Padtoets: Is Trailblazer steeds ʼn alternatief?

Die Trailblazer LTZ Z71 (Foto: Chevrolet)

Maroela Media het ʼn beurt gehad om Chev se duurste Trailblazer te toets, voor hulle besluit het om uit die land  te verkas. Mmm. Nou hoe nou? Is die Trailblazer moontlik steeds ʼn opsie? Dalk teen die regte prys? Kom ek verduidelik.

Daar is vier sportnutsvoertuie tans op die mark wat hulle oorsprong by bakkies het. Dié sportnutse het almal nog ʼn leerraam onderstel. Hulle het almal nog soliede agterasse. Dit maak dié sportnutse rateltaai en gewoonlik heel billik in die veldry-departement.

Die vier waarvan ek praat is Ford se nuwer Everest, Toyota se Fortuner, Chevrolet se Trailblazer en die Mitsubishi Pajero Sport wat binnekort vervang gaan word met ʼn splinternuwe model. Ons het ongelukkig nog nie ʼn beurt gehad om die Everest te toets nie, maar ons ken die Fortuner goed – en ons hou van hom. Die Trailblazer is onlangs opgeknap – en die syfers lyk belowend.

Die Trailblazer LTZ Z71 (Foto: Chevrolet)

Die Trailblazer is ʼn lekker groot wa. Daar is sewe sitplekke, maar min kattebak indien sitplek ses en sewe oopgevou is, maar al drie dié voertuie het dieselfde probleem. Die res van die binneruim is die gewone groot sportnuts-uitleg. Drie sitplekke in die middelste ry en natuurlik twee voor en twee agter.

Die ontwerp van die Trailblazer is aangenaam. Die LTZ Z71, die een wat ons getoets het, is die kwaaiste model in die reeks en spog met 144 kW en 500 Nm wringkrag. Die model wat ons getoets het, was reeds mooi ingeloop, maar ek weet nie waar raak van daai wringkrag weg nie. Ek glo dit is weens ʼn lui wringkragomsitter dat die Trailblazer nie so sterk voel soos wat papier aandui nie. Ek sou graag die enjin in ʼn handrat wou toets.

Die ritgehalte is normaal vir die klas voertuig en die Trailblazer kan ʼn redelike gewig dra en sleep, al is ek nie oortuig dat die Trailblazer se wringkragomsitter die lekkerste sleepgereedskap gaan wees nie. Die Z71 is ʼn volledige 4×4 model met laestrek en sy 221 mm grondvryhoote nie te versmaai nie, al klop die Fortuner hom met 279 mm.

Die Trailblazer LTZ Z71 (Foto: Chevrolet)

So laat die penarie met GM en Chev se Trailblazer my aan die kopkrap. Is dit ʼn goeie idee om nou ʼn Trailblazer aan te skaf? Teen die gelyste prys van R634 500 vir die Trailblazer 2.8D 4×4 LTZ Z71? Nee. Die Everest 3.2 XLT is net-net duurder teen R639 900 en ʼn Fortuner 2.8 GD-6 4×4 outo effe goedkoper teen R617 900. Die nuwe Pajero Sport word in September bekendgestel so ons hang aan ʼn tak vir daardie een.

Indien ʼn GM-handelaar ʼn reuse-aflsag bied, dan is dit wel ʼn opsie. Onthou – Isuzu gaan die Trailblazer vir jou kan diens en onderhou, maar gaan die waarde nog daar wees wanneer jy hom wil inruil op iets nuwer oor ʼn paar jaar?

Die reeks lyk so:

Trailblazer 2.5D LT120 kW/ 380 Nm7.6 ℓ/100 kmR458 400
Trailblazer 2.5D LT outo120 kW/ 380 Nm8.9 ℓ/100 kmR476 500
Trailblazer 2.8D LTZ144 kW/ 500 Nm9.5 ℓ/100 kmR562 800
Trailblazer 2.8D 4×4 LTZ144 kW/ 500 Nm9.5 ℓ/100 kmR624 300
Trailblazer 2.8D 4×4 LTZ Z71144 kW/ 500 Nm9.5 ℓ/100 kmR634 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 120 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Pajero Sport 2.5Di-D 4×4 Shogun outo131 kW/ 350 Nm8.5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R589 900
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 outo130 kW/ 450 Nm8.5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R617 900
Ford Everest 3.2 4WD XLT147 kW/ 470 Nm8.2 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R639 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Die Trailblazer kan maar gaan slaap! Hy’t o.a. nie ‘n agterste ewenaarslot (diff-lock) nie, en sy kloukrag-beheer (traction control) sukkel maar in die veld, en dit lei tot ‘n irriterende “spin-en-spartel” situasie op ‘n 4X4 roete…

Voer daarby sy vrot inruilwaarde, en die Everest en Fortuner is die logiese keuses en puik voertuie daarby!

Vaarwel Chev, skoert nou!!!

Chris Ws ·

Ons het Chev nie nodig in die land nie want daar is oorgenoeg BETER voertuie van ander fabrikate om van te kies.Die persoon wat nou na dese ‘n Chev produk aanskaf is nie intellegent nie!Totsiens General Motors,ons gaan jou NIE mis nie.

MTSteyn ·

Maak eers weer seker oor die korrekte spelling van daardie term wat jy gebruik om ander te verkleineer.

Verder is dit te betwyfel of General Motors (3de grootste motorvervaardiger in 2015 in die wereld!) Suid-Afrika “gaan mis”. Wat soos ‘n paal bo water staan, is dat die Oos-Kaap werkers wat binnekort sonder ‘n inkomste gaan sit, GM baie gaan mis!

Ice ·

Mense wat ‘n Fortuner ry, kan nie ‘n Trailblazer bekostig nie. Ek weet persoonlik dat wanneer die ouens op ‘n saamtrek saam met die ou GM is wil die Toyota ouens die Trailblazer ry omdat hy so lekker ry en baie krag het. Ek kan self nie een bekostig nie. Maar die waarborge spreek vanself – Toyota het die plot verloor, kyk net na hulle kort waarborge. Ek het self ‘n Forunter gehad, maar dis ‘n veiligheids risiko en onveilig op die pad. Die Trailblazer is lekker vas op die pad. Beste waarde vir geld. Ek weet ook nie waar hierdie o vandaan kom met waar die krag verlore gaan nie – jy kan dit sê van die Ford – 500nm maar jy voel dit nêrens nie. Ek het self ‘n Fortuner gehad maar ontslae geraak van die ding omdat hy net wil ro;

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.