Padtoets: Mazda marsjeer voort!

Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera

Die kompakte sportnutsvoertuig word wêreldwyd al hoe meer gewild. Elke vervaardiger en sy maat stel dus dié rygoed teen die spoed van wit lig bekend. Heel bo-aan dié segment is daar ʼn paar diesel, allewielaangedrewe outomatiese modelle. Die Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera is een van dié sportnutsvoertuie.

Die buitekant bly getrou aan Mazda se KODO-ontwerpstyl. Die swart aksente help die CX-5 om meer aggressief te lyk. Dit is regtig mooi en die bougehalte is puik. Die binneruim is egter waar die CX-5 mens beïndruk. Die CX-5 is uitstekend toegerus: elektriesverstelbare leersitplekke, sondak, navigasie, HUD-ooghoogteskerm, klimaat-, spoed- en stembeheer, elektroniese handrem en ʼn uitstekende BOSE-klankstelsel. Na my mening werk Mazda se inligtingstelsel die beste en kan dit sy man staan teen enige ander fabrikaat se stelsel. Mazda is ook tot dusver die enigste vervaardiger wat ek al teëgekom het waar mens die HUD met ʼn gepolariseerde sonbril kan lees. Slim.

Die CX-5 is baie gemaklik op die pad en Mazda se voertuie hou deesdae een ding spesifiek in gedagte met hul ontwerp: die bestuurder. Die CX-5 pas ʼn mens soos ʼn handskoen en jy kan bitter vinnig alles perfek gestel hê, nes jy wil. Die vering is soepel genoeg vir ʼn sportnutsvoertuig, tog stewig genoeg dat sy padhouvermoë nie afgeskeep word nie.

Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera

Die enjin en ratkas is ʼn goeie kombinasie. Die CX-5 voel nie heeltemal so sterk soos die 420 Nm wat op papier aangedui word nie. Dit is moontlik die doeltreffende allewielaandrywingstelsel wat verhoed dat die voertuig bokspring as die versneller geskop word. Indien jy nie kruip met die CX-5 nie, kan jy ook nie naby Mazda se beweerde 6 ℓ/100 km uitkom nie. Sodra jy haastig raak, dan is 10 ℓ/100 km ʼn meer geloofwaardige syfer.

Daar is net vyf diesel, outomatiese allewielaangedrewe kompakte sportnutsvoertuie in Suid-Afrika wat nie in die premie-mark meeding nie. Die kompetisie is taai, en daar is nie ʼn slegte produk tussen hulle nie. Dit gaan bloot oor smaak. Die CX-5 is lieflik en jy sal beslis nie spyt wees indien jy jou geld daarop spandeer nie.

Die reeks lyk só:

 

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/onbeperkte km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

 

Ek het nog nie die splinternuwe Kuga bestuur nie, maar dit lyk soos  ʼn winskoop. Die Toyota se herverkoopwaarde kan nie geïgnoreer word nie. Almal is puik voertuie – gaan kies die een wat met jou hart praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietsepan ·

Voorwaar ‘n puik voertuig. Mada se petrol weergawes is ‘n beter koop. Die outomatiese ratkas is effens rukkerig. Sou eerder ‘n CVT wou hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.