Padtoets: Joie de vivre

Foto: Verskaf

Franse voertuie het nie die beste reputasie in Suid-Afrika in terme van betroubaarheid nie. Ek het al vyf Franse voertuie gehad en ek moet bieg dat net die laaste een vir my opdraande gegee het. Iets wat gewoonlik nie baie duur sou wees nie, maar omdat dit ʼn Renault was, my R19 071 uit die sak uit gejaag het. Ek wou huil.

Maar, ten spyte van hul ingewikkelde elektronika is dit eintlik lieflike rygoed. Hulle is asemrowend lig op brandstof, lieflik om te ry en uiters gemaklik. Dit is ook nie ʼn geval van elke dingetjie is ekstra nie. Franse motors het indrukwekkende spesifikasievlakke, en dit is altyd standaard. Hulle is ook van die veiligste motors op die pad.

Foto: Verskaf

Nou hoe gemaak? Die nuwe Peugeot 308 1.2 Allure outo is geen uitsondering nie. Dit is ʼn mooi groot luikrug met asemrowende bougehalte. Die binneruim is uiters gemaklik en eenvoudig uitgelê. Die klein stuurwieletjie is vir my simpel – maar ʼn mens raak dit heel gou gewoond.

Die voorste sitplekke is lieflik en bied goeie steun. Meeste van die kontroles is intuïtief geplaas. Wat wel vir my nie baie gebruikersvriendelik is nie, is die sentrale raakskerm wat die lugreëling, navigasie, radio en so aan beheer. Alles word slegs daar gekontroleer, so ʼn mens is alewig in die verkeerde skerm en moet rondsoek vir goed. Dit kan vir my beter werk.

Foto: Verskaf

Die 1,2 driesilinderturbopetrolenjin in die 308 is ʼn juweel. Dit is lieflik stil, bied 96 kW en 230 Nm. 0 – 100 km/h duik op in ʼn ratse 9,8 sekondes en hy sal aanhou draf tot 204 km/h. ʼn 1,2! Die 6-spoed-outoratkas wissel seepglad tussen ratte en raak nie in die verkeer uitgevang dat hy aanhoudend in die verkeerde rat is nie.

Agterste beenruimte is heel goed vir ʼn luikrug en die kattebak is nie te klein nie. Ritgehalte is lieflik sag en gemaklik en die kajuit tjoepstil. Padhouvermoë is aanvaarbaar in ruil vir die lieflike rit. Ek sou dit nie anders om wil hê nie en 308-kliënte is nie spoedvrate wat padhouvermoë bó gemak sal stel nie.

Foto: Verskaf

So, om op te som. Die Peugeot 308 is ʼn lieflike voertuig. Dit is lig op brandstof en is uiters gemaklik. Dit is tot vir my mooi. Dit is wel Frans, en dus is herverkoopwaarde nie van die beste nie, en jy wil hom nie meer hê as sy waarborg verval het nie, glo my. As herverkoopwaarde jou nie pla nie, en jy gaan hom net vyf jaar ry – kyk gerus, dit is regtig ʼn puik voertuig met goeie spesifikasie teen die prys.

Die reeks lyk só:

Peugeot 308 1.2 Allure handratR334 9004.8ℓ/100km
Peugeot 308 1.2 Allure outoR369 9005.2ℓ/100km

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000km waarborg en 5 jaar/ 90 000km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Focus 1.0T Trend outo92kW/ 170Nm5.5ℓ/100km4 jaar/ 120 000km waarborg

4 jaar/ 80 000km diensplan

R294 900
Renault Megane 97kW Dynamique outo97kW/ 205Nm5.4ℓ/100km5 jaar/ 150 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R354 900
Opel Astra 1.4T Enjoy outo110kW/ 245Nm5.5ℓ/100km5 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R380 183
Volkswagen Golf 1.4TSI Comfortline DSG92kW/ 200Nm5.2ℓ/100km3 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R382 500

Tussen dié mededingers is almal kleiner kapasiteit en turboaangejaag. Die Ford is voorwaar ʼn winskoop teen sy prys. Almal is regtig indrukwekkende voertuie. Gaan toetsbestuur almal; jy sal ʼn gunsteling kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marco polo ·

Die kompetisie is almal kleiner kapasiteit? Die Golf en Astra is dan 1.4

Eben ·

Ek ry my Renault al 18 jaar met 206 000km en sal geen ander motor koop nie. Die engin het nog geensins tekens getoon van slytasie. Ongelukkig moet mens tegniese kennis en vaardighede hê om instandhouding ook self te kan doen. Gelukkig kry mens baie inligting op die internet. Die Renault handellaars is belaglik met hul arbeidtariewe.

koos1 ·

Om verby die Focus te loop om die 308 te gaan koop, meer te betaal, en heel moontlik probleme te kry? Ek dink dis ‘n maklike keuse. Ek is mal oor Franse karre maar my kop werk nog normaal.

Nic ·

Wat is die Peugeot se brandstof verbruik? En Waarborge en diensplanne? Dit word nie in die artikel genoem nie, maar die mededingers s’n wel. Ag nee Brendon, ons is beter van jou gewoond!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.