Padtoets: Is innovering genoeg?

Peugeot se 3008 (Foto: Peugeot)

Die middelslag-sportnutsvoertuigsegment bars uit sy nate. Dié voertuie het die sedanmotor vervang as stapelkeuse vir die meeste Suid-Afrikaners wat iets groters as ʼn luikrug wil hê. ʼn Nuweling in dié segment is Peugeot se 3008.

Al is die 3008 nie revolusionêr in sy benadering tot die sportnutsvoertuig nie, bied hy wel ʼn aantreklike ontwerp en ʼn moderne binneruim. Party kopers soek iets unieks, nie net die gewone ou vervelige rygoed nie. Die Franse is baie goed daarmee om ʼn sekere joie de vivre in hul karre in te bou, en die 3008 het presies dít.

Die binneruim voel groter as wat die voertuig van buite af lyk, en die kajuit is regtig luuks. As jy ʼn paar minute neem om te sien wat is waar, en watse knoppies doen wat – is jy vinnig tuis. Die instrumente is besonder modern en kan verpersoonlik word nes jy dit wil hê. Daar kan ʼn magdom verskillende inligting uitgebeeld word. Iets waaraan ek sukkel om gewoond te raak, is die piepklein stuurwiel. Mens kyk bo-oor die stuurwiel vir die instrumentasie, en dit voel volksvreemd. Die sitplekke is lekker groot en baie gemaklik. Beenruimte vir agtersittendes is groter as wat ek by sommige van dié tipe voertuie al teëgekom het, en dit is nie ten koste van kattebakspasie nie.

Peugeot se 3008 (Foto: Peugeot)

Die 3008 word deur Peugeot se 1.6 THP-viersilinderturbopetrolenjin aangedryf, aangevul deur ʼn outomatiese ratkas. Die enjin bied 120 kW en 240 Nm, nie te versmaai nie, en dit maak van die 3008 pure reisgenot. Hy kan lig wees op brandstof, maar indien die nood druk, kan hy sy sokkies ook optel en hol.

Dié Peugeot 3008 is gekroon as Europese Motor van die Jaar, en was ʼn Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-finalis. Dit is egter bewys dat dit ʼn lieflike ryding is met uitstekende afwerking en gehalte met innoverende dinge (of foefies) soos Peugeot se i-Cockpit. i-Cockpit fokus op sensoriese stimulering van sig, gehoor, aanraking deur middel van slim beligtingskemas, ʼn goeie klankstelsel, sitplekke met masseerfunksies ingebou en dan die enjinklank wat in die kajuit gespeel word deur die klankstelsel in sportmodus. So, innovering of foefie – jy kan maar besluit.

Peugeot se 3008 (Foto: Peugeot)

Ek het egter een klagte met die 3008. Daar is nie tans ʼn allewielaangedrewe model in Suid-Afrika beskikbaar nie. Dus verskil ek effe van die manne wat met hul eie geld praat. Ek sien nie heeltemal die nut van ʼn voorwielaangedrewe sportnutsvoertuig met goeie grondvryhoogte nie. Dan glo ek dat ʼn groot luikrug of middelslag-sedan ʼn beter opsie is, maar die publiek wil hoog sit en ʼn goeie uitsig hê oor die verkeer, al is dit ten koste van brandstofverbruik.

Die 3008 is maklik om op te som. Dit is ʼn pragtige motor met ʼn magdom luukshede om jou mee te betower. Al is dit nie my koppie tee nie, is dit pragtig vervaardig met moderne materiale. Peugeot bied ʼn billike waarborg en diensplan, en die intreemodel is goed geprys. Verdere bewys van Peugeot se toewyding aan die Suider-Afrika-mark is die fabriek wat hy tans in Walvisbaai laat bou.

Die reeks lyk só:

3008 1.6T Active121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR414 900
3008 2.0HDi Active110 kW/370 Nm5 ℓ/100 kmR449 900
3008 1.6T Allure121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR459 900
3008 2.0HDi Allure110 kW/370 Nm5 ℓ/100 kmR499 900
3008 1.6T GT Line121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR519 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Renault Kadjar 96kW TCe Dynamique outo96 kW/205 Nm5.5 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R399 900
Ford Kuga 1.5T Trend outo132 kW/240 Nm6.9 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/80 000 km-diensplan

R427 900
Volkswagen Tiguan 1.4TSI Comfortline outo110 kW/250 Nm6.1 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R489 900

Ek’t die Peugeot slegs met sy turboaangejaagde, outomatiese voorwielaangedrewe mededingers vergelyk. Tussen dié mededingers prys die Peugeot goed, en sy spesifikasievlak beïndruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.