklike keuse, maar die ‘nuwe’ Honda Civic Type R (voorwielaangedrewe, en dis nie ‘n werklike vergelykbare motor nie) is die motor wat die entoesiastiese bestuurder sekerlik sal kies. Laasgenoemde kan net nie ‘n voet verkeerd sit nie.

My beskeie mening.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.