Dit is geen geheim dat ek drie kinders het nie. Dit is ook nie ʼn geheim dat ek en my vrou van bussies hou nie. (My vrou is net meer aggressief daaroor en sal ʼn bus se sleutels met geweld by my afneem.)
Die Mercedes-Benz V250d was onlangs ʼn week lank ons vervoermiddel en behalwe vir ʼn paar dingetjies is die V250d ʼn asemrowende familiemotor.
As ʼn mens die V250d van buite beskou hoef jy nie te wonder of dit ʼn people carrier is nie. Hy lyk sommer luuks en wintie terselfdertyd. Buite is wel nie waar die towery lê nie… dís in die binneruim.
Mercedes-Benz het dit perfek reggekry om ʼn bus luuks te laat voel. Die paneelbord met sy lugopenings vir die lugreëling is werklik mooi. Die sewe sitplekke is almal soos ʼn C-klas se voorste sitplekke. Uiters gemaklik. Daar is tot ʼn reuse- panoramiese sondak wat amper so groot is soos die hele dak.
Nou kom ons by die praktiese gedeelte. Daar is op die middelste konsole ʼn knoppie om die twee kantdeure oop te maak. Dan maak hulle lieflik sag self oop met ʼn elektriese motor. Dus hoef ek nie die heeltyd met my kinders te baklei om die goed uit te los nie, of om te pasop vir die kar langs ons nie, of nie die deure te slaan nie. Dis lieflik.
Die kattebakdeur van die V250d het ʼn fantastiese funksie waarmee ʼn mens net die glas kan oopmaak sonder dat jy die hele deur hoef oop te maak, al is hy ook elektries en dit nie regtig moeite verg nie. Indien ʼn mens net die glas oopmaak is daar ʼn paneel wat oopmaak, dan is daar twee opvoumandjies waarin ʼn mens ʼn bietjie inkopies kan bêre sodat dit nie rondval nie. Baie slim.
ʼn Nadeel van daai paneel met die mandjies is die stellasie waarop dit gesit is. Dit neem baie van die kattebak se spasie onder dit. ʼn Ander ding wat pla is die tweede ry van twee sitplekke. ʼn Mens kan dit omdraai soos in ʼn VW Caravelle, maar in die Mercedes moet jy die hele spul agter uit die reëlings skuif, dit met die hand omdraai en weer in die reëlings in gly en vorentoe skuif, dán die derde ry terugsit en die hele kattebakstellasie. Dáái kan beslis verbeter word soos hoe dit in die Caravelle werk.
Die Hyundai H1 is my en my vrou se gunstelingbus. Dit bied vir ons die beste veelsydigheid teen ʼn billike prys. Wat wel nou duidelik is ná die V250d is hoe oud die H1 se enjin en ratkas word. Die V250d is ʼn lieflike ryding.
Die 2,1 viersilinderturbodiesel bied 140 kW en 440 Nm. Dit is baie naby aan die H1 se syfers, maar die Merc se ratkas maak ʼn wêreld se verskil. Die Hyundai H1 gebruik ʼn 5-spoed outo. Die Mercedes-Benz gebruik ʼn 7-spoed outo wat baie ratser en gladder tussen sy ratte wissel. Die resultaat van die enjin en ratkas kombinasie is skrikwekkend. Die V250d is regtig nie lui nie, selfs vinnig … ʼn bus!
Die ritgehalte is lieflik sag en die bietjie bakrol wat daar is pla nie regtig nie. Padhouvermoë, vir ʼn bus – is regtig puik. Ek het heel hardhandig geraak met die bus om te sien wat hy sal maak, en hy skrik nie sommer nie. Ek glo nie enigiemand sal óóit só met hul eie bus ry nie.
So, behalwe vir die sitplekmeganisme, die spasie in die kattebak en die klankdoding op die brandmuur wat kan verbeter word om te verhoed dat die enjin by tye ʼn bietjie dreun as mens gretig versnel – is die bus regtig puik.
Ek én vroulief sê as ons dié soort geld gehad het, sou ons beslis só V250d kon huisves.
Die reeks lyk só:
Mercedes-Benz V200d | 100 kW/ 330 Nm | 6.1 ℓ/ 100 km | R886 251 |
Mercedes-Benz V220d | 120 kW/ 380 Nm | 5.9 ℓ/ 100 km | R926 342 |
Mercedes-Benz V250d | 140 kW/ 440 Nm | 6 ℓ/ 100 km | R996 535 |
Mercedes-Benz V220d Avantgarde | 120 kW/ 380 Nm | 5.9 ℓ/ 100 km | R1 209 427
|
Mercedes-Benz V250d Avantgarde | 140 kW/ 440 Nm | 6 ℓ/ 100 km | R1 253 627 |
Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk só:
Ford Tourneo Custom 2.2TDCI LWB Trend | 92 kW/ 350 Nm | 6.5 ℓ/ 100 km | 4 jaar/ 120 000 km waarborg 6 jaar/ 90 000 km diensplan | R567 300 |
Hyundai H1 2.5 CRDi Elite | 125 kW/ 441 Nm | 9.8 ℓ/ 100 km | 5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R644 900 |
Kia Grand Sedona 2.2CRDi SXL | 147 kW/ 440 Nm | 8 ℓ/ 100 km | 5 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000km diensplan | R792 995 |
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI Highline 4Motion | 132 kW/ 400 Nm | 8.8 ℓ/ 100 km | 3 jaar/ 120 000 km waarborg 5 jaar/ 60 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 020 100 |
Tussen dié mededingers het elkeen ʼn sterkpunt. Die Ford is die goedkoopste. Die Hyundai is die beste waarde, spasie én 9 sitplekke. Die Kia is ʼn MPV so bied die beste rit en ʼn asemrowende enjin en ratkas. Die Volkswagen is die enigste een met vierwielaandrywing. Afhangend van wat jou behoeftes is, sal vir jou in ʼn rigting stuur.
Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendie.
Vir daardie prys kan jy twee Fords koop.
Ja en dubbel soveel probleme ook daarby saam!!!
Geen Ford vir my nie dankie. Nie eers verniet nie.
Het Renault en Nissan nie ook n bus nie?
Dagsê Anton,
Baie dankie vir jou kommentaar. Mens het altyd ‘n Nissan Primastar en Renault Traffic gekry, maar nie meer nie.
Groetnis
Brendon
nms Maroela Media
Het Renault en Nissan gery toe ek nog werk gesoek het Anton
Baie luuks en uitstekende brandstof verbruik vir ‘n bus met so kragtige enjin.
Ek sukkel om 8l/100km te kry met my Hilux 2.4GD6 D/C(110kW, 400Nm)
Ek weet dit is twee heeltemal verskillende voertuie maar die enjins se lewering is baie dieselfde
Baie luuks en uitstekende brandstof verbruik vir ‘n bus met so kragtige enjin.
Maar die prys is baie wild.
Ja Sors, ek het nie noodwendig hulle aanbeveel nie maar net gewonder of hulle nie nog op die mark is nie.
Jy was dan duidelik een van die gelukkige mense wat se ouers hulle van n voertuig kon voorsien voordat jy begin werk het.
Nissan is volgens my nie slegte voertuie nie. Het al n paar besit.