Padtoets: Puik pakket afgewater met ʼn lustelose enjin

Die Die Fiat Tipo 1.4 Lounge (Foto: Fiat)

Die Fiat Tipo 1.4 Lounge is ietwat van ʼn frustrasie vir my. Kom ek verduidelik hoekom. Die bakwerk is netjies. Die voertuig se proporsies is reg en verbasend groter as wat ek aanvanklik gedink het. Die Tipo se agterkant is regtig mooi. Die binneruim is goed uitgelê en die kwaliteit heeltemal goed. Die Tipo het eintlik ʼn indrukwekkende spesifikasievlak. Al die speelgoed wat ʼn mens sal wil hê in ʼn voertuig in dié klas is daar, van Bluetooth tot klimaat- en spoedbeheer, parkeerhulp, banddrukmonitors, die hele toetie.

Daar is egter twee probleme. Eerstens is Fiat nie ʼn vervaardiger wat ʼn reuse-markaandeel geniet in enige segment nie. Dit is glad nie slegte voertuie nie, maar die onstuimige tyd waardeur Fiat en Alfa is die afgelope 20 jaar het die handelsmerk skade gedoen. Die feit dat die Tipo Lounge nie goedkoop is nie help ook nie hul saak nie. Volkswagen het ʼn Golf beskikbaar teen R11 000 meer. Ja, daai Golf is die intreemodel, en dié Tipo die luuksste – maar ek kan nie sien dat enigiemand by sy of haar volle sinne die Fiat eerder as die Golf sal koop nie.

Die Die Fiat Tipo 1.4 Lounge (Foto: Fiat)

Die tweede probleem is die atmosferiese 1.4-viersilinderenjin. Die Engelse sê: “It couldn’t pull the skin off of a rice pudding.” Papier dui daarop dat die 1.4 70 kW en 127 Nm bied. Dit is eenvoudig net nie genoeg nie. Kia se 1.4 in die Rio het maar 74k W en 135 Nm – maar voel baie sterker. Die mense wat die bekendstelling bygewoon het, sê die 1.3-diesel wat in die sedan beskikbaar is, is puik.

Hy bied die selfde 70 kW, maar ʼn indrukwekkende 200 Nm. Dit is amper dubbel dié van die petrolweergawe. Dit bring my terug by die Golf. Dié loop met ʼn 1.0-driesilinderturbopetrolenjin met 81 kW en 200 Nm. Dit is meer as selfs die dieselenjin wat Fiat aanbied.

Die Die Fiat Tipo 1.4 Lounge (Foto: Fiat)

Fiat voer slegs voertuie in, so dit is vir hulle regtig moeilik om op prysvlak met ʼn reus soos VW, Toyota of Ford mee te ding aangesien daar geen uitvoerkrediete van die invoere afgetrek kan word nie. Dit is regtig jammer, want die pakket makeer regtig niks – maar die enjin kan net nie die mas opkom nie. Een ding wat die enjin wel goed regkry is die dat dit indrukwekkend lig is op brandstof.

Ek sal die Fiat Tipo 1.4 Lounge só opsom. Dit is ʼn lekker groot voertuig, met ʼn puik spesifikasievlak. Indien krag belangrik is, gaan soek elders. Indien nie het jy hier ʼn goeie voertuig wat nie só gewild is dat hy maklik gekaap of gesteel gaan word nie…. Daar is tog sprake van nuwe enjins in die nabye toekoms. Ons leef dus in hoop.

Die reeks lyk só:

Tipo 1.4 Pop sedan70kW/ 127Nm5.7ℓ/100kmR229 900
Tipo 1.4 Easy sedan70kW/ 127Nm5.7ℓ/100kmR249 900
Tipo 1.4 Pop luikrug70kW/ 127Nm5.7ℓ/100kmR249 900
Tipo 1.4 Pop Easy luikrug70kW/ 127Nm5.7ℓ/100kmR269 900
Tipo 1.3 Multijet Easy sedan70kW/ 200Nm3.7ℓ/100kmR274 900
Tipo 1.6 Easy outo sedan91kW/ 152Nm6.3ℓ/100kmR274 900
Tipo 1.4 Lounge luikrug70kW/ 127Nm5.7ℓ/100kmR289 900
Tipo 1.6 Easy outo luikrug91kW/ 152Nm6.3ℓ/100kmR294 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 3 jaar/ 100 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Focus 1.0T Trend92kW/ 170Nm5.0ℓ/100km4 jaar/ 120 000km waarborg

4 jaar/ 80 000km diensplan

R280 300
Kia Rio 1.4 Tec74kW/ 135Nm5.8ℓ/100km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

4 jaar/ 60 000km diensplan

R280 995
Mazda 3 1.6 Dynamic77kW/ 144Nm6.2ℓ/100km3 jaar/ onbeperkte km waarborg

3 jaar/ onbeperkte km diensplan

R290 500
Renault Megane 84kW Dynamique84kW/ 156Nm6.4ℓ/100km5 jaar/ 150 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R292 900
Volkswagen Golf 1.0TSI Trendline81kW/ 200Nm4.8ℓ/100km5 jaar/ 120 000km waarborg

3 jaar/ 90 000km diensplan

R300 900
Opel Astra 1.0T Enjoy77kW/ 170Nm4.4ℓ/100km5 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R301 716
Toyota Auris 1.6 Xi97kW/ 160Nm6.2ℓ/100km5 jaar/ 100 000km waarborg

3 jaar/ 90 000km diensplan

R306 300

Die mededingers is almal bitter goeie karre, en die Ford, Renault, Volkswagen en Opel het almal nuwe-generasie turboaangejaagde enjins. Die Ford is regtig ʼn winskoop en die Golf se enjin en ritgehalte onmiskenbaar. Ek sou die Golf koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris Ws ·

Dis ‘n mooi voertuig maar duidelik nie bedoel vir die jong geslag nie.Outoppies sal hom dalk geniet.

Johan ·

Nog aspekte om die Tipo te vermy is uiters swak inruilwaarde, duur instandhoudingskostes en onderdele wat nie altyd by die handelaars beskikbaar is nie.

johan II ·

“Lustelose enjin” lekker lag ek nou…die enjin se dae is getel. Oor n paar jaar gaan hul met n produk sit wat niemand wil hê nie. Gaan kyk bietjie wat bou Elon by Tesla! Jaag maar lekker rond met jul oneffektiewe 100jaar oue tegnologie, die binnebrand enjins is dood inie water.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.