Padtoets: Dís mos ʼn Mercedes-Benz

Mercedes-Benz C300 (Foto: Verskaf)

Ek het laat verlede jaar ʼn C180 op toets gehad. Om te sê dat dié voertuig my nie heeltemal beïndruk het nie, is ietwat sag gestel. Die 1.6‑viersilinderturbopetrolenjin gepaard met die 9-spoed‑outokas voel onverfynd.

Toe Mercedes-Benz skakel en vra of ek die C300 wil toets, het ek die geleentheid aangegryp om te sien of ʼn groter enjin die produk verbeter.

Uit die staanspoor is die C300 heeltemal ʼn perd van ʼn ander kleur as die C180. Nie net met sy prys nie, maar die ontwerp is briljant afgerond met die AMG-pakket. Dié pakket verander die C-klas van ʼn Avis‑huurmotor na iets wat mens eintlik begeer.

As mens die kajuit binnetree is die verandering nie net oppervlakkig nie. Die binneruim verskil aansienlik van die basismodel.

Die elektries verstelbare sitplekke kan in ʼn japtrap gemaklik gestel word. Daar is verhitting vir daai koue winteroggende ook, om te verseker dat mens se stêre nie vries nie. Die stuurkolom kan vir reik en kantel gestel word – so ʼn mens vind regtig vinnig die perfekte bestuursposisie.

Mercedes-Benz C300 (Foto: Verskaf)

Die nuwe skerms bied al die inligting wat ʼn mens sou wou hê, op die manier hoe jy dit wil sien. Die veranderlikes is regtig goed uitgedink. Die inligtingstelsel bied ʼn magdom inligting en verstellings asook Apple CarPlay en Android Auto wat puik met die voertuig se stembeheer integreer.

Die veiligheidstelsels is net so indrukwekkend soos die ontwerp. Daar is Mercedes se Active steering & lane assist, ʼn vlak 2 outonome stelsel, radarbeheerde spoedbeheer met noodrem. Daar is ʼn kop op vertoon (HUD) om te verseker dat ʼn mens nie jou oë van die pad afhaal nie, en jou foon is deur CarPlay of Android Auto geïntegreer, so jou aandag is regtig heeltyd op die pad.

Ons arriveer dan by nóg ʼn indrukwekkende deel van dié Merc. Die enjin. Die C300 is toegerus met ʼn weergawe van Merc se 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin. In dié spesifikasie bied die enjin 190 kW en 370 Nm. 100 km/h arriveer van stilstand in ʼn ratse 5,9 sekondes. Die C300 sal aanhou bene rek tot ʼn elektronies beperkte 250 km/h. Nie sleg vir ʼn gewone C-klas wat nie ʼn AMG‑embleem dra nie. Die sinergie tussen dié enjin en die 9-spoed‑outokas is ligjare verwyderd van die C180. Die C300 voel soos heeltemal ʼn ander kar en verbasend genoeg smag ek nie na ses silinders nie.

Die ritgehalte met die AMG‑pakket op kan effens hard wees waar die pad sleg raak, maar op mooi teer

Mercedes-Benz C300 (Foto: Verskaf)

loop hy lekker glad. Wat die harde ritgehalte wel bied, is fantastiese padhouvermoë. Die C300 boks ver bo sy gewig in terme van hantering. Die selfvertroue wat die onderstel bied gepaardgaande met die agterwielaandrywing is regtig lekker.

Die C300 is ʼn lieflike voertuig. Ja, dit is baie geld – maar vir dié spesifikasievlak en bougehalte is dit nie duur nie. Die spesifieke toetseenheid het ʼn elektroniese goggatjie gehad met sy stop/aansit‑stelsel wat die kar laat uitsny, maar ná dit afgeskakel is, het die C300 hom goed gedra. Dit is moeilik om die C-klas teen sy mededingers te vergelyk met die nuwe BMW 3-reeks wat oor drie weke in Suid-Afrika arriveer. Tot dán is die C300 regtig ʼn lieflike voertuig.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz C180 outo115 kW/250 Nm6.5 ℓ/100 kmR612 669
Mercedes-Benz C200 outo135 kW/280 Nm6.3 ℓ/100 kmR640 136
Mercedes-Benz C220d outo143 kW/400 Nm4.8 ℓ/100 kmR684 059
Mercedes-Benz C300 Avantgarde190 kW/370 Nm6.9 ℓ/100 kmR756 407

Die kompetisie lyk só:

BMW 330i M Sport190 kW/400 Nm6.4 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km‑waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R699 816
Volkswagen Arteon 2.0TSI 4Motion R-Line206 kW/350 Nm7.3 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R699 900
Lexus IS300 EX180 kW/350 Nm7.5 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplanR715 700
Jaguar XE 25t R-Sport184 kW/365 Nm6.3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km‑waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R789 736

Die mededingers is almal sterk. Hier gaan dit oor smaak. Maak ʼn kortlys en gaan kies die een wat jou hart roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Zack ·

Brendon—Dankie vir ‘n mooi verslag. Ek het dit baie geniet veral die veiligheids stelsels en performance van die klein 2.0 engin. Na jou padtoets van die Lexus UX250 wat ook ‘n 2.0 is kan ons sien dat die werksverrigting van die twee 2.0 engin lewengroot is. MB se tegnologie en ontwikkeling bly maar net aan die voorfront wat net Duitsers kan regkry.

Lou ·

Ek sou die C220d verkies. R70k goedkoper, ligter op brandstof en meer wringkrag vir elke dag se rygerief. Niemand mag wettig teen 250km/h ry nie en 5.9s van 0 tot 100 is net belangrik vir die jong manne wat wil jaag van robot to robot.

Zack ·

Stem saam met jou Lou. Ek ry tans die C250d en is baie tevrede. Ek dink nie hy staan terug vir die C300 nie. Ek soek maar nog steeds diesel vir sy wringkrag. Wat vir my uitstaan is sy sleepvermoee want hy het genoeg krag maar ek verkies nog steed ‘n bakkie as dit by sleep kom.

Johann cb ·

Uitstekende voertuig, tog net jammer die agterligte lyk nie meer na dié van die tweedeur koepee nie! Dit lyk nog té veel na die ou Hyundai Sonata van agter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.