Padtoets: My skelmpie het oud geword

Die nuwe Mercedes-AMG SLC 43 (Foto: Mercedes)

Een van my eerste ervaringe in ʼn werklik vinnige motor was in 2004 met ʼn Mercedes-Benz SLK 55 AMG. Hy het 265 kW en 510 Nm gehad. Hy was veronderstel om tot 250 km/h beperk te wees, maar was nie. Hy kon van 0 – 100 km/h snol in 4.9 sekondes en aanhou draf tot 281 km/h. Daai tyd kon die nuwe Golf GTi net 8 sekondes breek. Wow.

Toe Mercedes my onlangs skakel en die Mercedes-AMG SLC 43 aanbied, het my hande dadelik begin jeuk. Herinneringe van 13 jaar gelede het so helder geword, dit het gevoel of dit gister was. ʼn Mooi blou SLC 43 het hier by die kantoor opgedaag. Dit is my eerste ervaring met Mercedes-AMG se nuwe 270 kW, 520 Nm 3.0 V6-turbopetrolenjin. Die enjin is fantasties. As jy hom aansluit, gee hy ʼn harde brulgeluid voor al die uitlaatpypkleppe toemaak sodat die bure nie dink ons is skollies nie.

Die nuwe Mercedes-AMG SLC 43 (Foto: Mercedes)

Ek hou van ʼn tweesitplek-sportmotor. Die SLC is heel gemaklik, al voel die binneruim nie heeltemal so modern soos die nuutste Mercedes-AMG-produkte nie. Na ʼn paar kilometer besluit ek dat ek wil voel hoe die SLC kan hol. Toe ek op die snelweg klim, begrawe ek die versneller in die mat, en skielik word my oë so groot soos pierings.

Die padhouvermoë en hantering van die SLC voel asof dit geensins verbeter is in die afgelope 13 jaar nie. Die probleem daarmee is dat die nuwe turbo-enjin al sy wringkrag kan bied van baie lae omwentelinge. Dit maak die SLC ʼn baie benoude outjie. ’n Mens kan nie net krag invoer nie, dan moet al die blikbreine spook om seker te maak die agterwiele steek nie die voorstes verby nie.

Die nuwe Mercedes-AMG SLC 43 (Foto: Mercedes)

Aanvanklik is dit opwindend, maar naderhand is dit eintlik net gevaarlik. Tegnologie het aanbeweeg en daar is ander Mercedes-AMG-produkte wat puik hanteer, maar ongelukkig is die SLC 43 nie een van hulle nie. Die binneruim is effe op datum gebring, maar ’n mens kan voel die SLC is oud onder die vel. Indien ’n mens hom wil koop om teen die kuspad af te toer – met die wind in jou hare en teen ’n rustige spoed – gaan die Mercedes-Benz SLC300 AMG-Line heeltemal voldoende wees, en jy gaan ʼn paar Rand in die bank kan bêre.

Indien jy ʼn afslaankapsportmotor wil hê wat jou broek aan die brand kan steek, dan is daar twee ander opsies. Die Jaguar F-Type 280 kW V6 outo, wat puik hanteer, óf die Porsche 718 Boxster S PDK wat nóg beter hanteer, en baie goedkoper is. Die Porsche-handelsmerk voel vir my ook meer eksklusief op die oomblik.

Die reeks lyk só:

ModelKragEkonomie0 – 100 km/hTopspoedPrys
Mercedes-Benz SLC200 AMG Line135 kW/300 Nm6.6 ℓ/100 km7 sek240 km/hR718 476
Mercedes-Benz SLC200 AMG Line outo135 kW/300 Nm6.1 ℓ/100 km6.9 sek237 km/hR736 222
Mercedes-Benz SLC200 RedArt Edition135 kW/300 Nm6.6 ℓ/100 km7 sek240 km/hR743 476
Mercedes-Benz SLC200 RedArt Edtition outo135 kW/300 Nm6.1 ℓ/100 km6.9 sek237 km/hR761 222
Mercedes-Benz SLC300 AMG Line180 kW/370 Nm6.2 ℓ/100 km5.8 sek250 km/hR793 836
Mercedes-Benz SLC300 RedArt Edition180 kW/370 Nm6.2 ℓ/100 km5.8 sek250 km/hR818 836
Mercedes-AMG SLC43270 kW/520 Nm7.8 ℓ/100 km4.7 sek250 km/hR1 044 012

Die reeks word gedek deur Mercedes-Benz se 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragEkonomie0 – 100km/hTopspoedWaarborgPrys
Porsche 718 Boxster S PDK257 kW/420 Nm7.3 ℓ/100 km4.2 sek285 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R965 000
Jaguar F-Type 280 kW outo280 kW/460 Nm8.6 ℓ/100 km4.9 sek275 km/h3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 170 462

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Is daai Porsche se prys reg? ‘n Porsche vir die prys van ‘n Golf? Lyk vir my daar kort so ‘n R1 000 000.00.

Mariné Lourens ·

Dagsê Koos1

Dankie vir jou valkoog! Die Porsche 718 Boxster S PDK se prys moet inderdaad R965 000 wees. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.