Padtoets: Dié Range Rover is toonbeeld van teenstryd

Die Range Rover Sport SVR. Foto: Verskaf

Die meeste voertuie is redelik gewoon. ʼn Corolla is net ʼn sedanmotor… ʼn goeie een, maar tog net ʼn sedan. As mens Land Rover dink, is dit sinoniem met veldry en 4×4. Dis ʼn reputasie wat Land Rover aan bou sedert 1948. Kingsley Holgate het al op elke kontinent in ʼn Land Rover gereis, om die ewenaar, tot diep in die Australiese Outback en terug, die wêreld vol.

Land Rover het met hul Range Rover-produk vir die wêreld gewys dat die “blufferigste” mense ook in die veld kan gaan rondploeter, in uiterse gemak. Nou waarheen van hier af? Enige plek, net vinniger – baie vinniger. Land Rover het ʼn nuwe afdeling gestig – Land Rover Special Vehicle Operations. Dié afdeling se taak is om die luuksste, vinnigste Land Rovers ooit te vervaardig.

Die Range Rover Sport SVR. Foto: Verskaf

Welkom aan die Range Rover Sport SVR… die vinnigste Land Rover… ooit. Hy haal 0 – 100km/h in ʼn asemrowende 4,5 sekondes en hy sal aanhou bene rek tot ʼn mal 284 km/h! Dit is regtig asemrowend. Die SVR word deur 423 kW en 700 Nm na die horison geslinger met ʼn barbaarsheid wat mens selde in sportmotors teëkom, wat nog van ʼn groot sportnutsvoertuig!?

Die Range Rover is vir my bitter mooi. Die proporsies is vir my so te sê perfek en as mens agter om die kar beweeg en jy sien die vier uitlaatpype, dan weet mens – dié Range Rover is stout. Die binneruim huisves sy passasiers in uiterse weelde. Die kwaliteit is uit die boonste rakke – nes ʼn mens verwag van ʼn Range Rover.

Die Range Rover Sport SVR. Foto: Verskaf

Die Range Rover SVR, al is dit ʼn vuurvretende monster – kan steeds sy stewels vuil kry met ʼn laestrek‑ratkas en lugvering wat 278 mm grondvryhoogte bied en 850 mm waaddiepte. Baie mense vra vir my hoekom mens met só voertuig in die veld of modder sal gaan rondkerjakker – en dis eenvoudig, want daai kar is daai ou se Fortuner.

Wat meer beïndruk as die veldryvernuf is hoe die SVR op die pad sit. Ek het tydens my tyd met die SVR hard probeer om te bewys dat dit tóg net ʼn 4×4 is en nie eintlik sulke naelloopskoene kan volstaan nie. Ek kon dit nie regkry nie. Wat ek wel reg gekry het, is om hals oor kop verlief te raak op die mal SVR. Daar is ren-sitplekke…  hy sal vier swart strepe op die teer neerlê en as jy spasie het, sal hy asemrowende vier wiel drifts doen terwyl die vier uitlaatpype stof in enige tenoor se gesig skop. Én hy kan net ʼn gesinsmotor wees en al ry mens soos ʼn nar is die SVR nie so swaar op brandstof soos ek verwag het nie. Ek het 21 ℓ/100 km gehandhaaf. Dit is ʼn fantastiese ryding. As ek kon, sou ek…

Die SVR lyk só:

Range Rover Sport SVR423 kW/ 700 Nm13.6 ℓ/100 km4,5 sek284 km/h3 jaar/ 100 000 km‑waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 351 535

Die kompetisie lyk só:

Jeep Grand Cherokee SRT344 kW/ 624 Nm14 ℓ/100 km5 sek257 km/h3 jaar/ 100 000 km‑waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 348 900
Porsche Cayenne Turbo404 kW/ 770 Nm11.9 ℓ/100 km4,1 sek286 km/h2 jaar/ onbeperkte km‑waarborg

3 jaar/ 90 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 158 000
Mercedes-AMG GLE63 S430 kW/ 760 Nm11.9 ℓ/100 km4,2 sek250 km/h (elektronies beperk)2 jaar/ onbeperkte km‑waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 267 127

Die enigste van dié mededingers wat nie kan kers vashou by die ander nie, is die Jeep. Dit gaan interessant wees om die BMW X5 M te sien as hy kom. Ek is in ʼn tweestryd tussen die Porsche en die Range Rover.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

21l/100km nie so swaar Nie??Waar val jy uit?Die Jeep nie kersvas hou nie?Een miljoen goedkoper,half sekonde stadiger,13l/100km petrol verbruik.My opinie die beste opsie by verre hier…

Henk Brand ·

Die Jeep word baie onderskat. Ek ry ‘n diesel. Baie goeie waarde vir geld.

Brendon ·

Dagsê Johan,

Baie dankie vir jou kommentaar. Jeep se beweerde brandstofverbruik syfer is 13l/100km, mens sal dit nooit regtig behaal nie. Die Jeep doen in die omgewing van 20l/100km as jy rustig ry, en omtrend 30l/100km as jy haastig is. Jeep het onlangs hul Trackhawk bekendgestel, wat die selfde prys as die Porsche en Range Rover, en 520kW huisves. Dit sal ‘n monster wees, maar ek glo steeds nie sy padhouvermoë sal by die Porsche of Range Rover kom nie. Dalk is hier ‘n vergelykende toets?

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Marcel ·

Jeep het nou onlangs n Trackhawk uitgebring, blykbaar die vinnigste SUV wat daar is. Sal nogal wil sien of hy in die veld ook sal kan by hou en die gemak hê, ek glo nogal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.