Padtoets: My tweestryd met die Datsun Go

Daar is twee voertuie wat so baie beteken vir die ontluikende Suid-Afrikaner… maar terselfdertyd moreel bevraagteken kan word. Die twee voertuie is Renault se Kwid en Datsun se Go. Albei is al jare in die spervuur deur padveiligheidsaktiviste… en met goeie rede. Dié voertuie se strukture is nie vreeslik sterk nie, en die eerstes het nie ABS of lugsakke gehad nie.

In November 2014 het Global NCAP die onttrekking van die Datsun Go geëis aangesien nul sterre aan dié voertuig ná sy botsingtoetse toegeken is. In 2016 het die Renault Kwid darem een ster in sý toets opgeraap. Ek hoor die vraag: “Hoekom word dié voertuie bekendgestel?” Dit is heel eenvoudig. Daar is miljoene mense wat nie hul eie vervoermiddel het nie en op minibustaxi’s moet staatmaak. ʼn Spotgoedkoop voertuig kan waarskynlik vir baie mense uit taxi’s haal en in karre kry.

Die Datsun Go. Foto: Verskaf

Daarin lê een van die redes vir my tweestryd. Die Datsun Go is beslis veiliger as openbare vervoer… maar is dit ʼn verskoning? Is dit aanvaarbaar om te sê dis veiliger as… in plaas van dit is veilig, punt. Ek het self ʼn Citi Golf in ʼn stadium besit. Ek is oortuig my Golfie sou in vandag se toetse ook nul sterre kry. Dit was vir my goed genoeg, hoekom nie vandag nie? Om die eenvoudige rede dat beter tegnologie nou goedkoper beskikbaar is.

Is dit Datsun se skuld? Gedeeltelik, ja – maar in my opinie kan die skuld 95% op ons regering geplaas word. Die belasting op ʼn nuwe ingevoerde voertuig in Suid-Afrika is tans 43%. Dit is sonder BTW. So, ʼn R149 600 se Datsun Go is eintlik vir Datsun ʼn R85 000‑voertuig. Daar is nie ʼn vervaardiger op aarde wat ʼn behoorlike struktuur kan bou vir daai prys nie.

Die Datsun Go. Foto: Verskaf

Is dit dan nie die regering se plig om te sê ons moet die bevolking aan die ry kry sodat hulle goedkoper en makliker by die werk kan kom en dus op daai manier die ekonomie laat groei in plaas van net die motoris tot vervelens toe te belas nie? Ad valorem‑belasting word op dié intreevlakmotors toegepas – en dit is beslis nie ʼn luukse item nie. Onthou: ʼn tamaai gedeelte van elke liter brandstof is ook net belasting.

Genoeg dan daaroor. Wat van die opgeknapte Datsun Go?

Die nuwe Go is stukke beter as sy voorganger. Die binneruim is opgeknap en daar is nou ABS met lugsakke. Daar is ʼn goeie inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto sowel as kragstuur, elektriese vensters en lugreëling. Die Lux‑model wat ons getoets het, het tot sierwiele. Heel netjies. Die karretjie het eintlik spoggerig gelyk. Die Datsun Go word aangedryf deur ʼn 1.2‑driesilinderpetrolenjin wat 50 kW en 104 Nm bied. Die enjin sit sy krag deur ʼn 5-spoed‑ratkas.

Die Datsun Go. Foto: Verskaf

Ek sal wel byvoeg dat die sitplek nie vreeslike steun bied nie – dalk is ek effe swaar daarvoor. Die stuur is ʼn bietjie vaag en dit maak ʼn mens ʼn bietjie benoud. Wat die benoudheid groter maak, is die verskriklike bakrol wat ontstaan as ʼn mens om ʼn draai gaan. Kyk alle karre het in die jare toet vreeslik geleun as hulle om ʼn draai gaan, maar moderne karre doen nie – so as jy dit nou teëkom, is dit heel verbasend.

Dit bring my by die ander rede vir my tweestryd. Die Datsun Go lyk nou mooi, sy binneruim is baie verbeter en sy enjin nie sleg nie. Sy brandstofverbruik is puik teen 19 km/ℓ. Nou is my stryd – al die kosmetiese opkikkering, maar dieselfde struktuur is gebruik. Nou sit ons met ʼn R166 300 se Datsun Go wat oulik lyk, maar nog steeds onveilig is, al is daar ABS en lugsakke.

Daar is ʼn eenvoudige oplossing. ʼn Mens kan ʼn Nissan Micra Active vir R177 900 koop. Dit is nét R11 000 meer. Dit is egter tien keer die kar wat die Datsun Go is… koop hom eerder.

Die reeks lyk só:

Datsun Go 1.2 MidR149 600
Datsun Go 1.2 LuxR166 300
Datsun Go+ 1.2 paneelwaR155 900
Datsun Go+ 1.2 MidR159 600
Datsun Go+ 1.2 LuxR176 800

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/150 000‑waarborg.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Celerio 1.0 GA50 kW/90 Nm4,7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km‑waarborgR139 900
Renault Kwid 1.0 Dynamique50 kW/91 Nm4,7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑waarborgR143 500
Kia Picanto 1.0 Start49 kW/95 Nm5 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km‑waarborgR150 995
Honda Brio 1.2 Trend65 kW/109 Nm5,6 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km‑waarborg

2 jaar/30 000 km‑diensplan

R164 200
Hyundai Grand i10 1.0 Motion48 kW/94 Nm5,4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km‑dryfstelselwaarborg

R167 900
Toyota Aygo 1.053 kW/93 Nm4,3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km‑waarborgR171 900
Volkswagen take up!55 kW/95 Nm4,6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km waarborgR175 600
Nissan Micra Active 1.2 Visia56 kW/104 Nm5,2 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km‑waarborg

3 jaar/90 000 km‑diensplan

R177 900
Renault Sandero 66 kW turbo Expression66 kW/135 Nm5,2 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑waarborg

2 jaar/30 000 km‑diensplan

R179 900
Haval H1 1.569 kW/130 Nm7,2 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg

3 jaar/45 000 km‑diensplan

R179 900
Smart ForFour 52 kW base52 kW/91 Nm4,2 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km‑waarborg

3 jaar/60 000 km‑diensplan

R181 478
Ford Figo 1.5 Ambiente88 kW/150 Nm5,7 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km‑waarborg

4 jaar/60 000 km‑diensplan

R185 600

Indien dié voertuigsegment werklik gaan oor die mobilisering van die bevolking, is die Suzuki Celerio 1.0 GA die goedkoopste met ʼn redelike marge. Dit is definitief ʼn lekkerder kar as die Go, al is hy kleiner. Die Picanto, Brio en Grand i10 kan ook nie geïgnoreer word nie en is na my mening lekkerder voertuie as die Go.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blommie ·

Wat, in hemelsnaam, is ‘n ‘ontluikende Suid-Afrikaner’? ‘n Skamerige een wat skielik ‘n stortvloed selfvertroue gekry het en besluit het dat goedkoop-motorkoop ‘n moet is?

George in Bloem ·

Van die die grootste gemors tans op SA paaie.Punt. My skoongogter het een gekoop en kon nie vinnig genoeg van die ding ontslae raak nie. Het binne ‘n kort tydjie behoorlik uitmekaar uit geval. En Datsun in Kimberley se patetiese swak diens het ook nie gehelp nie.Hou verby.

Veritas ·

Kon die skrywer nie maar die moeite gedoen het om die voertuignaam korrek te spel nie? Dit word as volg gespel: ‘ Dustbin Go’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.