Ek as motormens met brandstof wat in my are vloei, hou van verskillende tipes motors. Nie net warm vuurvretende sportmotors, of net sportnutsvoertuie of bakkies nie. Wat ek wel vereis, is dat enige voertuig ten minste een ding baie goed kan doen. Indien die voertuig nie lig is op brandstof, of ruim, of mooi, of gemaklik, of vinnig, of stylvol of sterk nie – wat is die punt?
Ek’t aanvanklik met die BMW 440i Cabriolet gesukkel. Kyk, ek moet uit die staanspoor bieg – ek is nie dié BMW se teikenmark nie. Ek’t hopeloos te veel kinders vir die aantal sitplekke, en my vel is van Ierse afkoms – so die Afrikason, ʼn afslaandak en my vel is ʼn resep vir blase.
Ek wonder toe, hoekom nie net die doodgewone koepee-weergawe nie? Dit is eintlik heel eenvoudig. Tussen 17:00 en 20:00, terwyl die son sak op ʼn Sondagmiddag – die dak oop en die wind in jou hare, is daar min voertuie wat só lekker ry in daardie stadium.
Die Cabriolet se vering is anders as die Coupé en Gran Coupé sʼn. Dit is sagter geveer met meer fokus op gemak en ritgehalte, en minder op padhouvermoë. Dit sê geensins dat die 440i Cabriolet nie goed hanteer nie, net nie so vlymskerp soos die ander. Dit bring ons by BMW se nuwe troefkaart. Die 40i-enjin. Dit is ʼn 3.0-sessilinderturbo wat 240 kW en 450 Nm bied. Daai wringkrag is syfers wat voor die tyd van direkte brandstofinspuiting nie moontlik was nie. Dié enjin se versnellerreaksie is vlymskerp, en die kragband egalig oor die hele toerestrek. Let wel, 100 km/h is beskikbaar van stilstand af in 5.4 sekondes, en die 440i is beperk tot 250 km/h.
Die 40i-enjin het wel nog ʼn truuk wat hy in sy mou voer. BMW beweer ʼn gekombineerde brandstofverbruiksyfer van 6,8 ℓ/100 km. Dit is effe optimisties. Maar, op die oop pad haal mens daai syfer maklik teen 120 km/h. Al het die 40i-enjin reusekrag, kan hy net so lig wees op brandstof, indien jou voet dit toelaat.
Ek hou van BMW se binneruimstyl tans. Dit is eenvoudig en duursaam, dog uiters luuks. Die ergonomie is meer om die bestuurder gesentreer, en dit is vir my ʼn groot pluspunt. Die ritgehalte is indrukwekkend wat BMW regkry op sulke groot wiele met laeprofielbande.
Opsommenderwys is daar nog ʼn ding wat ons wat nie kuslangs woon nie, sal vang. Afslaandakmotors is volop teen die kus. Ek het self vir ses jaar in die Kaap gewoon, en vele male in ʼn afslaandak die pad tussen Kampsbaai en Houtbaai geniet met die seebries in my hare. Die son brand, maar nie so baie nie.
Die reeks lyk só:
Model | Krag | Brandstofverbruik | 0–100 km/h | Topspoed | Prys |
BMW 420i Convertible | 135 kW/ 290 Nm | 6.2 ℓ/100 km | 8.2 sek | 230 km/h | R739 750 |
BMW 430i Convertible | 185 kW/ 350 Nm | 6.6 ℓ/100 km | 6.4 sek | 250 km/h | R856 376 |
BMW 440i Convertible sports-outo | 240 kW/ 450 Nm | 6.8 ℓ/100 km | 5.4 sek | 250 km/h | R1 019 246 |
Die reeks word gedek deur BMW se 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan. Slegs die intreemodelle is gelys. Daar is handrat, outo en sports-outo asook Luxury line, Sports line en M Sport beskikbaar in elke enjin- en ratkas-kombinasie.
Die kompetisie lyk só:
Model | Krag | Brandstof-verbruik | 0–100 km/h | Topspoed | Waarborg | Prys |
Ford Mustang 5.0 GT Convertible outo | 306 kW/ 530 Nm | 12.8 ℓ/ 100 km | 4.8 sek | 263 km/h | 4 jaar/120 000 km- waarborg 5 jaar/100 000 km- diensplan | R944 900 |
Audi S5 Cabriolet Quattro | 260 kW/ 500 Nm | 7.7 ℓ/ 100 km | 5.1 sek | 250 km/h | 1 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R1 028 000 |
Mercedes-AMG C43 Cabriolet 4Matic | 270 kW/ 520 Nm | 8.4 ℓ/ 100 km | 4.8 sek | 250 km/h | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R1 090 236 |
Tussen die mededingers lyk die Mustang soos ʼn winskoop. Dit is tóg ʼn V8 en baie dors. Die Audi, BMW en Mercedes-AMG se enjins is almal juwele. Hier gaan dit deur en deur oor persoonlike smaak.
Maar aai, die Mustang het darem maar die ponies (en geskiedenis) agter hom!!!
Teen daai prys behoort brandstof kostes die eienaar ook nie te laat wakker lê nie. As jy wil brandstof spaar, koop ‘n rooi fiets!
Ek moet erken dat die Duitsers beter om draaie gaan as die Mustang, maar in ‘n reguit lyn is daai V8 se klank onverbeterlik!