Ons was ʼn geruime tyd terug in die Kaap met die bekendstelling van Nissan se splinternuwe Micra. Regtig ʼn mooi ou buksie wat op Renault se Clio baseer is.
In ʼn paar opsigte is die Nissan vir my ʼn beter voertuig as die Clio waarop hy baseer is – maar een spesifieke probleem kan ek nie verby kyk nie, en dit ruïneer die hele voertuig.
Die Micra het ʼn netjiese ontwerp met ʼn uiters moderne binneruim. Nissan maak gebruik van hul nuwe D-vorm stuurwiel en dit voel sommer lekker in mens se hande. Al die skakelaars het ʼn gevoel van uiters goeie gehalte. Die afwerkings en bougehalte is in ʼn ander klas teenoor die Clio.
Waar die Micra vir my faal, is met sy versnellerreaksie. Bo op die platorand is daar redelike turbotraagheid op die klein 898cc driesilinder. Die turbo word eers mooi wakker hier vanaf 2 000 r/min waarna die enjin 66 kW en 140 Nm bied. Met die wegtrekslag moet mens redelik aggressief raak met die versneller sodat die voertuig nie vrek nie … dán spring alles aan die lewe en al die perde wil oombliklik uit die stal ontsnap.
Mens kom dadelik bietjie uit die versneller, dan wil die Micra weer op sy neus staan en kom amper tot stilstand. Ek was oortuig ek’t vergeet hoe om te bestuur, so ʼn ander motorjoernalis is ingespan – en tot hy het gesê daar’s iets nie lekker daar nie.
Terug na die positiewe aspekte. Die Micra het ʼn mooi tweekleur‑afwerking aan die binneruim met sitplekke wat goeie steun bied. Die stuurwiel kan kantel en vir reikafstand stel, so ʼn mens is verseker om gou gemaklik te wees. Die inligtingstelsel is toegerus met CarPlay en Android Auto met billike luidsprekers. Daar is elektriese vensters voor, ABS, ses lugsakke – de lot.
Die ritgehalte op die Micra is lieflike sag, sonder enige belaglike bakrol. Nissan het nie op reuse‑wiele met simpel bandprofiele besluit nie, maar eerder ʼn lekker 17”‑wiel met ʼn 45‑bandprofiel. Padhouvermoë is heel in die kol vir wat die enjin sal vereis.
Die Micra is maklik, dog hartseer, om op te som. Dit is regtig ʼn mooi, goeie voertuig wat goed met die Polo en Fiesta sou kon meeding, maar die enjin laat veel te wense. Sou Nissan die Micra met hul 1.2 viersilinderturbo of 1.5 diesel enjin bekendstel, dink ek dit sou ʼn groot verbetering bied. Ongelukkig is beide daai enjins baie duurder as die 900cc.
Die reeks lyk só:
Nissan Micra 66 kW Turbo Visia | R242 900 |
Nissan Micra 66 kW Turbo Acenta | R268 500 |
Nissan Micra 66 kW Turbo Acenta Plus | R283 900 |
Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/ 150 000 km waarborg en 3 jaar/ 90 000 km diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Opel Corsa 1.0T Enjoy | 85 kW/ 170 Nm | 5.0ℓ/100km | 5 jaar/ 120 000 km waarborg 3 jaar/ 60 000 km diensplan | R256 429 |
Peugeot 208 1.2T GT-Line | 81 kW/ 205 Nm | 4.5ℓ/100km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 3 jaar/ 45 000 km diensplan | R276 900 |
Volkswagen 1.0TSI Highline | 85kW/ 200Nm | 4.7ℓ/100km | 3 jaar/ 120 000 km waarborg 3 jaar/ 45 000 km diensplan | R292 800 |
Ford Fiesta 1.0T Titanium | 92kW/ 170Nm | 4.3ℓ/100km | 4 jaar/ 120 000 km waarborg 4 jaar/ 60 000 km diensplan | R304 900 |
Ek het slegs die kleinkapasiteit turboaangejaagde modelle hier ingesluit. Die Opel is ʼn winskoop teen dié prys. Die Ford en Volkswagen is albei splinternuut en bied tog puik waarde teen die hoë prys. Gaan toetsbestuur almal – die Micra is regtig ʼn lekker kar en dalk pla die turbotraagheid nie so baie soos vir my nie.
Ek lief my Micra 2017 Model. Baie baie ekonomies wat brandstof aanbetref!
Besef net weereens hoe goed my Polo 1.2 TSi (66 Kw) se enjin presteer (en reageer!) as ek hierdie berig lees. (Dan praat ek nie eens van die Polo 1.0 (70Kw) se prestasie, wat nog beter is ??)
n 17 duim wiel met 45 profiel op n klein karretjie soos die Micra sal ek as n ‘reuse wiel met simpel bandprofiel’ beskou