Padtoets: Kewerkoors…

Foto: Verskaf

Die oorspronklike Volla is in 1938 bekendgestel. Sedertdien is daar 21 529 464 Kewers in 19 fabrieke reg oor die wêreld gebou.

Dié voertuig is op daardie einste fabrieksvloer gebou van 1938 tot 2003. 65 jaar is die langste lewensduur van enige voertuigplatform waarvan ek weet.

Nes die moderne wêreld was dit tyd vir ʼn verandering. Met strenger uitlaatgasregulasies en veiligheidsvereistes kon VW net nie meer die oorspronklike Volla aanhou vervaardig nie. Aanvanklik is produksie gestaak sonder ʼn groot bohaai.

Foto: Verskaf

Kort daarna het die wêreld agtergekom hoe belangrike deel van ons lewe die ou Kewer is. Volkswagen het met gemengde gevoelens die tweede generasie VW Beetle bekendgestel. Party was gaande daaroor, ander nie. Almal voel verskillend oor nostalgiese huldeblykmodelle.

VW het pas ʼn beperkte-weergawe Volla bekendgestel, en ek wou hom ʼn bietjie toets en sien of hy my hartsnare roer. Eintlik is my hartsnare nie belangrik nie. As ʼn mens kyk na die video hier onder sal jy sien hoe my kinders hul koppe verloor. My kinders is vyf, sewe en nege jaar oud.

Foto: Verskaf

Produksie van die oorpronklike Volla is al meer as 20 jaar gelede voor my kinders gebore is in Suid-Afrika gestaak, maar die oudste smag na een. Hy karring nou al maande aan my om een te probeer kry, so – toe ek by die huis opdaag met een het hy met die Volla gestaan en gesels in die oprit. Die Volla trek aandag soos min. Mense van alle ouderdomme, rasse en tale draai om na die Volla te kyk.

Die jongste Volla is op die Golf 6-platform gebaseer. Dit maak gebruik van Volkswagen se 1,4 viersilinderturbopetrolenjin en ʼn 7-spoed dubbelkoppelaarratkas. Dié enjin bied 110 kW en 250 Nm. Brandstofverbruik is lekker lig teen 5.7 ℓ/100 km. Die nuwe Volla het saam met die tye beweeg en geniet nou ʼn vyfster Euro NCAP-veiligheidsgradering. As mens die Volla met die nuutste Golf 7 vergelyk, kan mens tog die platform se ouderdom voel.

Foto: Verskaf

Die bakwerk is onmiskenbaar Volla. Die binneruim is ʼn dier van heeltemal ʼn ander soort. Ek sou die beperkte weergawe Volla as luuks beskou. Verhitte leersitplekke, dubbelsoneklimaatbeheer, outomatiese ligte en ruitveërs, Apple CarPlay en Android Auto gepaard met ʼn indrukwekkende Fender-klankstelsel maak die binneruim van die Volla ʼn heel aangename plek om tyd deur te bring. Met die enjin wat nou voor sit is die kattebak agter se spasie heel indrukwekkend.

Ritgehalte en padhouvermoë is tipies VW en heel gemaklik. Al ry die Volla op groot 20”-wiele raak die vering nie ondeund op slegte paaie nie. Die opvallendste ding wat die Volla regkry, is die dat dit lekker is om met hom te ry.

Die nostalgie word nie bederf deur ʼn slegte voertuig nie. So, die Volla bied die beste van twee kante. Indien jy in die bevoorregte posisie is dat jy nie sewe sitplekke of ʼn reuse-laaibak benodig nie, dan is dit lekker om nie jouself so ernstig op te neem nie, en jou tjor op ʼn daaglikse basis te geniet … dit kan dié Volla in oorvloed bied.

Daar is slegs die een model beskikbaar. Hy lyk só:

VW Beetle 1.4TSI R-Line Exclusive110kW/ 250Nm5.7ℓ/100km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R399 900

Die kompetisie lyk só:

Fiat 500 TwinAir Lounge outo63kW/ 145Nm3.8ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

3 jaar/ 100 000km diensplan

R269 900
Mini Cooper 3-deur outo100kW/ 220Nm4.9ℓ/100km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan

R391 300

Ek vergelyk spesifiek dié drie voertuie met mekaar want dit is nuwe weergawes van uiters gewilde voertuie uit die toentertyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

In die 1950’s/60’s was die kewer so R1 per cc. dws die 1200 kewer se prys was omtrent R1200 nuut. Salarisse was ook so R1200 per JAAR. Dus kon jy ‘n kar bekostig gelykstaande aan jou jaar se salaris. Indien jou salaris dus R30 000 per maand is kan jy dalk die volla aanskaf. Tog was kos in die 1960’s spotgoedkoop en petrol was SEWE SENT/liter !!! Wanneer jy op vakansie gaan het jy net begroot vir slaapplek en niks anders. In 1968 het my ouers oornag by die Grand Hotel op Warmbad en het vir die nag betaal R27.
Ek kan baie staaltjies vertel met my kewers en hoe ek en my bruid in die nag deur die Tugela ‘geswem’ het. By die plek van aankoms moes ek verneem dat die pad gesluit was vir ALLE voertuie insluitende viertrek. Daar het donker voorwerpe (boomstompe) voor die 6volt ligte opgedoem terwyl ons die ‘spruit’ aandurf. Daar waar ek vandaan kom ken ons net spruite en geen riviere!! So hierdie was net ‘n groot spruit . . .

Amelia ·

Ek het ook n volla gery en glo my, n volla kan swem. Ek het gery waar ander sou versuip het.

ChrisE ·

Ek het een van die “nuwe” Volkswagen Kewers gekoop. ‘n Ware Volla is hy nie. ‘n Ware Volla se enjin het agter gesit. Overgesiedsynde, ek is beindruk met my Volkswagen. Dit is ‘n 2001 model wat ek teen ‘n winskoop, privaat gekoop het. Het geld aan “kosmetiese” vervangings gedoen. Die motor is die eerste slag deur die toets en ek is die trotse eienaar van die motor. Almal wil haar koop, maar ek is nou gewoond aan die motor. Myne is ‘n 2liter wat nogal goeie werkverrigting gee. Petrol verbruik in en om die stad is ongeveer 7.5 liter per 100 km. Ek sal die kar beslis hou aangesien dit my slaaplose nagte sal gee om nou R4000 plus per maan op ‘n nuwe kar se paaiement moet uitwurg. Dit gaan my verstand te bowe dat mense so duur vir karre betaal. Ons leef nog lekker in die land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.