Die kompakteluikrugsegment is verreweg die grootste motorsegment in Suid-Afrika. Die twee markleiers saam, die Polo en Vivo, verkoop gereeld oor die 5 000 eenhede. Dus is ʼn sterk mededinger in dié segment van sleutelbelang.
As ons na die Maart 2018-verkoopsyfers kyk, wys dit dat daar 789 Kia Picanto’s gedurende die maand verkoop is. Sjoe! Dit is verskriklik indrukwekkende syfers. Onthou, Honda as handelsmerk het altesaam 942 voertuie verkoop. Voorwaar ʼn prestasie.
Dit is vir my wel geen verrassing nie. Die Kia Picanto is ʼn 2018-finalis vir Wesbank se motor van die jaar-kompetisie. Dit is ʼn uiters modieuse buksie met ʼn aantreklik pakkie aan, skoene en al. Die binneruim stel geensins teleur nie, met funksionaliteit wat gewoonlik eers by groter, duurder voertuie te vinde is soos Apple CarPlay, truratkamera en aanboordrekenaar.
Die paneelbord en instrumentasie bly getrou aan Kia se huidige ontwerptaal wat geensins ʼn slegte ding is nie. Die materiale is duursaam maar netjies en nie so hard soos mens in kleiner karre verwag nie. In ons toetsmodel was daar leerbekleedsel wat lekker duursaam sou wees, maar lap sit vir my lekkerder.
Die binneruim is kompak, maar ruim genoeg vir vier volwassenes, óf twee volwassenes en drie kleintjies. Isofix is standaard in alle modelle, so die kleintjies bly veilig vasgegespe. Net die intreemodel het nie ABS nie om die Picanto teen ʼn spesifieke prys beskikbaar te stel, maar die res van die reeks het ABS, plus ʼn bestuurder- en passasierlugsak.
Die ritgehalte in die Picanto beïndruk vir so ʼn klein buksie. Vantevore kon klein karretjies nie só volwasse en luuks voel nie – iets wat die Picanto baie goed regkry.
Die enjin is heel gretig vir die grootte voertuig: ʼn 1.25-viersilinderpetrolenjin gepaard met ʼn vyfspoedratkas hou dinge eenvoudig. Die enjin is lekker gekalibreer, so hy trek sterk deur die toere en as mens rustig ry, is hy verskriklik lig op brandstof.
As algehele pakket het die Picanto vir my geen foute nie. Dit is ʼn uiters modieuse, kompakte ryding wat baie groter skoene vul as wat sy dimensies en prys vra. Die spesifikasievlak is vir my puik en Kia se markleidende waarborg gaan verseker dat jy vir jare jou Picanto kan geniet. Gaan kyk self, jy sal verras wees.
Die reeks lyk só:
Picanto 1.0 Start | 49 kW/95 Nm | R139 495 |
Picanto 1.0 Street | 49 kW/95 Nm | R154 495 |
Picanto 1.2 Start | 61 kW/122 Nm | R155 495 |
Picanto 1.0 Style | 49 kW/95 Nm | R164 495 |
Picanto 1.2 Start outo | 61 kW/122 Nm | R168 495 |
Picanto 1.2 Street | 61 kW/122 Nm | R170 495 |
Picanto 1.0 Style outo | 49 kW/95 Nm | R177 495 |
Picanto 1.2 Style | 61 kW/122 Nm | R181 495 |
Picanto 1.0 Smart | 49 kW/95 Nm | R185 495 |
Picanto 1.2 Style outo | 61 kW/122 Nm | R194 495 |
Picanto 1.2 Smart | 61 kW/122 Nm | R201 495 |
Picanto 1.2 Smart outo | 61 kW/122 Nm | R214 495 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km-waarborg; ʼn 2 jaar/45 000 km-diensplan is opsioneel.
Die kompetisie lyk só:
Suzuki Ignis 1.2 GLX | 61 kW/113 Nm | 5.1 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 2 jaar/30 000 km-diensplan | R191 900 |
Toyota Aygo 1.0 X-Cite | 51 kW/95 Nm | 4.4 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg Diensplan opsioneel | R193 100 |
Volkswagen cross up! | 55 kW/95 Nm | 4.7 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg Diensplan opsioneel | R201 500 |
Hyundai Grand i10 1.2 Glide | 64 kW/120 Nm | 5.9 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg 2 jaar/30 000 km-diensplan | R204 900 |
Fiat Panda 0.9 TwinAir Lounge | 63 kW/ 145 Nm | 4.2 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 3 jaar/100 000 km-diensplan | R214 900 |
Tussen dié mededingers is almal regtig sterk en persoonlike smaak sal ʼn groot rol speel. Gaan toets almal, maar moet beslis nie die Kia miskyk nie.
Het Aug 2017 my Picanto 1.2 smart gekoop. Net jammer op 6600 km moes hulle my hele clutch ens vervang en nou weer op 10000km doen hy presies dieselfde. Jammer dat ek al weke sukkel met Kia om dit uit te sorteer. Ek is mal oor my kar maar agv die probleme verloor el vertroue