Padtoets: Is dié JMC die perfekte werkesel?

Die JMC Carrying SWB (Foto: JMC)

Maroela Media het onlangs ʼn behoefte aan ʼn klein trokkie gehad sodat ons meubels en gereedskap kon rondkarwei vir ons buitebioskoop by die Botaniese Tuin. ʼn Klein bakkie sou ook nie die mas opkom nie, maar ek het nie ʼn C-rybewys nie, so moes ook versigtig wees vir die maksimum toelaatbare gewig van my B-lisensie. Ek mag slegs ʼn voertuig met ʼn GWM van 3 500 kg bestuur.

Ek soek toe rond en onthou dat JMC vir my in ʼn stadium ʼn lorrie aangebied het, maar toe het ek geen nut daarvoor gehad nie. Ek dink toe, hier is die geleentheid. JMC het dadelik ingestem om vir ons een te stuur. Die lorrie is ʼn JMC Carrying SWB. Dié JMC het ʼn loonvrag van 1.6 ton en ʼn groot laaibak met valkante. Dit kan mos werk.

Die lorrie is by die kantoor afgelewer, en ek was bly toe ek sien dit is ʼn egte klein trok. Nie ʼn mamma-wa wat randstene moet klim nie. Hier is geen fieterjasies nie, net ʼn kajuit met duursame materiale, groot spieëls om mooi te kan sien, ʼn draadloos en lugreëling. Dis dít.

JMC Carrying SWB (Foto: JMC)

Die JMC het ʼn sterk 2.8 viersilinder-dieselmasjien wat 84 kW en 235 Nm bied. Dit is aansienlik sterker as sy Hyundai- en Kia-mededingers. Die JMC voel ook baie lig op brandstof en JMC beweer 12 km/ℓ – dit is heel goed vir so ʼn trokkie. Die ritgehalte as die lorrie leeg is, sal jou skelet skade aandoen, maar sodra jy ʼn paar dinge oplaai, dan ry hy piekfyn.

Die eenheid wat by die kantoor afgelaai is, was spiksplinternuut. Hy’t skaars ʼn paar honderd kilometer afgelê. Daar was ʼn vreemde speling op die stuurkolom, maar dit kan moontlik wees dat hy net weer moet gaan vir wielsporing. Ek moet ook bieg dat ek terselfdertyd ʼn MINI op toets gehad het waarvan die stuurwiel onnatuurlik sensitief was, so ek moes dit seker net gewoond raak.

Die lorrie is gebou om te werk. Jy kan voel hy is hard en gebou om te hou. Die enjin klink vir my presies soos die ou Isuzu KB 280-enjins … en hulle ry nou nog. Die JMC sal ook sirkels om sy kompetisie ry in terme van krag. As ek nou ʼn lorrie moes koop vir my besigheid, sou ek beslis na dié JMC Carrying SWB kyk.

Die reeks lyk só:

Carrying SWB Chassis StdR217 880
Carrying SWB Dropside StdR231 880
Carrying SWB Dropside LuxR239 880
Carrying SWB Tipper StdR264 880
Carrying SWB Tipper LuxR272 880
Carrying SWB VanBody StdR251 880
Carrying SWB VanBody LuxR259 880
Carrying SWB King Cab Dropside LuxR241 880
Carrying SWB King Cab Tipper LuxR274 880

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/90 000 km-diensplan asook 24-uur-padbystand.

Die kompetisie lyk só:

Hyundai H-100 2.6D deck aircon58 kW/167 Nm10.2 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

3 jaar/60 000 km- diensplan

R279 990
Kia K2700 2.7D workhorse dropside aircon62 kW/168 Nm10.7 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/60 000 km- diensplan

R276 995

Die mededingers het hulself keer op keer al bewys. Die Kia en Hyundai is uiters gewild en betroubaar. Die JMC kan 1.6 ton dra teenoor die kompetisie se 1.3 ton. Ek kan nie verslag lewer oor die JMC se betroubaarheid nie, maar die krag wat die enjin bied, swaai die argument vir my.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiepie ·

Terwille van vergelyking, brandstofverbruik van 12km/Lt skakel om na 8.3Lt/100km. Hy is dus heelwat ligter op brandstof ook as sy mededingers.

Terwille van korrektheid, ‘n voertuig word afgelewer tensy dit van ‘n leunwa afgelaai word. :-)

Brendon ·

Dagsê Kiepie,

Baie dankie vir jou kommentaar, dit word opreg waardeer. Die taalfout is reggestel.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Johan ·

Hy klink soos die ou Isuzu KB280DT want hy gebruik dieselfde enjin. Isuzu Japan het aandele in JMC China. (JMC is egter 100% Chinees)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.