Padtoets: Die Toyota Yaris laat my dink aan rooiwyn …

Die Toyota Yaris. Foto: Verskaf

Met die bekendstelling van die Toyota Yaris kon die voertuig my aanvanklik nie oortuig nie (lees meer hier). Die enjin was vir my verskriklik grof en die outo het ʼn palwisseltransmissie.

Ek het egter nou twee keer ná die bekendstelling met die Yaris tyd deurgebring, en ek moet sê … soos hy inloop, raak dit ʼn lekker ryding – hy kort net bietjie tyd om asem te haal, soos wyn. Die enjin is regtig baie stiller as toe die voertuie splinternuut was by die bekendstelling. Die handrat se wisselaksie is positief en glad, so mens kan die Yaris gemaklik in die verkeer ry met ʼn egalige ritme, geen gestamp en ruk en pluk soos jy met die kar baklei om te doen wat jy wil hê nie.

Die Yaris bly ʼn B-segment-luikrug; al is hy effens nouer as die Polo is hy langer en met amper dieselfde soort proporsies as die Fiesta, waarskynlik twee van sy groter mededingers. Die Yaris Sport is toegerus met leerbekleedsel en ʼn inligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto het, ʼn groot pluspunt vir die Yaris.

Die Toyota Yaris. Foto: Verskaf

Die 1.5 VVTi- atmosferiese viersilinderenjin is heel in die kol ná hy bietjie inloop. Hy raak stiller, en as mens krag nodig het, skop ʼn rat of twee terug en laat die omwentelinge bou, dan is daar heeltemal genoeg krag bo in die toerestrek sodra die 16 kleppe en dubbel-bonokas mooi op dreef kom. Die Yaris is ook regtig lig op brandstof as hy eers mooi ingeloop is. Ek het 6.6 ℓ/100 km gehandhaaf. Die enjin is gekoppel aan ʼn doodgewone vyfspoedhandrat.

Die ritgehalte is lekker gemaklik aangesien die Yaris nie soos ʼn renmotor geveer is nie. Padhouvermoë is heeltemal aanvaarbaar en sal ver bo Yaris-bestuurders se verwagting wees. Die Yaris is nou vir my maklik om op te som. Dit bied ʼn goeie alternatief vir die VW en Ford se meer tegnologiese benadering met turbo’s en so meer.

Die Toyota Yaris. Foto: Verskaf

Dié segment is enorm en daar is hordes mededingers, atmosferies of turboaangejaag. Mens moet dán spesifikasievlak en veiligheidstelsels ook in ag neem om die mededingers te onderskei.

Die Yaris het ʼn segmentleidende sewe lugsakke op die S-model en ʼn billike spesifikasievlak met die leerbekleedsel as standaard. Al die mededingers hieronder gelys is sterk uit eie reg. Maak ʼn kortlys van dié wat jou aandag trek en gaan toetsbestuur almal; een van hulle sal met jou praat.

Die reeks lyk só:

Toyota Yaris 1.5 Xi79 kW/ 140 Nm5.9 ℓ/100 kmR240 100
Toyota Yaris 1.5 Xs79 kW/ 140 Nm5.9 ℓ/100 kmR263 600
Toyota Yaris 1.5 Cross79 kW/ 140 Nm5.9 ℓ/100 kmR279 300
Toyota Yaris 1.5 Xs outo79 kW/ 140 Nm5.8 ℓ/100 kmR279 400
Toyota Yaris 1.5 S79 kW/ 140 Nm5.9 ℓ/100 kmR297 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en ʼn 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Baleno 1.4 GLX68 kW/130 Nm5.1 ℓ/100 km6 lugsakke5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R239 900
Mazda 2 1.5 Individual82 kW/145 Nm5.5 ℓ/100 km2 lugsakke3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R256 500
Opel Corsa 1.0T Enjoy85 kW/170 Nm5.0 ℓ/100 km6 lugsakke5 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R258 993
Peugeot 208 1.2T GT-Line81 kW/205 Nm4.5 ℓ/100 km6 lugsakke3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R276 900
Renault Clio 88kW turbo GT-Line88 kW/205 Nm5.3 ℓ/100 km4 lugsakke5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R280 900
Nissan Micra 66kW turbo Acenta Plus66 kW/140 Nm5.1 ℓ/100 km6 lugsakke6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R283 900
Honda Jazz 1.5 Elegance88 kW/145 Nm6 ℓ/100 km6 lugsakke5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R285 000
Hyundai i20 1.4 Active74 kW/133 Nm6.7 ℓ/100 km2 lugsakke5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R287 900
Kia Rio 1.4 Tec74 kW/135 Nm5.8 ℓ/100 km6 lugsakke5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R288 995
VW Polo 1.0TSI Highline85 kW/200 Nm4.7 ℓ/100 km6 lugsakke3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R298 700
Ford Fiesta 1.0T Titanium92 kW/170 Nm4.3 ℓ/100 km6 lugsakke4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R304 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann cb ·

Tog jammer dat soveel vervaardigers se voertuie soveel na mekaar lyk! Wel, daar moet seker kompetisie wees, om nie van persoonlike smaak te praat nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.