Padtoets: Range Rover Sport die luuksste vuurpyl in die heelal?

Die Range Rover Sport (Foto: Land Rover)

As ek vir jou hier sê die jongste Ferrari is vinnig, sou jy heel moontlik sê: “Nou wat dan anders?” Dan wil ek nou vir jou sê: Daar is ʼn winskoop daar buite. Teen amper-amper R2 m is die Range Rover Sport Supercharged Autobiography ʼn winskoop. Kom ek verduidelik hoekom.

Van buite lyk dié model dalk na ʼn sportnutsvoertuig met naelloopskoene aan, maar dit is ʼn sportnuts met regte egte veldryvernuf en dan moet ons ook nie vergeet van die baanstormende krag en verrigtingsyfers nie.

Dié Range Rover Sport het ʼn asemrowende 5 ℓ superaangejaagde V8-petrolmonster vir ʼn enjin. Dié enjin is effe spesiaal: Hy lewer 375 kW tussen 6 000 – 6 500 r/min en 625 Nm tussen 2 500 en 5 500 r/min. Daai wringkragkurwe is amper so breed soos die Range Rover se 275/45/21 bande. In vandag se Afrikaans beteken dit dié Range Rover trek soos Usain Bolt wat deur ʼn perdeby bygedam is uit die blokke tot 100 km/h in slegs 5,3 sekondes en hy sal aanhou jaag tot ʼn indrukwekkende, maar beperkte 225 km/h. Ons moet egter onthou dat die Range Rover wel nogal hoog van die grond is en dat hy steeds twee en ʼn halwe ton weeg. Die enjin sal daai massa ver oor 225 km/h kan druk maar ek dink nie die remme en vering sal veilig kan byhou ná daai spoed nie.

Die Range Rover Sport (Foto: Land Rover)

Is die Range Rover Sport dan net oor die Sport? Nee, beslis nie. Dié Range Rover het ʼn heerlike binneruim. Dit is uiters luuks. Die sitplekke is vir my van die beste in dié bedryf. Dit kan op ʼn wintersoggend lekker warm word, of op ʼn warm somersdag koel. Die inligtingskerm kan twee verskillende beelde wys, een vir die passasier en een vir die bestuurder. Daar is skerms in die kopstutte vir die agterste passasiers om ook, elkeen met hul eie draadlose oorfone – fliek te kan kyk. Sjoe. Ongelukkig kry die bestuurder net ʼn gewone draadloos, geen flieks nie.  Die sitplekke is beklee met heerlik sagte nappa-leer onder jou boude en bokant jou kop is daar ʼn volle sondak. Die dak skuif heeltemal oop sodat die agterste passasiers ook na die sterre kan kyk so tussen die fliek deur.

ʼn Paar pelle het kom kuier toe ek die Rangie gehad het en een vra: “Hoekom haak jy nie die woonwa met hom nie?” “Twee redes,” sê ek. “Eerstens sal die ding my woonwa rekmerke sleep, en tweedens hy het nie ʼn haak nie.” “Hy het,” hoor ek. Verward gaan kyk ek. Daar in die kattebak is ʼn knoppie, en voila, daar vou die stang elektries onder die buffer uit. Nou’t ek al alles gesien.

Die gevoel van die Range Rover is iets besonders. ʼn Mens glo nie dit is moontlik nie, maar sodra jy in die Range Rover ry, is alles reg in die wêreld, al is dit nie, maar sjoe – die Range Rover laat dit beslis so voel. Daar is ʼn rede waarom die koningin ʼn Range Rover het. Dit is vir koninklikes bedoel.

Susan, Maroela Media se uitvoerende hoof, meen sy het al baie keer “lekker” gekry met die toetsmotors, maar die woord “lekker” skiet heeltemal tekort as dit by die Range Rover kom. “Soveel so dat ek al drie weke sukkel om my ervaring op skrif te sit. Die motor se spoed en krag is maar een ding wat almal wat saam met my vir ʼn toetsrit gegaan het, verbouereerd laat giggel het van die lekkerkry. (My pa, ʼn ou gryse wat al alles in die lewe beleef het, het gereken ek het hom “bang gery”.) ʼn Mens kan miskien sê dit voel of die Range Rover jou wil bederf – van die sitplek se talle verstellings wat seker maak jy sit heeltemal gemaklik, tot die skermpies in die agterkant van die kopstukke, waarop die kinders (met Bluetooth-oorfone op) tjoepstil in die oggend op pad skool toe ʼn fliek kon kyk terwyl ek in salige stilte ná die vroegoggendchaos na Classic FM kon luister.

Die Range Rover Sport (Foto: Land Rover)

“Soms, wanneer ek ʼn luukse motor toetsbestuur, neem dit so lank om die motor se verstellings en “features” onder die knie te kry dat ek dit naderhand sommer los en net lekker ry. Met die Range Rover was alle verstellings en ekstras maklik en logies, om te kry én om te verstaan.

“My brandstofrekening vir die week was weliswaar skrikwekkend, maar dit is nie noodwendig net die motor se skuld nie.

“Ek moet bieg dat ek in ʼn paar oomblikke van besete genot gewonder het of dit regtig nodig is om ʼn huis te besit as mens met ʼn Range Rover kan ry…. Die gevoel het gelukkig oorgewaai toe ek die volgende oggend weer saam met my kletsende, stryende kinders in my eie motor skool toe ry, en ek besef dis hoe dit hoort. Maar miskien sou ek, as ek kon,” sê Susan.

Christo, Maroela Media se digitale besigheidsbestuurder, meen die Range Rover is vir hom pragtig en gee die gevoel van: “Nou’t ek dit gemaak in die lewe.” Die speelgoed laat Christo se mond oophang, tot ʼn klein yskassie tussen die voorste sitplekke. Christo voel ʼn mens gaan moet begroot vir spoedkaartjies as jy so ʼn Range Rover ry. Glo my – as jy die R2 m het vir hom is ʼn ou spoedkaartjie nie vir jou ʼn probleem nie.

Ek sal die Range Rover Sport só opsom. Daar is nie ʼn mededinger vir dié Range Rover nie. Ja – daar is sportnutse wat net so vinnig is, maar nie een van sy mededingers sal kan byhou as mens in die veld gaan ry nie. Die kwaliteit is asemrowend en nou maak dit vir my sin waarom ʼn mens só ʼn bedrag geld aan ʼn voertuig bestee. Omdat jy dit het, kan en wil – sjoe, en daai enjin.

Die reeks lyk so:

RR Sport S SCV6250 kW/ 450 Nm10,8 ℓ/100 kmR1 152 032
RR Sport S TDV6190 kW/ 600 Nm7,8ℓ/100kmR1 180 918
RR Sport SE TDV6190 kW/ 600 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 214 418
RR Sport SE SCV6250 kW/ 450 Nm10,8 ℓ/100 kmR1 240 732
RR Sport SE SDV6225 kW/ 700 Nm7 ℓ/100 kmR1 337 810
RR Sport HSE TDV6190 kW/ 600 Nm7,8 ℓ/100 kmR1 376 818
RR Sport HSE SCV6250 kW/ 450 Nm10,8 ℓ/100 kmR1 470 332
RR Sport HSE SDV6225 kW/ 700 Nm7 ℓ/100 kmR1 600 210
RR Sport Autobiography Dynamic SCV6250 kW/ 450 Nm10,8 ℓ/100 kmR1 632 632
RR Sport HSE Dynamic Supercharged375 kW/ 625 Nm13,7 ℓ/100 kmR1 750 086
RR Sport HSE Dynamic SDV8250 kW/ 740 Nm8,7 ℓ/100 kmR1 762 526
RR Sport Autobiography Dynamic Supercharged375 kW/ 625 Nm13,7 ℓ/100 kmR1 920 886
RR Sport Autobiography Dynamic SDV8250 kW/ 740 Nm8,7 ℓ/100 kmR1 934 026
RR Sport SVR405 kW/ 680 Nm13,7 ℓ/100 kmR2 212 286

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

BMW X5 M423 kW/ 750 Nm11,1 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 938 932
Mercedes-AMG GLE 63410 kW/ 700 Nm11,8 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 938 984
Porsche Cayenne Turbo382 kW/ 750 Nm11,2 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

3 jaar/ 90 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 975 000

In dié klas is die kompetisie wild. Die Range Rover is die stadigste teen 225 km/h en die Porsche die vinnigste teen 279 km/h. Die BMW en Mercedes is beperk tot 250 km/h. Almal gaan naar wees op brandstof, maar ek het verwag dat die Rangie baie swaarder gaan wees as wat hy was – ek het 15,4 ℓ/100 km gehandhaaf. Soos ons gery het, het ek meer in die omgewing van 50 ℓ/100 km verwag. Al vier die motors is besonders spesiaal – maar in dié klas kies ek die Range Rover, die enigste ware 4×4 met laestrek tussen dié mededingers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Die Range Rover’s is voorwaar begeerlike waens! En dan ook baie bekwaam in die veld vir ‘n ekstra bonus.

Sy donker kant is egter katastrofiese depresiasie en hou maar “Land Rover Assist” se nommer op “speed dail”, jy gaan hulle gereeld bel! En sodra hy 200 000km op die klok het, verkoop jy hom aan ‘n skrootwerf, want dan word hy geklasifiseer as “beyond economic repair”…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.