Padtoets: Isuzu verander KB na D-Max

Die Isuzu D-Max. Foto: Verskaf

Ná die vertrek van GM uit Suid-Afrika het Isuzu ʼn reusetaak gehad. Hoe gaan hulle die fabriek en al die handelaars aan die lewe hou met baie minder voertuie om te verkoop?

Isuzu het herstruktureer en al hul handelaars het verskeie entrepreneur-idees toegepas om aan die lewe te bly. Eerstens het Isuzu die MU-X bekendgestel en nou het hulle ook die KB met die internasionale naam belyn … die D-Max.

Is dit net ʼn naamsverandering? Nee. Daar is  ʼn spoggerige nuwe 6-spoed- outomatiese ratkas wat regtigwaar baie beter is as die 5-spoed-voorganger. Dit maak van die D-Max ʼn baie beter langpadgenoot. Die nuwe raakskerminligtingstelsel werk lekker gemaklik en is met CarPlay en Android Auto toegerus.

Die ontwerp van die D-Max is vir my regtigwaar mooi. Dit is eenvoudig en netjies sonder om pieperig te lyk.

‘n Kykie na die binneruim van die nuwe Isuzu D-Max. Foto: Verskaf

My enigste kwaal met die vorige KB, afgesien van sy ratkas, was die binneruim. Dié probleem is tot ʼn mate aangeraak met ʼn bietjie leer op die paneelbord en teen die deurpanele wat die binneruim wel opkikker, maar dit is steeds nie in die Ranger of Hilux se liga nie.

As mens in ag neem dat die Isuzu D-Max 3.0 TD 4×4 LX- outo dubbelkajuit teen R615 500 slegs R22 000 goedkoper is as ʼn 2.8GD-6 4×4 Raider- outo Hilux, is die binneruim in die Isuzu vir my nie goed genoeg nie.

Die Isuzu se 3.0-turbodieselviersilinderenjin bied 130 kW en 380 Nm. Die nuwe 6-spoed-outo verander die Isuzu se karakter heelwat. Waar dit voorheen baie raserig was en lui kon voel, is dit heelwat beter. Die D-Max luier teen net oor die 2 000 r/min teen 120 km/h. Die D-Max is ook nou heelwat ligter op brandstof as wat hy was met die vorige ratkas.

Die D-Max is ʼn lekker harde bakkie. Hy dra vrag met ʼn glimlag en voel tog tuis op die teerpad sonder vrag. Die ritgehalte is maar bakkie – so, as dit pla, sou jy nié in die klas gekyk het in die eerste plek nie.

Die stuur op die Isuzu is vir my effe traag en kon vinniger en meer direk gewees het, maar mens raak dit tog gou gewoond.

Padhouvermoë is relatief. ʼn Dubbelkajuit is nie gebou om te jaag nie – maar al raak mens oorywerig met die bakkie kan hy tot ʼn punt sy man staan … en daai punt is baie verder as wat die meeste mense verwag.

Die 2.5 kan 2 ton sleep en die 3.0 haal 2.9 ton. Dit is nie te versmaai nie – maar tóg minder as al die ander mededingers. Die D-Max het verskriklike sterk mededingers in dié klas bakkies. Ek hou baie van die Isuzu, asook die betroubaarheid wat die handelsmerk kan bied – maar die ander produkte is te sterk in dié prysklas. Ek dink hy gaan maar sukkel.

 Die reeks lyk só:

Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit100 kW/320 Nm7.7 ℓ/100 kmR337 500
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit Hi-Rider100 kW/320 Nm7.7 ℓ/100 kmR393 700
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider100 kW/320 Nm7.7 ℓ/100 kmR430 800
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit 4×4 X-Rider100 kW/320 Nm7.9 ℓ/100 kmR479 600
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit LX130 kW/380 Nm7.7 ℓ/100 kmR530 000
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit LX outo130 kW/380 Nm7.5 ℓ/100 kmR545 200
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX130 kW/380 Nm8.0 ℓ/100 kmR600 700
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX outo130 kW/380 Nm7.8 ℓ/100 kmR615 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider outo130kW/ 450Nm8.5ℓ/100km3.5 t3 jaar/100 000 km-waarborg

9 dienste ingesluit

R637 500
Volkswagen Amarok 2.0BiTDI dubbelkajuit Highline 4Motion132kW/ 420Nm8.5ℓ/100km3.2 t3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R646 000
Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 LE outo140kW/ 450Nm7.0ℓ/100km3.5 t6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R647 500
Ford Ranger 3.2 dubbelkajuit 4×4 Wildtrack outo147kW/ 470Nm9.0ℓ/100km3.5 t4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R655 900

Al die mededingers is ongelooflik sterk. As mens bloot ʼn luukse leefstylbakkie soek, dink ek die Wildtrack is die antwoord. As mens ʼn werkperd soek, gaan die Hilux en die Isuzu die titel opraap. Gaan kyk na almal, jy gaan van een hou … koop hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hennie Theart ·

Ek is baie gelukkig met my Isuzu. Hy mag miskien nie die ander voertuie se luukse dinge he nie, maar dit is waarde vir geld. Ek het ‘n bakkie gekoop en nie ‘n motor wat lyk soos ‘n bakkie nie.

Vraagteken ·

Hi Brendon, dalk kan jy meer inligting verskaf gebasseer op die volgende. Ek lees GM is besig om te onttrek uit verskeie lande, insluitend Engeland, Duitsland, Rusland en Australie (ja, die land wat vir ons die Lumina gegee het). Ek weet GM is ook besig om ‘n paar van hulle aanlegte toe te maak in die VSA. Wat is die rede daarvoor? En indien so, hoe sal al die vervaardigers van GM beinvloed word? Is dit slim om nog ‘n Isuzu te koop?

Rupert Ashford ·

Hallo Vraagteken. GM skaal af op party plekke, maar maak darem nie toe nie. Hulle onttrek ook darem nie uit bv Australie nie, maar hulle fabriek (as ook Toyota en Ford sin) het toegemaak as gevolg van die beeindiging van regeringsubsidies. En Isuzu is nie deel van GM nie, maar verkoop nou hulle voertuie self. GM verkoop ‘n ander dubbelkajuit onder die GM handelsmerk.

Vraagteken ·

Hi Rupert, daar was gister ‘n publikasie op die Lumina SA club se webwerf geplaas waar hulle alles wat ek genoem het, in oorsig bespreek. Die Holden, oftewel die Lumina, word nie meer in Aus ontwerp of vervaardig nie. Die gevolg, sy verkope is af met 60% in Aus. Baie mense in Aus is baie bekommerd. En soos ek sê, hulle is besig om baie van hulle aanlegte toe te maak.

Groetnis

Brendon ·

Dagsê Vraagteken,

Baie dankie vir jou kommentaar. Mary Barra – GM se uitvoerende hoof is al ʼn geruime tyd besig met ʼn verskriklik aggressiewe strategie begin om aanlegte toe te maak wat nie winsgewend is nie. Sy het ook uit lande uit getrek waar daar óf nie wins óf groot verliese is. Sy het ʼn paar jaar terug voorspel dat die Amerikaanse voertuigmark ʼn groot resessie gaan beleef. Indien dit wel gebeur sou GM dit nie oorleef nie. So – Mary Barra se redenasie is, sny af alles wat nie geld maak om die groter maatskappy te beskerm as die resessie aanbreek. Die fabrieke wat in die VSA gesluit word is fabrieke wat sedanmotors vervaardig wat nie meer ʼn groot aanvraag het nie. Daai fabrieke het ʼn kapasiteit van 900 000 voertuie per jaar, maar vervaardig tans slegs 300 000. Daar sal nou fokus geplaas word op die fabrieke in die VSA wat sportnutsvoertuie vervaardig. Daar lê ʼn moeilike tyd voor vir die Amerikaanse vervaardigers weens Trump se belasting op die invoer van goedkoper staal uit Sjina.

Isuzu het niks met GM uit te waai nie, en was slegs ʼn ooreenkoms in Suid-Afrika. Isuzu het reeds miljoene belê in Suid-Afrika om die fabrieke te vernuwe. Isuzu sal nog lank in SA beskikbaar wees.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Houverby ·

Sorrie. My vingers destyds verbrand met die KB280 turbo diesel. Baie swak vakmanskap regdeur – skakelaars, meganika, bakwerk… eenvoudige goed wat net swak gemaak is. Elke maand het iets groots gebreek. Kon nie gou genoeg daarvan ontslae raak nie. Once bitten twice shy. Ek hou verby.

Vleiseter ·

Ek het ‘n KD280 gery vir ‘n hele paar jaar. Op 325 000 km het ek hom aan ‘n vriend verkoop as plaasbakkie. Na ‘n jaar of twee het hy hom ingeruil op ‘n 300lx. Net ‘n plesier gewees. Klim in en ry met minimum uitgawes aan onderhoud. Hy was klokslag gediens elke 5000km. My fout was dat ek hom vervang het met ‘n Hilux want almal is Hilux mal. Dis hier waar my probleme begin het. Olielekke en breuke. Ek dink net Isuzu se engin lewer te min krag met vergelyking met Ford en Toyota. ‘n Bakkie moet tog sterk en kragtig wees.

Morris ·

Net soos Hennie is ek BAIE tevrede met my Isuzu. Sou graag die 6 spoed auto boks wou gehad het, maar my 5 spoed is puik en ek het nie n dag se probleme nie. Nou amper op 100 000km. Veruil my Isuzu vir niks anders nie :-)

Potties ·

My Isuzu 300 auto 5 spoed loop soos n droom 160000km en nog geen moeilikheid nie my vorige 250 donkie het ek verkoop op 720000km net pomp en injector gedoen baie gelukkig………

Jan ·

Het by n vriend gehoor die 6e rat is n “foefie ” Werkverrigting glo swak in 6e rat .(??)
Oor die algemeen is die ISUZU baie goed en heeltemal “underrated”

Andre C ·

Die 3liter Dteq in Autralie lewer krag in lyn met die mededingers ,maar ons diesel is glo nie goed genoeg nie of Isuzu wil net nie n kans vat nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.