Ons het geruime tyd gelede ons eerste Audi vir ʼn toetsrit verwelkom by Maroela Media. ʼn Q5 2.0 TDI Quattro. Nogal ʼn “motor van die jaar”- finalis. Ek het heelwat ondervinding met Audi’s. Toe ek so tien jaar gelede nog in die Kaap gewoon het, wou ek bitter graag ʼn A4 1.8T outo gehad het.
Audi het ʼn sekere unieke eienskap. Nee, dit is nie net ʼn luukse Volkswagen nie. In die vroeë 2000’s het Audi die skare gelei in binneruimontwerp, bougehalte en materiale. Die jammerte daarvan was dat indien hulle nie mooi opgepas is nie sou die binneruim vinnig baie oud en beskadig kon lyk.
Die nuwe Q5 se binneruim stel geensins teleur nie. Dit is ergonomies amper perfek en die sitplekke verseker dat ʼn mens dadelik uiters gemaklik sit. Audi se instrumentasie is vir my nog altyd besonder mooi, en die paneelbord uiters elegant. Die Q5 se ontwerp in gewone 2.0 TDI-spesifikasie sonder die S-line-pakket lyk vir my wel effe vervelig. Dis wel net ek, want baie mense wil nie noodwendig ʼn skreeuende ontwerp met 22”-wiele hê nie.
Die ritgehalte is ook uiters luuks en gemaklik, sonder enige ondeunde bakrol.
Slegte paaie word met gemak genavigeer, en die binneruim laat jou voel asof jy in ʼn kokonnetjie toegedraai is, perfek beskerm van die elemente. Padhouvermoë is heeltemal goed vir dié klas voertuig. As ʼn mens ʼn Q5 wil hê wat op spore ry, dan is die SQ5 meer vir jou. Ek het ʼn kort stukkie grondpad gery met die Q5, en die Quattro-stelsel is regtig puik. ʼn Mens voel hoe hy werk teen 100 km/h as jy oor sagte sand ry. Die Q5-reeks het nou quattro ultra – al wat dit beteken is dat die agterste dryfas afgeskakel word wanneer dit nie gebruik word nie, en dus bied dit ʼn brandstofbesparing.
Die 2.0 TDI-enjin lewer 140 kW en 400 Nm. Dit is baie sterk vir ʼn 2.0-viersilinderturbodiesel. Die enjin is ook so goed gekalibreer dat dit by tye ʼn bietjie “plat” voel. Die kragkurwe is só perfek dat die enjin nie veel karakter het nie. Dit is ʼn goeie ding vir mense wat net lekker wil ry, en vir dié van ons wat van tyd tot tyd opgewonde wil raak, nie so nie. Audi se S-Tronic is soos altyd, puik. Ratwisselings is blitsvinnig en indrukwekkend glad.
Dit is vir my eintlik baie moeilik om die Audi Q5 op te som. Dit is ʼn puik voertuig. Dit is asemrowend afgerond binne en die enjin- en ratkaskombinasie is uiters bekwaam. Dit het net nie my hartsnare geroer nie … dalk sou die 2.0 TFSI my meer opgewonde maak? Die 3.0 TFSI SQ5 sou beslis…
Die reeks lyk só:
Audi Q5 2.0 TDI quattro S tronic | 140kW/ 400Nm | 4.9ℓ/100km | R698 000 |
Audi Q5 2.0 TDI quattro S tronic Sport | 140kW/ 400Nm | 4.9ℓ/100km | R748 000 |
Audi Q5 2.0 TFSI quattro S tronic | 185kW/ 370Nm | 6.8ℓ/100km | R747 500 |
Audi Q5 2.0 TFSI quattro S tronic Sport | 185kW/ 370Nm | 6.8ℓ/100km | R797 500 |
Audi SQ5 3.0 TFSI quattro Tiptronic | 260kW/ 500Nm | 8.3ℓ/100km | R1 044 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn 1 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk só:
Volkswagen Tiguan 2.0 TDI 4Motion Highline | 130kW/ 380Nm | 6.4ℓ/100km | 3 jaar/ 120 000km waarborg 5 jaar/ 90 000km diensplan | R578 900 |
Jaguar E-Page D180 AWD | 132kW 430Nm | 5.6ℓ/100km | 3 jaar/ 100 000km waarborg 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R629 716 |
Mercedes-Benz GLC 220d 4Matic | 125kW/ 400Nm | 5.5ℓ/100km | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 6 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R706 010 |
Volvo XC60 D5 AWD Momentum | 162kW/ 440Nm | 5.7ℓ/100km | 5 jaar/ 100 000km waarborg 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R726 106 |
Lexus NX 300 F-Sport | 175kW/ 350Nm | 7.9ℓ/100km | 3 jaar/ 100 000km waarborg 4 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R797 500 |
Alfa Romeo Stelvio Q4 | 206kW/ 400Nm | 7ℓ/100km | 3 jaar/ 100 000km waarborg 6 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R817 900 |
Die mededingers is wydverspreid. Elkeen verskil baie van die ander. Hier sal persoonlike smaak ʼn reuserol speel in die keuse watter een jy wil koop. Ek dink die enigste probleem wat die Q5 wel het, is sy neef van Volkswagen, die Tiguan.
Was van die 80’s seker een van die grootste VV / Audi aanhangers. Het al talle VW en Audi motors besit. (Drie op die oomblik)
Het ongelukkig totaal my aptyt vir die mpy verloor agv hulle motorsport ontwikkelingsprogram wat duidelik en eksplisiet uitspel dat wittes nie aansoek hoef te doen. Julle vervreem lojale kliënte, en julle sal my nie weer sien.