Hedendaagse voertuie bederf ons tot in die afgrond met allerhande truuks en speelgoed wat 30 jaar gelede slegs in hiperluukse motors te vinde was. Dinge soos die driepunt-sitplekgordel was eens op ʼn tyd nie standaard nie. Volvo het in 1959 dié ontwerp aan die wêreld bekendgestel, en vandag het die meeste motors dit. Dinge soos elektriese vensters en lugreëling was ook voorbehou vir luukse motors. Lugsakke en ABS-remme is deur Mercedes-Benz se S-klas aan die mark gebring.
Daar is wel ʼn ander manier van dinge doen. Ek onthou hoe eenvoudig alledaagse rygoed nie te lank terug nie was. Die meeste van ons het al die een of ander interaksie met ʼn Nissan 1400 gehad, oftewel ʼn Datsun 1200, ʼn Volla, ʼn Mini en so aan. Dit was nie ontwerp om die vinnigste, grootste of veiligste te wees nie. Dit was ontwerp om kostedoeltreffend, eenvoudig en betroubaar te wees.
Teen die grein van die hedendaagse samelewing dink ek dat ek so pas presies so ʼn buksie ontdek het. Welkom aan die nuwe Changan Star-paneelwa. Dit is ʼn eenvoudige, piepklein bussie met ʼn reuse-laairuimte agter.
Die Changan word aangedryf deur ʼn gretige 1.3-viersilinderpetrolenjin wat 72 kW en 119 Nm deur sy agterwiele stoot. Mens gaan geen resies met hom wen nie, maar dit is nie waarvoor die voertuig ontwerp is nie. Die Changan is indrukwekkend lig op brandstof. Al wat die Changan ekstra het, is lugreëling. Daar is nie kragstuur, of elektriese enigiets nie. Is dit ʼn probleem? Nee, ek glo nie. Ek glo die voertuig is reg vir die doel waarvoor dit ontwerp is.
Waarvoor is die bussie dan? Ek glo die buksie is perfek om as kommersiële voertuig te dien. Ek reken dis nommerpas vir skoonmaakdienste, tuindienste en so aan. Daar is plek vir vyf mense en loonvrag. Sou mens die Changan koop vir persoonlike gebruik? Waarskynlik nie.
Die Changan is maklik om op te som. Dit is baie beter as wat ek verwag het. Dit is heeltemal eenvoudig, maar dit is juis wat dit aantreklik maak. Daar is nie allerhande dinge wat gaan breek nie. Ek sal wel byvoeg dat die veiligheid van die Changan nie waffers sal wees nie, daar is nie ABS of lugsakke nie, en dan voel sy prys vir my effe kwaai. Maar, as kommersiële voertuig dink ek jy gaan sukkel om beter te vaar vir dieselfde prys.
Die reeks lyk só:
Star 1.3 bakkie | 72 kW/119 Nm | 7.8 ℓ/100 km | R139 900 |
Star 1.3 Lux bakkie | 72 kW/119 Nm | 7.8 ℓ/100 km | R149 900 |
Star 1.3 dubbelkajuit | 72 kW/119 Nm | 7.2 ℓ/100 km | R154 900 |
Star 1.3 Minibus 5-sitplek | 72 kW/119 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R154 990 |
Star 1.3 dubbelkajuit Lux | 72 kW/119 Nm | 7.2 ℓ/100 km | R164 990 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg.
Die kompetisie lyk só:
Fiat Doblo Cargo 1.4 | 70 kW/127 Nm | 7.2 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg | R226 900 |
Toyota Avanza 1.3S Paneelwa | 70 kW/121 Nm | 6.1 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R230 400 |
Renault Kangoo Express | 77 kW/148 Nm | 7.7 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-waarborg 3 jaar/60 000 km-diensplan | R240 900 |
Volkswagen Caddy 1.6 Paneelwa | 81 kW/155 Nm | 7.3 ℓ/100 km | 2 jaar/ onbeperkte km-waarborg 3 jaar/60 000 km-diensplan | R276 600 |
Peugeot Partner 1.6 HDi | 66 kW/215 Nm | 5.7 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R279 900 |
Nissan NV200 Paneelwa | 81 kW/153 Nm | 7.2 ℓ/100 km | 6 jaar/150 000 km-waarborg | R301 500 |
Ford Transit Connect 1.5 TDCi LWB | 88 kW/270 Nm | 4.8 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R330 900 |
Ons moet egter onthou, die mededingers is almal slegs paneelwaens, en dat daar nie sitplek vir vyf sal wees soos met die Changan nie. Die ander het wel almal ABS en lugsakke. Die Changan is tog ʼn sterk R72 000 goedkoper as die naaste mededinger, dis heel indrukwekkend.
Nie baie dinge wat kan breek nie? Maar wat van die Enjin en ratkas ?
Ek dink hierdie voertuie van China is almal van plastiek gemaak.
Sal maar liewer verby hou.
Brendon, daar is net een probleem; kommersiële voertuie moet hou. Dink jy regtig die ding gaan hou? Ek is bereid om al my besittings op die spel te sit – hy gaan nie 200 000 km hou voordat groot meganiese probleme opgedoen word nie.
Ek dink dit is beter om ‘n paar rand by te sit om ‘n Toyota Avanza te koop. Hy behoort maklik 250 000 km te doen sonder probleme, en indien iets fout gaan dan sal jy onderdele kry.
Is so, maar n Avanza gaan wraggies nie baie lank joune wees nie!
Die chinese kom dump al hul kruiwaens met wiele en ‘n enjin in hier.
Geen ABS en géén lugsakke nie…hoop nie ek is ooit ‘n passasier in een van hulle.nie!
Want self sal ek nie een koop nie…
Ek is bevrees dat al die kommentaar hier dieselfde probleem gaan aanspreek nl. duursaamheid. Bou kwaliteit was nog nooit China se sterkpunt nie. Praktiese ergonomiese faktore ook nie. Die feit dat hierdie voertuig met lugreeling uitkom, maar sonder krag stuur en minstens sluitweer remme is vir my genoeg bewys hiervan. Die maatskappye wat hierdie voertuie na SA bring is ook maar grootliks geldwolwe. Kyk maar na Imperial met die Foton Tunland debakel. Die oomblik wat verkope bietjie taai raak, stop hulle die model en sit die verbruiker in tamatie-straat. Dan eerder n gebruikte voertuig met n beter reputasie.