Padtoets: Honda se HR-V verbaas

Honda HR-V (Foto: Verskaf)

Ek het onlangs vir die eerste keer Honda se HR-V gery. Hy is so twee jaar gelede bekendgestel en ek kon nooit regtig sien waar hy inpas nie. Nou dat ek met hom gery het maak dit vir my meer sin.

Die HR-V speel in die selfde spasie as Nissan se Qashqai. Dit is ʼn kruismodel, iets wat deesdae uiters gewild is vir mense wat nie net ʼn plat luikrug wil hê nie, maar ook nie ʼn groot sportnutsvoertuig nie – iets net so in die middel.

Honda HR-V (Foto: Verskaf)

Honda sukkel al jare om ʼn stigma te skud dat dit “oumens-karre” is. Die HR-V is vir my ʼn skuif in die regte rigting, maar tóg verloor hulle nie die eienskappe wat die meer ervare mense in terme van ouderdom so trek nie. Dis nie ʼn lelike eendjie nie, maar sy ontwerp is vir my effe konserwatief. Nissan se Qashqai is vir my ʼn baie mooier voertuig.

Die binneruim is ergonomies uitgelê en bly eenvoudig. Alles is waar dit hoort en die HR-V se lugreëling werk fantasties. Die outomatiese ligte en ruitveërs werk lekker.

Die inligtingstelsel pas wel nie vir my by die res van die voertuig nie. Dis ʼn na-mark eenheid en Honda kon beslis hier beter gedoen het met ʼn raakskerm wat beter integreer. Beenruimte vir agterste passasiers is regtig lekker groot, en die kattebak nie te versmaai nie.

Die HR-V ry met ʼn atmosferiese 1,8 viersilinder. Die enjin bied 105 kW en 172 Nm. Nie sleg nie. Ek is nog altyd ʼn groot ondersteuner van Honda se atmosferiese enjins met VTEC. Hulle is lief vir toere en kan ook net lekker rustig loop sonder om swaar te wees op brandstof.

Een ding wat nie vir almal gaan wees nie is die kombinasie van die atmosferiese enjin en die palwissel-transmissie. Dis beslis nie die slegste CVT wat ek al teëgekom het nie, maar as ʼn mens wil verbygaan of moet vinnig spoed optel dan klim die toere tot 6 500 r/min en hy raas. Honda het wel die transmissie geprogrammeer sodat hy ratwisselings na-aap, maar dit klink steeds aardig.

Ritgehalte is lekker sag in die HR-V. Sy bande het ʼn goeie profiel en dus loop

Honda HR-V (Foto: Verskaf)

hy nooit stamperig nie. Padhouvermoë is goed, nes ʼn mens verwag van ʼn Honda – al gaan meeste HR-V bestuurders nooit só ry nie. Ek het ʼn paar grondpaaie aangedurf op pad na ʼn troue toe in die Magaliesberge, en die HR-V gedra hom baie goed.

Die HR-V is vir my ʼn lekker voertuig, maar die mededingers is baie sterk in dié segment. Kruismodelle soos die Nissan Qashqai kan nie ignoreer word nie en die Subaru XV se vierwielaandrywing sit hom in ʼn klas van sy eie.

Die reeks lyk só:

Honda HR-V 1.5 Comfort CVT88 kW/ 145 Nm6.2 ℓ/ 100 kmR354 900
Honda HR-V 1.8 Elegance CVT105 kW/ 172 Nm6.8 ℓ/ 100 kmR419 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 4 jaar 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara 1.6 GL+ outo86 kW/ 151 Nm5.9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R337 900
Hyundai Kona 2.0 Executive110 kW/ 180 Nm7.2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R399 900
Subaru XV 2.0i115 kW/ 196 Nm5.9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar 75 000km omvattende instandhoudingsplan

R400 900
Nissan Qashqai 1.2T Acenta Plus auto85 kW/ 165 Nm6.2 ℓ/ 100 km6 jaar /150 000 km waarborg

3 jaar/ 90 000 km diensplan

R418 900

Tussen dié mededingers kies ek die Hyundai Kona of Subaru XV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

A ·

Ek ry ‘n Honda HR-V vanaf 2015 – die eerstes wat uitgekom het. Ek is baie gelukkig met myne. Ry soos ‘n droom in verkeer met genoeg krag om verby te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.