Padtoets: Nog ʼn spyker in dié era se kis

Die Suzuki Swift Sport. Foto: Verskaf

In ʼn tyd waarin brandstofverbruik en uitlaatgasregulasies al hoe strenger raak wat vervaardigers betref, raak die hoërevolusie-petrolenjin ʼn ding van die verlede.

My kinderjare is gepeper met voertuie soos Toyota se Twincam wat 16 kleppe en ʼn dubbel-bonokas gebruik het. Onder 3 000 r/min het daar nie veel aangegaan nie, maar bo 4 500 r/min het dié enjins aan die lewe gespring.

Daar is nog ʼn enkele motorvervaardiger waarvan ek weet wie se enjins so is … en dis Suzuki. Ek neem aan daar is ooreenkomste tussen hul kar- en motorfiets-enjintegnologie. Tot Suzuki se doodgewone 1.2- en 1.4-viersilinderpetrolenjins is lekker. Hulle is asemrowend lig op brandstof, in die werklikheid – nie net in ʼn laboratorium nie.

Dan kom ons by die hartseerste gedeelte. Die Suzuki Swift Sport. Dit is ʼn gewone Suzuki Swift, met sportsitplekke, ʼn 6-spoedhandrat en een van die lekkerste 1.6-viersilinderenjins wat ek al teëgekom het. Hy trek heel goed in die verkeer, maar sodra daar ʼn gaatjie is – skop ʼn paar ratte terug, begrawe jou voet in die mat en laat die toere klim.

Die Suzuki Swift Sport. Foto: Verskaf

Hier naby ʼn stratosferiese 7 000 r/min stoot die atmosferiese viersilinder ʼn indrukwekkende 100 kW. Die wringkrag is min teen 160 Nm, maar heeltemal voldoende vir dié voertuig.

Hoekom dán hartseer vra jy? Dit was die laaste atmosferiese Suzuki Swift Sport wat ons sal sien. Die volgende Suzuki Swift Sport wat ons in die tweede kwartaal van 2019 in Suid-Afrika kan verwag, sal deur Suzuki se 1.4-Boosterjet aangedryf word. Ek moet op die internet gaan rondkrap om meer inligting te kry, en skielik is ek nie só hartseer nie … eintlik opgewonde.

Die nuwe enjin bied oorsee 103 kW teen 5 500 r/min, wat wel laer is as die vorige enjin se 6 900 r/min. Maar – die opwindende deel is dat die nuwe Boosterjet 230 Nm bied tussen 2 500 en 3 500 r/min. Dit is opwindend, maar slegs as Suzuki dit reggekry het om sy atmosferiese enjins se eienskappe te kon behou. Honda het dit reggekry met sy nuwe Civic Type R … ek hou duim vas.

Die Suzuki Swift Sport. Foto: Verskaf

Baie mense wonder hoekom ons motorjoernaliste smag na atmosferiese enjins. Dis eintlik eenvoudig. Turboaangejaagde enjins is te doeltreffend. Hul kragkurwe is heeltemal te plat. Ek hou van ʼn enjin waar die krag bou, en die geraas ook groei tot ʼn piek waar die krag en die geluid stoom opbou soos jou ma se ou stoompot. Jy’t hom gehoor bou en bou tot hy uiteindelik die pippetjie verby sy tweede strepie lig, en dan blaas hy al die stoom af. Die vorige 1.6-enjin was presies so. Ek hou duim vas dat daar van daai karakter in die nuwe Boosterjet is.

Suzuki se posisie in die toptien motorhandelsmerke in Suid-Afrika is stewig. Suzuki het die afgelope jaar vir die eerste keer oor die duisend eenhede verkoop in ʼn maand en dit lyk of hy daai syfer met gemak handhaaf. Suzuki Suid-Afrika is vir die tweede keer as handelsmerk van die jaar toegewys in Cars.co.za se motor van die jaar-kompetisie soos deur lesers gekies.

Die Suzuki Ignis was verlede jaar ʼn Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste-finalis as motor van die jaar en eindelik is die splinternuwe Suzuki Jimny wat einde Oktober in Suid-Afrika bekendgestel sal word ʼn genomineerde as wêreldmotor van die jaar. Vir ʼn klein handelsmerk wat nie deel is van ʼn reusekonglomeraat met verskeie handelsmerke en fabrieke nie, dink ek Suzuki vaar fantasties en maak groot geraas op die regte manier.

Die Suzuki Swift Sport is ongelukkig nie meer beskikbaar in Suid-Afrika nie, so indien jy een wil hê, sal jy tweedehands moet soek. Tot die nuwe Suzuki Swift Sport bekendgestel word, lyk die reeks só:

Swift 1.2 GAR159 900
Swift 1.2 GLR175 900
Swift 1.2 GL outoR189 900

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B ·

Stem saam, vir wat dit is, is dit ‘n baie oulike (en prettige!) pakket.

Ek onthou nog ons het gepakte Venterwaentjies goed gesleep met volgelaaide Jetta’s (70Kw/150Nm, CSX/CLX) . So 160Nm is nog steeds piekfyn! ?

Andre C ·

Kom ons hoop die nuwe Sport kom SA toe.Hulle kan gerus ook n atmosferiese 1.4 aanbied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.