Padtoets: Prakties hoef nie duur te wees…

Die Mahindra TUV300.

Ek is maar nog altyd skepties oor die nuwe motorvervaardigers wat Suid-Afrika binnekom. Van hulle het regtig nie goeie waarde gebied nie en hul produkte was nie op standaard nie. Gelukkig is van hulle al weg. Daar is egter ʼn paar wat goeie waarde bied en van krag tot krag gaan. Een van hulle is Mahindra.

Mahindra se produkte is uiters gewild. Hulle het onlangs ʼn hele paar nuwe produkte bekendgestel, waaronder die TUV300. ʼn Agterwielaangedrewe diesel sewesitplek kompakte sportnutsvoertuig. Die TUV300 het nie eintlik enige mededingers nie. Daar is sewesitplekbussies soos Toyota se Avanza of dan groot sewesitpleksportnutse soos die Fortuner en Everest – maar nie ʼn kompakte sportnuts met sewe sitplekke in dié prysklas nie.

Die Mahindra TUV300.

Die vierkantige ontwerp is nie lelik nie, net anders. Ek hou daarvan. Die bougehalte is duursaam. Die binneruim is heel gemaklik en doeltreffend uitgelê. Die binneruim voel ook baie ruim. Al die moderne funksies is daar, van Bluetooth, lugreëling, elektriese vensters, lugsakke, ABS – tot outomatiese aan-en-afskakeling waar die voertuig self afsluit as jy by ʼn verkeerslig stilhou, die ratkas in neutraal sit en die koppelaar los. Sodra jy die koppelaar trap om die voertuig in rat te sit spring die enjin weer aan die gang. Die stelsel werk puik in meeste voertuie, al is dit bietjie onverfynd in ander. Die TUV300 het ʼn paar keer nie aangeskakel nie en ek moes die kar met die sleutel weer aanskakel. Hier is dus ruimte vir ontwikkeling met dié funksionaliteit.

Die TUV300 het ʼn indrukwekkende driesilinder 1,5 dieselenjin. Die enjin bied 74 kW en 240 Nm. Hy is ook glad nie dors nie en soek net 5,4 ℓ/100 km. Hy is beslis nie ʼn vuurpyl nie, maar die wringkrag is lekker sterk. Die TUV300 kan heel rustig 120 km/h op die snelweg handhaaf vir daai familie reistogte. Ritgehalte is heel goed al voel mens die soliede dryfas agter. Dit laat die Mahindra egter rateltaai voel. Die TUV300 is nie ʼn renmotor nie, so ek het nie sy padhouvermoë buite die gewonde bestuurstyl uitgetoets nie.

Dié Mahindra se troefkaart is wel die twee klein sitplekkies in die kattebak. Indien jy van tyd tot tyd nog twee sitplekkies kort, kan die TUV300 vir jou baie probleme oplos.

Daar is slegs een model in die reeks:

Die kompetisie lyk só, al kan hulle nie eintlik direk meeding nie:

Die Mahindra TUV300.

Die Mahindra TUV300.

Die Mahindra TUV300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mornay ·

As die ding klaar nie wil aan sit soos in die berig gese word, en ek neem aan dis n splinter nuwe een wat getoets is sien ek swaar dae voorentoe

Nee wat ek stoot eerder my ou NISSAN dankie
N.s 250 000 km en nog nie gebeur

Groete

Tilla ·

Mornay ek stem saam stoot liewer, maar voordat ons nog ons 30 jaar oue Nissan bakkie kon stoot het hulle 2 weke gelede besluit om dit maar te steel en self te probeer stoot, wat ons nou in ‘n penarie laat want wat koop mens nou wat bekostigbaar is en waarop jy kan staatmaak

Brendon ·

Dagsê Mornay

Baie dankie vir jou kommentaar. Dit word opreg waardeer. Die outomatiese aan en afskakeling stelsel kan wel afgeskakel word met ‘n knoppie in die kajuit sodat dit nie ‘n probleem is nie.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Spiekeries ·

Ek dink dit is baie onvanpas om die Fortuner en Everest in die vergelyking in te bring. Kwaliteit en pryse is glad nie in dieselfde liga nie. Hoekom nie eerder die RAV of Kuga nie?

Brendon ·

Dagsê Spiekeries,

Dankie vir jou kommentaar. Die TUV300 kan nie met die Rav4 of Kuga vergelyk word nie omdat hy 7 sitplekke het, en die Rav4 en Kuga nie. Dit is egter hoekom ek die Mahindra met die Fortuner, Everest, Avanza en Ertiga vergelyk.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Marcel ·

Hahaha die Rav en Kuga is nog duurder as die Fortuner en Everest, soos daar mooi in die berig gesê word is daar nie eintlik direkte kompetisie vir die voertuig nie.

gys ·

Wat Mahindra ook nie hier in hulle artikel se nie, is dat jy moet elke 6maande die voertuig laat diens. Of jy nou die kilometers gery het of nie. jy moet hom laat diens op sy diens kilometers of elke 6maande as jy nie sy km vol gery het nie.

Brendon ·

Dagsê Guys,

Dankie vir jou kommentaar. Ek’t nou vir Mahindra geskakel en die diensintervalle vir die TUV300 is 20 000km of 1 jaar. Net die eerste diens vind plaas op 10 000km.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Gerrit ·

Hallo
Daar is ander 7 seater modelle
Mazda 5,vw Touran se 7 seater of die caddy?

Brendon ·

Dagsê Gerrit,

Dankie vir jou kommentaar. Die VW Touran en Mazda 5 is nie meer nuut beskikbaar in Suid-Afrika nie. Die VW Caddy met 7 sitplekke kos R354 200, dus het ek dit nie by die vergelyking gevoeg nie.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Gerrit ·

Dis reg ja,maar maak dit n verskil?Ek persoonlik dink n goeie 2e handse Touran of Mazda sal baie beter kwaliteit wees as n nuwe Mahindra……

SE MAAR NET ·

Jul het verkeert met die Suzuki Warranty. Dis nou 5 Jaar / 200 000km…

Piet Pompies ·

Jammer, uit ondervinding is Suzuki motors SA se waarborg nie die waarde van die ink werd waarmee dit geskryf is.

Piet Pompies ·

Net soos Toyota, VW en ander bekende vervaardigers vervul Mahindra ook sy rol. Die ontwerp is vir my maar volksvreemd maar teen die tempo wat die ander voertuie sy pryse styg is Mahindra seker van sy bestaan. Terloops, gedurende 2007 het ek vir my ‘n nuwe Avanza, top van die reeks vir R138 000 gekoop, vandag kos die nuwe model (facelift) R281 000. Duidelik het Toyota sy mark eers gevestig en toe die pryse gelaai. Dieselfde met VW, die Touran (ons besit ‘n 2014 model) was duurder as die Caddy. Die Caddy se verkope het toegeneem en die begin van 2017 toe die Touran van die SA mark gehaal is was die Caddy en Touran se prys amper dieselfde. Nou lê VW se wins in die Caddy. Sal graag wil sien wat VW gaan opdis in 2018 tov nuwe modelle. Natuurlik die nuwe Polo reeks …….die Vivo reeks vervang met die huidige Polo reeks (dowscaled version) en dan soos die rookseine dit uitwys … VW bakkie gegrond op die huidige Polo platform..

Karmal tante ·

Ek dink die Mahindra is ‘n heel oulike ryding en veral sy prys het my beindruk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.