Padtoets: Ry met die wind in jou hare in dié BMW

Die BMW 440i Cabriolet (Foto: BMW)

Ek as motormens met brandstof wat in my are vloei, hou van verskillende tipes motors. Nie net warm vuurvretende sportmotors, of net sportnutsvoertuie of bakkies nie. Wat ek wel vereis, is dat enige voertuig ten minste een ding baie goed kan doen. Indien die voertuig nie lig is op brandstof, of ruim, of mooi, of gemaklik, of vinnig, of stylvol of sterk nie – wat is die punt?

Ek’t aanvanklik met die BMW 440i Cabriolet gesukkel. Kyk, ek moet uit die staanspoor bieg – ek is nie dié BMW se teikenmark nie. Ek’t hopeloos te veel kinders vir die aantal sitplekke, en my vel is van Ierse afkoms – so die Afrikason, ʼn afslaandak en my vel is ʼn resep vir blase.

Ek wonder toe, hoekom nie net die doodgewone koepee-weergawe nie? Dit is eintlik heel eenvoudig. Tussen 17:00 en 20:00, terwyl die son sak op ʼn Sondagmiddag – die dak oop en die wind in jou hare, is daar min voertuie wat só lekker ry in daardie stadium.

Die BMW 440i Cabriolet (Foto: BMW)

Die Cabriolet se vering is anders as die Coupé en Gran Coupé sʼn. Dit is sagter geveer met meer fokus op gemak en ritgehalte, en minder op padhouvermoë. Dit sê geensins dat die 440i Cabriolet nie goed hanteer nie, net nie so vlymskerp soos die ander. Dit bring ons by BMW se nuwe troefkaart. Die 40i-enjin. Dit is ʼn 3.0-sessilinderturbo wat 240 kW en 450 Nm bied. Daai wringkrag is syfers wat voor die tyd van direkte brandstofinspuiting nie moontlik was nie. Dié enjin se versnellerreaksie is vlymskerp, en die kragband egalig oor die hele toerestrek. Let wel, 100 km/h is beskikbaar van stilstand af in 5.4 sekondes, en die 440i is beperk tot 250 km/h.

Die 40i-enjin het wel nog ʼn truuk wat hy in sy mou voer. BMW beweer ʼn gekombineerde brandstofverbruiksyfer van 6,8 ℓ/100 km. Dit is effe optimisties. Maar, op die oop pad haal mens daai syfer maklik teen 120 km/h. Al het die 40i-enjin reusekrag, kan hy net so lig wees op brandstof, indien jou voet dit toelaat.

Die BMW 440i Cabriolet (Foto: BMW)

Ek hou van BMW se binneruimstyl tans. Dit is eenvoudig en duursaam, dog uiters luuks. Die ergonomie is meer om die bestuurder gesentreer, en dit is vir my ʼn groot pluspunt. Die ritgehalte is indrukwekkend wat BMW regkry op sulke groot wiele met laeprofielbande.

Opsommenderwys is daar nog ʼn ding wat ons wat nie kuslangs woon nie, sal vang. Afslaandakmotors is volop teen die kus. Ek het self vir ses jaar in die Kaap gewoon, en vele male in ʼn afslaandak die pad tussen Kampsbaai en Houtbaai geniet met die seebries in my hare. Die son brand, maar nie so baie nie.

Die reeks lyk só:

ModelKragBrandstofverbruik0–100 km/hTopspoedPrys
BMW 420i Convertible135 kW/ 290 Nm6.2 ℓ/100 km8.2 sek230 km/hR739 750
BMW 430i Convertible185 kW/ 350 Nm6.6 ℓ/100 km6.4 sek250 km/hR856 376
BMW 440i Convertible sports-outo240 kW/ 450 Nm6.8 ℓ/100 km5.4 sek250 km/hR1 019 246

Die reeks word gedek deur BMW se 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan. Slegs die intreemodelle is gelys. Daar is handrat, outo en sports-outo asook Luxury line, Sports line en M Sport beskikbaar in elke enjin- en ratkas-kombinasie.

Die kompetisie lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruik0–100 km/hTopspoedWaarborgPrys
Ford Mustang 5.0 GT Convertible outo306 kW/ 530 Nm12.8 ℓ/

100 km

4.8 sek263 km/h4 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- diensplan

R944 900
Audi S5 Cabriolet Quattro260 kW/ 500 Nm7.7 ℓ/

100 km

5.1 sek250 km/h1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 028 000
Mercedes-AMG C43 Cabriolet 4Matic270 kW/ 520 Nm8.4 ℓ/

100 km

4.8 sek250 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 090 236

Tussen die mededingers lyk die Mustang soos ʼn winskoop. Dit is tóg ʼn V8 en baie dors. Die Audi, BMW en Mercedes-AMG se enjins is almal juwele. Hier gaan dit deur en deur oor persoonlike smaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

Maar aai, die Mustang het darem maar die ponies (en geskiedenis) agter hom!!!
Teen daai prys behoort brandstof kostes die eienaar ook nie te laat wakker lê nie. As jy wil brandstof spaar, koop ‘n rooi fiets!
Ek moet erken dat die Duitsers beter om draaie gaan as die Mustang, maar in ‘n reguit lyn is daai V8 se klank onverbeterlik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.