Padtoets: ʼn Vergete juweel

Foto: Subaru

Soos ek in gister se berig gesê het, is sedanmotors glad nie meer só gewild soos in die “ou dae” nie. Dit is tog ʼn jammerte, want hier en daar kom mens nog op juwele af. Dié Subaru Impreza 2.0i-S ES is net só ʼn juweel.

Subaru is wêreldberoemd vir sy permanente simmetriese allewielaandrywing. In sonnige Suid-Afrika beteken dit nie elke dag veel nie, maar nou en dan – wanneer dit reën en daar ʼn noodsituasie ontstaan, dan bied daai onsigbare veiligheidsnet reusegemoedsrus. ʼn Indrukwekkende feit is dat Subaru onlangs vir Audi verbygesteek het as die grootste allewielaandrywing-vervaardiger ter wêreld. Wow! Dit is weens die Amerikaanse mark wat in groot gedeeltes van die land in die wintermaande vierwielaandrywing nodig het om die sneeu baas te raak.

Daar is nog ʼn verandering aan die gang by Subaru. Die gehalte van die binneruim is nie meer die ou Japannese plastiekerige benadering nie, maar tóg ʼn luukser produk van beter gehalte. Al die luukshede is daar, van goeie leersitplekke tot truratkameras, Apple Carplay en Android Auto, sondak, elektroniese handrem, blindekolwaarskuwingstelsels, multifunksionele stuurwiel, elektries verstelbare sitplek met verwarmers – die hele katoet.

Foto: Subaru

Die Impreza spog met Subaru se nuwer 2.0-viersilinderbokserenjin. Dié enjins geniet nou direkte brandstofinspuiting. Dit lewer ʼn baie beter wringkragkurwe en maak die enjins aansienlik ligter op brandstof as hul voorgangers. Die enjin bied 115 kW en 196 Nm. Subaru beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7.2 ℓ/100 km om die gekombineerde siklus. Die enjin sit sy krag deur Subaru se CVT-palwisseltransmissie. Subaru is van die min vervaardigers wat die CVT-ratkas vir my goed geprogrammeer het sodat dit ratwisselings na-aap. Die enjin-en-ratkas-kombinasie bied ʼn sagte rit teen snelwegspoed.

Subaru is tans een van die veiligste handelsmerke waar die ANCAP- (“Australian NCAP”) veiligheidsgraderingsisteem gebruik word met ʼn volle 5-stertoekenning vir die Impreza. Die Impreza is toegerus met Subaru se innoverende Eyesight-kamerastelsel wat afstandbeheer bied op die spoedbeheer en waarskuwings bied in noodsituasies. As mens terugstoot uit ʼn blinde oprit op parkering uit, sal die Impreza self rem indien nodig deur middel van die agterkruisverkeerwaarskuwingstelsel.

Foto: Subaru

Die ritgehalte in die Impreza beïndruk met hoe sag geveer dit is, sonder om ondeunde bakrol te veroorsaak. Die vierwielaandrywing verseker dat die Impreza veilig en stabiel versnel, maak nie saak hoe aggressief jy met die versneller is nie. Die stil kajuit met die lieflike nuwe sitplekke en die verstelbaarheid van die stuurkolom verseker dat mens perfek kan sit, nes jy wil.

Dit is maklik om die Subaru Impreza op te som. Dit is ʼn lieflike sedan met oorgenoeg plek. Dit is gemaklik en bied al die speelgoed wat mens sou wou hê. Dit is uiters veilig, en nie buitensporig duur nie. Dit is jammer dat daar nie baie meer van die Impreza-modelle verkoop nie.

Die reeks lyk só:

Impreza 2.0iR369 900
Impreza 2.0i-SR399 000
Impreza 2.0i-S ESR425 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en ʼn 3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die Subaru Impreza het geen mededingers nie weens die feit dat daar geen ander vierwielaangedrewe sedanmotors in die klas is nie. Die volgende vierwielaangedrewe sedanmotor is die Audi A4 2.0 TFSI Quattro Sport, en hy kos R669 000.

Foto: Subaru

Foto: Subaru

Foto: Subaru

Grafika; Subaru

Grafika: Subaru

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris Ws ·

Pragtige motor en baie billik geprys.My ouer broer ry al die afgelope 15 jaar net Subaru motors en het ook geen probleme gehad nie.

Marius ·

Werklik ongelooflike goeie gehalte motors. Tog net so jam
mer dat daar green diesel-variante beskikbaar is nie.

Subaru Obsessie ·

Ons ry al Subaru die afgelope 9 jaar. Ons het al die Forester, Wagon, STI gery en huidiglik ry ons ‘n 2006 Forester and 2010 Outback. Ons het altwre karre gekoop by direk by Subaru JHB. Altwee karre het hoe kilo’s op gehad. Maar het geen probleme met hulle nie, so gelukkig met die handelsmerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.