Padtoets: Die meester van weelde

Die nuwe Mercedes-Benz
E400 4Matic (Foto: Mercedes-Benz)

Mercedes-Benz is al jare op die boonste trappies as dit by die leer van luukse voertuie kom. Die geskiedenis is gestrooi met spesiale Merc’s. Die SL 280 Pagoda uit die sestigerjare is een so ʼn spesiale motor waarna ek smag om te besit. Kanse is wel skraal, want hul pryse loop al diep in die miljoene.

Mercedes-Benz is tans op ʼn missie. Daar was in die afgelope tien jaar meer vinnige, mooi Merc’s as ooit vantevore. Ek moet bieg dat ek nie die grootste liefhebber is van dié nuwe koepee met vier deure waarmee Mercedes, Audi en BMW tans besig is nie. Dié E400 4Matic het wel net twee deure. ʼn Egte koepee.

Die eksterieur van die Mercedes-Benz praat in die mooiste aksent, en het ʼn pragtige uitrusting aan. Sy is boonop nie net mooi van buite nie; die binneruim is net so asemrowend. Die binneruim is ook waar dié E-klas jou betoor met die nuutste tegnologieë. Reuseskerms vertoon al die belangrike inligting. Die skerms kan ook aangepas word sodat dit net die inligting bied wat jy wil sien, presies waar jy dit wil hê.

Die nuwe Mercedes-Benz
E400 4Matic (Foto: Mercedes-Benz)

Hier is alles waaraan ʼn mens kan dink. Elektries verstelbare sitplekke wat verhit of verkoel kan word, CarPlay of Android Auto, spoed- en baanbeheer, outomatiese ligte en ruitveërs – tot ʼn armpie wat die sitplekgordel vir jou naderbring, want dié koepee se deure is lank, en ʼn mens strek nie vir jou gordel in ʼn Mercedes-Benz nie.

Wat beïndruk met die nuwe E-klas koepee is wel nie net haar mooi rok en binneruim nie; die turboaangejaagte V6-enjin is ewe verruklik. Die enjin kan rustig rondrits sonder om enige iemand se hare om te krap, en mooi op sy plek wees met maniere wat jou nie in die deftigste parkeerterrein sal teleurstel nie, maar laat die pad nou voor jou oopmaak, en dié 9-spoed outomatiese ratkas spring ʼn hele klomp ratte terug – dán dans die poppe. Dit is ook nie ʼn onbeskofte dans soos in die 63 AMG-produkte nie, maar onder geen omstandighede stadig nie. Die V6 bied 245 kW- en 480 Nm-wringkrag. 0 – 100 km/h duik op in 5.3 sekondes en die skoonheid sal aanhou wals tot ʼn beperkte 250 km/h.

Mercedes-Benz het in die afgelope paar jaar reusestappe geneem in die padhouvermoë-departement. Hul motors het nog altyd ʼn lieflike rit gehad, maar as ʼn mens haastig was is dit waar dinge ʼn bietjie morsig geraak het. Dit is nie meer die geval nie.

Die nuwe Mercedes-Benz
E400 4Matic (Foto: Mercedes-Benz)

Dié spesifieke E-klas is met Mercedes-Benz se 4Matic-dryfstelsel toegerus. Dit is allewielaandrywing, en iets wat ek al ʼn geruime tyd sê op alle voertuie met meer as 200 kW gesit moet word. Ons motormense in die bedryf vergeet dat ʼn baie klein persentasie mense met hul eie motors jaag, en die veiligheidsnet wat die vierwielaandrywing bied wanneer dit nodig is, is die geld werd. Die vierwielaandrywing verseker net dat die Mercedes-Benz hom altyd op sy beste gedra.

Is daar enige probleme? Nee, ek glo nie. Ek persoonlik is nie ʼn koepee-mens nie; ek verkies ʼn egte sedan – maar vir dié wat nie vier deure soek nie, is die Mercedes-Benz E400 4Matic ʼn pragtige alternatief, wat nie net meer bek as binnegoed is nie. Die V6 se aksent is absoluut verleidelik.

Die reeks lyk só:

E200 Koepee135 kW/ 300 Nm6.7 ℓ/100 kmR758 034
E220d Koepee143 kW/ 400 Nm4.6 ℓ/100 kmR806 500
E300 Koepee180 kW/ 370 Nm7 ℓ/100 kmR847 060
E400 Koepee 4Matic245 kW/ 480 Nm8.4 ℓ/100 kmR1 029 366

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragBrandstofverbruik0 – 100 km/hTopspoedWaarborgPrys
Lexus RC 350 F-Sport233 kW/ 378 Nm9.4 ℓ/100 km6.3 sek250 km/h4 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R888 500
Audi S5 Quattro260 kW/ 500 Nm7.4 ℓ/100 km4.7 sek230 km/h1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R928 000

Ek’t slegs die ware koepee-mededingers gelys. BMW se 6-reeks is nou slegs met vier deure beskikbaar. In dié klas gaan dit net oor smaak: Gaan toetsbestuur almal en sien watter een met jou hart gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HPV ·

Het ‘n Mercedes C220 besit, groot fout! Google “Mercedes biodegradable engine harnass”.
Dit het my en ander Mercedes eienaars miljoene gekos. Ons moes dit self laat herstel of die motors vir skrootmetaal verkoop. Mercedes nooit weer nie!

Louis le Roux ·

Pragtige vloeiende lyne binne en buite. Sal my voortande gee vir een van hierdie mouters.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.