Padtoets: Nié so MINI nie

Die nuwe MINI (Foto: MINI)

MINI het in 2010 met ʼn reusebohaai die Countryman bekendgestel. Mense was in rep en roer oor die MINI wat sopas ʼn grootie geword het. Die tweede weergawe is verlede jaar bekendgestel, en ek is effens verward oor hoe ek oor hom voel.

Die eksterieur is mooi. Dit is uit die aard van die saak ʼn 4-deur-kruismodel, en dis dit. Maar omdat MINI’s eintlik klein is, word die Countryman as ʼn sportnutsvoertuig beskou. Met 165 mm grondvryhoogte en sonder vierwielaandrywing is dit wel nie ʼn sportnuts van formaat nie.

Uit frustrasie en onsekerheid oor die Countryman besluit ek toe om net met die ding te ry en te wag dat die kern van die MINI self na my toe kom. Met my voet in die mat begrawe en ʼn reuseglimlag op my gesig val dit my by. Die Countryman bly eenvoudig net dit, ʼn MINI. Rats, heel vinnig en lewendig op die pad, met indrukwekkende padhouvermoë.

Die nuwe MINI (Foto: MINI)

Die 2.0 viersilinderturbopetrolenjin bied 141 kW en 300 Nm. 0 – 100 km/h duik op in 7.4 sek en dié Countryman sal aanhou draf tot 225 km/h. Dit is glad nie stadig nie. Die vering is effe styf, maar die hantering en padhouvermoë puik. Die stuur is vir my heeltemal te sensitief op al die MINI’s, en as gevolg daarvan sukkel die kar om tot ruste te kom op die pad. Die runflat-bande help ook nie hiermee nie, en as jy by ʼn verkeerslig wegspring asof jou broek aan die brand is, raak die stuur nogal lewendig in jou hande soos die Countryman sukkel om vas te trap. Ek glo die vierwielaangedrewe model sal hom beter gedra.

Die binneruim is uiters modieus en eg MINI. Die groot spoedmeter in die middel van die kajuit en die ou vliegtuig-tipe skakelaars rond die pakket mooi af. Aanvanklik is die skakelaars nie baie ergonomies uitgelê nie, maar mens raak dit vinnig gewoond. As mode vir jou belangrik is, gaan die Countryman beslis jou hartsnare roer. Dit is ruimer as ʼn luikrug, maar kompak genoeg om nie ʼn reusesportnuts te wees nie.

Die Countryman se prys is nie klein nie en plaas hom tussen groot kompetisie soos Audi se Q3, BMW se X1, Mercedes-Benz se GLA, en baie duurder as kruismodelle soos Kia se Soul en Nissan se Qashqai. Persoonlik dink ek Volvo se XC40, wat vanjaar op pad is Suid-Afrika toe, gaan die knuppel in die hoenderhok gooi.

Die reeks lyk só:

Mini Cooper Countryman100 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 kmR428 500
Mini Cooper Countryman outo100 kW/220 Nm6 ℓ/100 kmR446 500
Mini Cooper D Countryman110 kW/330 Nm4.8 ℓ/100 kmR457 000
Mini Cooper D Countryman outo110 kW/330 Nm4.7 ℓ/100 kmR475 000
Mini Cooper S Countryman141 kW/280 Nm6.5 ℓ/100 kmR497 500
Mini Cooper S Countryman outo141 kW/280 Nm6.5 ℓ/100 kmR517 000
Mini Countryman John Cooper Works170 kW/350 Nm7.8 ℓ/100 kmR604 000
Mini Countryman John Cooper Works Sports outo170 kW/350 Nm7.2 ℓ/100 kmR631 500

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en omvattende 5 jaar/100 000 km-instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Kia Soul 2.0 Smart outo116 kW/ 192 Nm7.9 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/90 000 km-diensplan

R399 995
Nissan Qashqai 1.6T Acenta120 kW/240 Nm6.2 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R429 900
Mercedes-Benz GLA 200 outo115 kW/250 Nm5.8 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R522 710
Audi Q2 1.4TFSI sport outo110 kW/250 Nm5.2 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R529 500
BMW X1 sDrive20i outo141 kW/280 Nm6.2 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R579 866

Tussen die mededingers sal ek eers wag om die Volvo XC40 se pryse te sien voor ek my geld iewers plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Dié kruismodelle is ‘n vreemde marksegment. Die karre is groter as ratse luikrugmodelle, maar minder bekwaam as passasier- of veldritvoertuie. Hierdie Mini is waarskynlik bedoel vir byderwetse hipsters vir wie die aantal hashtags op hul Instagram-foto’s baie tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.