Padtoets: Sorento, die perfekte middelweg  

Foto: Verskaf

Baie mense dink aan brandstofvretende geharde 4×4’s as dit kom by ʼn volgrootte sportnutsvoertuig. Selfs ek neig in daai rigting.

Maar Kia het ʼn vraag beantwoord wat ek nog nooit gevra het nie. Wil almal altyd ʼn geharde 4×4-ryding hê? Beslis nie. Daar is tog mense wat tevrede is met ʼn voorwielaangedrewe sportnuts met ʼn lekker sterk dieselenjin en outomatiese ratkas. Dís die Sorento.

Die ontwerp is regtig mooi. Dit bly getrou aan Kia se huidige ontwerpstyl. Die proporsies is vir my ook mooi. Die binneruim is wel waar die Sorento vir my uitblink. Daar is sitplek vir sewe, met indrukwekkende beenruimte in die tweede ry. Daar kan selfs volwassenes in die derde ry pas. Kia gebruik lekker sagte materiale van ʼn goeie gehalte en die pakket as ʼn eenheid is uiters gemaklik.

Foto: Verskaf

Bougehalte beïndruk ook. Die binneruim is gelaai met luukshede. Daar is dubbelsone klimaatbeheer, outomatiese ligte en ruitveërs, spoedbeheer en ʼn inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto met goeie klank. Ons is met die Sorento wildtuin toe, en die stil kajuit verbaas, al ry ʼn mens op ʼn ondeunde grondpad.

Die Sorento maak gebruik van Kia se indrukwekkende 2.2 CRDi-viersilinderturbodieselenjin. Dié enjin bied 147 kW en 440 Nm. Lekker sterk. Wat die pakket nou verder verbeter is die feit dat Kia nou ʼn 8-spoed outo gebruik. Die ratkas wissel seepglad deur die ratte, soveel so dat al hoe jy weet hy wissel ratte is as jy die toereteller dophou.

100 km/h van stilstand af is beskikbaar in 9,4 sekondes. Die Sorento sal ook aanhou draf tot ʼn indrukwekkende 203 km/h. Sy troefkaart is wel dat hy ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,0 ℓ/ 100 km werklik kan behaal – puik vir dié grootte voertuig.

Foto: Verskaf

Ritgehalte in die Sorento is uit die boonste rakke. Al ry hy op groot 18”-wiele het die bande steeds ʼn behoorlike profiel wat die sagte rit help. Die vering is goed gekalibreer en al ry die Sorento lekker sag is daar nie regtig enige bakrol om oor te kla nie. Die sagte vering en lekker bande bied ʼn sportnuts wat ʼn grondpad met gemak kan aandurf sonder om die passasiers ongemaklik te skud. Padhouvermoë is in die kol vir dié grootte sportnutsvoertuig.

Indien mens na ʼn volgrootte sportnutsvoertuig wil kyk wat nié ʼn leerraam met laestrek 4×4 het nie, is die Sorento die beste waarde-vir-geld-aanbieding. Daar is ander, maar hulle is almal in die premie-luukse spasie, soos BMW se X5 en so meer.

Die reeks lyk só:

Sorento 2.2CRDi LX147 kW/ 440 Nm6,3 ℓ/ 100 kmR579 995
Sorento 2.2CRDi EX147 kW/ 440 Nm6,3 ℓ/ 100 kmR609 995
Sorento 2.2CRDi AWD LX147 kW/ 440 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR619 995
Sorento 2.2CRDi AWD EX147 kW/ 440 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR649 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Hyundai Santa Fe 2.2D Premium142 kW/ 440 Nm7,8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R599 900

Die Sorento het slegs een direkte mededinger – dis die Hyundai Santa Fe. ʼn Mens kan nie regtig die Sorento met BMW se X5 of Volkswagen se Touareg vergelyk nie want daai karre kos almal by R1m.

ʼn Mens kan ook nie die Sorento met die Toyota Fortuner, Ford Everest of Mitsubishi Pajero Sport vergelyk nie want daai is almal leerraam-voertuie met soliede dryfaste agter en bied ʼn heeltemal ander bestuurervaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marco polo ·

Gaap. Nog ‘n stasiewa wat voorgee om ‘n 4×4 te wees. Maar dan ook, my persoonlike antwoord op Kia se vraag is ja.

Boesman ·

Puik voertuig…………sal myne vir niks verruil nie. En nee, Marco Polo, dis allesbehalwe ‘n stasiewa wat voorgee om ‘n 4×4 te wees………

Diefie ·

Maroela plaas asb my kommentaar. Ek wil baie graag ‘n klip in die bos gooi. Moet tog nooit ‘n Renault Kwid koop nie! Nuut of oud. My dogter ry een, of sal ek sê, het een? Die uitlaat pyp val sommer af, die radio is iets om oor te huil en die Bluetooth het gaan kuier en nooit weer teruggekom nie. Nog ‘n hele paar goedjies is verkeerd. Jy kan darem die motor aanskakel en ‘n paar sekondes wag en dan die radio se knoppie druk en sie daar werk die radio as jy gelukkig is. Jy kan nie oor Renault se diens kla nie, want daar is geen diens nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.