Padtoets: Dís nou ʼn ware klein sportnutsvoertuig

Die Renault Duster (Foto: Renault)

Ek het op die oomblik ʼn appeltjie te skil met motorvervaardigers. Baie van hulle vat ʼn klein luikrug, sit hom op groot vering en probeer dan die voertuig verkoop as ʼn kruismodel of sportnutsvoertuig. In die Renault Duster se geval is dit ʼn ware klein sportnutsvoertuig – vierwielaandrywing en al.

Die Duster kom eintlik van Roemenië af. Dit is aanvanklik ʼn Dacia Duster – en Dacia behoort aan Renault. Renault bemark van Dacia se produkte in prys sensitiewe markte as Renaults. Die Kwid, Sandero en Duster is almal Dacia-produkte.

Al drie modelle doen verskriklik goed in die Suid-Afrikaanse mark vir een spesifieke rede … dit bied puik waarde vir geld. In Suid-Afrika betaal ons regtig duur vir ons voertuie teenoor ander lande, weens invoerbelasting ensovoorts.

Die Renault Duster (Foto: Renault)

Die nuwe Duster is vir my ʼn netjiese voertuig. Geensins ʼn lelike eendjie nie. ʼn Tawwe aangesig groet jou voor jy inklim. Die binneruim is lekker groot vir dié klas voertuig, en heel eenvoudig uitgelê. Die opgekikkerde weergawe het ʼn baie mooi stuurwiel teenoor die vorige model. Al die benodighede is daar: van navigasie, Bluetooth, elektriese vensters en spieëls, multifunksionele stuurwiel met kontroles vir spoedbeheer tot die klankstelsel. Een ding wat op ons toetsmotor teleurstel is die leersitplekke wat ʼn opsionele ekstra is. Die lap sitplekke bied baie beter steun as die leer weergawe en ek glo die lap sal meer duursaam wees.

Die Duster voer nog ʼn truuk is sy mou. Dit is Renault se gewilde 1,5 viersilinder-turbodieselenjin. Dié enjin is verreweg die fabrikaat se gewildste enjin reg oor die wêreld. Die enjin bied 80 kW en 240 Nm wringkrag. Die 0 – 100 km/h syfer van 12 sekondes is nie indrukwekkend nie, maar die brandstofverbruiksyfer van ʼn skraal 4.8 ℓ/100 km is bitter goed. Die 6-spoed ratkas is gerat vir veldry, en in die dorp kan die bitter kort eerste rat frustrerend raak. Ek het naderhand net in tweede weggetrek.

Die Renault Duster (Foto: Renault)

Nog ʼn troefkaart van die Duster is sy ritgehalte. Omdat hy geveer is vir grondvryhoogte en veldry is sy vering lekker sag. Nie só sag dat die bakrol belaglik raak nie, maar sag genoeg om slegte paaie met uiterse gemak aan te durf. Padhouvermoë is heel goed vir wat dié voertuig sal moet doen. Die vierwielaandrywingstelsel kom ook uit die Renault/Nissan-alliansie. Dié stelsel vind sy wortels in die Nissan Xtrail – en daarvan het daar miljoene oor die jare al verkoop.

So, indien mens ʼn redelik ruim sportnuts soek, wat nie meer bek as binnegoed is nie – wat eintlik regtig modder en sand kan aandurf is die Duster beslis ʼn opsie. Sy tweenaaste mededingers sal die Fiat Panda en Suzuki Jimny wees. Albei daai voertuie is regtig piepklein. Indien ʼn mens vir die Duster ʼn mededinger soek, gaan mens moet kyk na medium grootte sportnutsvoertuie soos die Xtrail, Rav, Tiguan en so aan – en hulle vierwielaangedrewe modelle is almal R200 000 duurder as die Duster. Puik waarde vir ʼn oulik buksie.

Die reeks lyk só:

Duster 1.6 Expression77kW/ 148Nm7.6ℓ/100kmR244 900
Duster 1.6 Dynamique77kW/ 148Nm7.6ℓ/100kmR264 900
Duster 1.5dCi Dynamique80kW/ 240Nm4.8ℓ/100kmR284 900
Duster 1.5dCi Dynamique outo80kW/ 240Nm4.8ℓ/100kmR304 900
Duster 1.5dCi Dynamique 4WD80kW/ 240Nm5.2ℓ/100kmR309 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000km waarborg en 3 jaar/ 45 000km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Thar 2.5CRDe79kW/ 247Nm7.5ℓ/100km2 jaar/ 50 000km waarborgR222 995
Suzuki Jimny 1.363kW/ 110Nm7.2ℓ/100km5 jaar/ 200 000km waarborg

4 jaar/ 60 000km diensplan

R263 900
Fiat Panda 0.9 TwinAir 4×4 Cross66kW/ 145Nm4.9ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

3 jaar/ 100 000km diensplan

R270 900
Suzuki Vitara 1.6GL+ AllGrip86kW/ 151Nm5.8ℓ/100km5 jaar/ 200 000km waarborg

4 jaar/ 60 000km diensplan

R338 900

Die Renault Duster (Foto: Renault)

Die Renault Duster (Foto: Renault)

Die Renault Duster (Foto: Renault)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ella ·

Ek besit al my 2de Japanese “klein”‘sportnutsvoertuig, outomaties die keer.
Het al baie gelees “net die voertuig vir ma’s om opsypaadjies te ry”
Met myne het ek die Weskusroete en duine gery. Saam met n vriendin met haar selle soort motor Transkeiroete gery.
My tipe voertuig het nooit die krediet gekry wat jy verdien nie.
Bly daar word nou meer moeite gedoen om die Duster se lof te besing.

Dirk ·

Ella, ek weet nie of jy al ooit in een gery het. Indien nie, ek kan getuig dat dit gemors is. Die deurpanele kom los, die voertuig trek stof, en sy 4×4 vermoe is pateties (ja, ek erken jy betaal nie die geld van ‘n land cruiser nie). Die ergste van als, ek dink nie hy gaan 120 000km behaal sonder ‘n groot probleme nie. Alles voel net baie goedkoper binne die voertuig. Dit gesê, daar is ‘n rede hoekom jy so goedkoop betaal.

Japanese voertuie is in ‘n ander klas. Geen vervaardiger se voertuie hou so lank soos ‘n Toyota of Honda s’n nie. Dit is juis my definisie van bougehalte; nie hoe’ hy binne voel nie maar eerder hoe lank hy hou.

Ironies ·

Dirk, Jy verwar seker die Duster met die nuwe Hilux as jy die feite so opnoem

Dirk ·

Hehe, nee die Duster en Hilux het dit net in gemeen. Behalwe, die Hilux sal 400 000 km hou en sy vermoë om die rowwe terein te hanteer is aansienlik beter. ?

Tommie ·

Een van my vriende het die vorige Duster besit. Hy het weer net plesier met hom gehad. Geen probleme hoegenaamd nie. Die enigste rede hoekom hy hom verkoop het, was omdat sy gat vir ‘n Jeep Wrangler gejeuk het.

Motors is volgens my baie “smoke & mirrors”. Vat enige “gewone” motor/bakkie, en daar sal mense wees wat dink dis ‘n goeie model en daar sal mense wees wat dink dis ‘n slegte model. So ek steur my nie veel aan ander mense se opinies nie, want dis al wat dit is, iemand se opinie. Niks meer nie, niks minder nie.

Lief my Buksie ·

Ek sal nie baie maklik weer ń ander kar koop nie. My diesel Duster soek een maal per maand ń vol tenk, het hope krag en het meer as genoeg pakplek om maandelikse inkopies en nog ń stootkarretjie in te laai. Beslis nie gemors nie…

Piet Pompies ·

Ons besit nog al die jare VW en Toyota voertuie, hierdie was nog altyd persoonlike keuses. Net so glo ek elke motor eienaars verskil van mekaar en so ook hul keuses van motors. Die Duster was al op ons koop lys en teen net oor R300K vir ‘n 4×4 model gaan hy beslis sy markaandeel kry. Ons skaal tans af met motors want aftrede is op hande. VW het die nuwe Polo Vivo Maxx bekendgestel teen R225K en hy is op ons kooplys. SA is gelukkig om so ‘n groot keuse van nuwe voertuie, niemand kan eintlik kla. Die goedkoper mark gaan beslis nog groei en die duurder vervaardigers sal hul sokkies moet optrek.

Paul ·

Ek verstaan nie hoekom enigiemand die Polo Vivo Maxx sal wil koop nie. Al wat dit is, is ‘n gewone Polo Vivo met plastiek buite vasgeplak, groter wiele (wat beteken die bande het ‘n laer profiel en dis minder prakties) en ‘n “lift” van 15 millimeter (nie eers een duim nie). O, en plakkers buite op wat sê “Maxx”.
Dis niks beter as die Polo Vivo Highline nie, maar jy betaal R10 000 meer.
Koop eerder ‘n Vivo Highline en “lift” dit dan self met 15 millimeter of meer, of los dit net op die normale hoogte, want 15 millimeter beteken niks. Baie goedkoper, en jy kry boonop die meer praktiese, kleiner wiele.

Piet Pompies ·

Paul, verwys na enige ander voertuig tans beskikbaar op die SA motor mark wat jou dieselfde waarde bied as die Polo Vivo Maxx teen R225 000.

Paul ·

Ek het mos reeds genoem dat die Polo Vivo Highline beter waarde vir geld is.

TvdM ·

My Toyota se deure se panele trek los na 5jaar. Ek vermoed, soos Dirk sê, hulle word deur Dacia vervaardig.

Johann ·

Ek ry ook n Renault Duster Diesel 4×2 en was verlede jaar met hom Botswana en Namibia toe ek het al die pad saam met n Toyota fortuner 4×4 gery en was nie een enkele keer “geresque”nie self op die 4×4 roetes ,ons het net die bande afgeblaas en gery
Sal nie weer n ander voertuig koop nie,my brandstof was net mooi die helfte van wat die fortuner gebruik het.

Frik ·

Ek het n 2015 Duster 4×2 geen probleme nie diesel verbruik fantasties en ons is baie tevrede .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.