Padtoets: Sportnuts-verkoopsyfers maak nie sin nie

Die Pajero Sport. Foto: Verskaf

In die groot bakkiegebaseerde sportnutsvoertuig-segment is daar ná die vertrek van GM net drie mededingers oor: Toyota se Fortuner, Ford se Everest en Mitsubishi se Pajero Sport. Daar is nóg twee mededingers op pad, Nissan se Terra en Isuzu se MU-X. Terwyl ons wag en daar net drie is, kan ek nie uitwerk hoekom die Pajero Sport net 24 eenhede in Maart 2018 verkoop het nie.

Die Fortuner lei die segment met 1 274 verkope en die Everest ook regtig sterk met 559. Dus is die Pajero Sport nie in dieselfde sonnestelsel nie. As ek my besluit slegs op die produk grond, is daar géén rede hiervoor nie.

Die Pajero Sport se voorkoms is nie na almal se smaak nie, maar ek hou daarvan – veral die voorkant. Agter is vir my effe kieskeurig – maar mens raak gewoond daaraan. Die binneruim is waar die Pajero Sport vir my uitblink. Dit is eenvoudig genoeg, maar gee ʼn indrukwekkend luukse gevoel. Ergonomies is al die kontroles mooi uitgelê, en die paneelbord van sagte materiale aanmekaargesit. Die derde ry sitplekke bied goeie ruimte, selfs vir volwassenes.

Spesifikasievlakke is heel in die kol vir dié klas voertuig. Waar ek glo die Pajero Sport sal uitblink, is in die veldryafdeling. Die Pajero Sport het Mitsubishi se bekende Super Select II 4×4-stelsel. Daar is afdraandbeheer en ʼn middel- en agterste ewenaarslot. My ervaring is dat Mitsubishi se 4×4-stelsel sy kop bo water kan hou teen enige mededinger, en die meeste uitstof.

Mitsubishi se nuwe 2.4-viersilinderturbodieselenjin is indrukwekkend. Dit bied 133 kW en 430 Nm. Gepaard met Mitsubishi se nuwe 8-spoed-outokas bied dié Pajero Sport goeie brandstofverbruik. Die ritgehalte is verrassend gemaklik en aangenaam. Padhouvermoë is heel goed vir dié klas, maar mens moet onthou dat die Pajero Sport ʼn groot wa is met ʼn hoë swaartepunt.

Die slegte verkoopsyfers is vir my ʼn frustrasie. Ek weet wat 150 verkope ʼn maand vir Mitsubishi sou beteken. Dit sou ook amper nie deur Ford & Toyota gevoel word nie, én ek glo vas dat die Pajero Sport nie vir die ander twee hoef terug te staan nie, en hy is boonop effe goedkoper. Indien jy in dié mark is, gaan toetsbestuur een – jy sal moontlik aangenaam verras word.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi Pajero Sport 2.4D outo133 kW/430 Nm8 ℓ/100 kmR569 995
Mitsubishi Pajero Sport 2.4D 4×4 outo133 kW/430 Nm8.1 ℓ/100 kmR599 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4 outo130 kW/450 Nm8.1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R646 800
Ford Everest 3.2 4WD XLT147 kW/470 Nm8.2 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R655 000

Ek glo dat die versekering op die Pajero Sport baie goedkoper sal wees as die ander twee mededingers, en hy is R50 000 goedkoper … hy verdien ʼn tweede kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Snuffels ·

Die probleem is mens verloor te veel geld wanneer mens hom weer verkoop, waar met die Toyota mens weer n goeie prys kry en nie meeste van jou geld verloor nie. My rede hoekom ek die Toyota gekoop het

Piet Pompies ·

Ons is tans in die mark vir ‘n nuwe voertuig en ‘n Sportnuts voertuig is hoog op die inkopie lys. Die prys van die beskikbare voertuie soos in die berig hier bo plaas almal ongelukkig buite ons koopkrag. Die volgende stap is natuurlik om af te beweeg na die Mini Sportnuts voertuig mark. Die enigste voertuig wat ons werklik van hou is die Ford Eco sport maar die enjin reeks, alhoewel betroubaar, is duur om te onderhou. Nou verneem ons dat Volkswagen werk aan ‘n T-Cross model wat op die platform van die nuwe Polo gebou gaan word. Blykbaar is die moontlikheid groot dat die model in SA gebou gaan word. Hopenlik sal sy prys bekostigbaar wees.

Hou van opsies ·

Ja, maar jy kan in n splinternuwe Fortuner weg ry vir onder R500k. En om die waarborg te verdubbel kos jou nie veel meer nie. Ek stem wel saam dat die Pajero Sport se binneruim tops in sy klas is (dit weeg selfs goed op teen n duurder ryding soos die Prado)

Henry Stopforth ·

goeiedag.Ek het lank Mitsubishi gery. Swak diens.Wag jou agterent af vir parte wat van oorsse af moet kom.Die laaste strooi was toe my voertuig in n ongeluk was.7 maande gewag vir die voertuig herstel by paneelklopper aangesien parte van oorsee moes kom.Toe verlaat ek hulle en ek gee nie om hoe mooi die voertuig is en hoe goedkoop nie en of hulle nou al verbeter het nie , nooit weer nie. Daardie tyd vir my gese hulle is oorgeneem deur n ander maatskappy.Verder het hulle geen hulp aangebied om bv. vir my n voertuig aan te bied om intussen mee te ry terwyl hulle wag vir die parte/part nie.Ek moes gaan huur. TATA MITSUBISHI.Dood tevrede met my Ford Ranger en Fortuner.

Kaptein ·

Mitsubishi hoofkantoor stel te min belang in die Suid Afrikaanse mark vir mense om sulke groot geld te waag op ‘n Mitsubishi motor. My opinie – ek is bereid om verkeerd bewys te word.
Baie goeie produkte, met swak ondersteuning in Suid-Afrika.

Koos1 ·

Hou in gedagte dat maatskappye nie net motors verkoop nie, maar ook ‘n naam en diens. Alles wat hierbo gesê is, is waar. Naverkope diens, beskikbaarheid van onderdele, beskikbaarheid van agente en betroubaarheid is in hierdie ryklas van onskatbare waarde, en R50000.00 is kleingeld as die faktore in ag geneem word. Verder doen Mitsubishi nie veel om hulle voertuie beter te bemark nie. Die fout vir hulle lae verkope syfer, moet by hul self gesoek word.

bgj van der westhuizen ·

alles gaan oor diens lewering in van dag se tyd tyd is geld as jy nie kan lewer nie gaan jy nie verkoop nie

Awie Opperman ·

Dit sou insiggewend wees om die totale verkope verder te verdeel om te bepaal hoeveel 2.4 Fortuners en 2.2 Everest verkoop is. Beide is heelwat goedkoper as die intreevlak Pajero Sport. Herverkoopwaarde en instandhoudingskoste het my laat besluit op die Fortuner.

Chris Ws ·

Ek het saam met ‘n vriend Mighty Men saamtrek toe gery van Pretoria af en terug.Soontoe het ek voor gesit en die rit was wonderlik.Met die terug keer het ek aleen agter gesit terwyl ‘n ander vriend weer voor gesit het.My agterwereld was naderhand so seer ek het nie geweet hoe om meer te sit nie net om die seer te probeer keer.Ek het nog nooit in enige voertuig sulke intense ongemak verduur nie.Nee dankie ,al kry ek ‘n Mitsubishi Pajero verniet smous ek hom dadelik!’n Vriend in Australia het een gery maar dit was oook van korte duur.Parte was te duur na sy sin.Hy het ‘n Nissan Patrol diesel gekoop en ry hom nou al 15 jaar sonder probleme en hulle ry gereeld lang afstande in die “outback” met vakansie.Ek onthou nog toe hy hom die dag gekoop het en my sy prys vertel het.Ek het amper op my rug geval toe ek uitvind die Patrol is feitlik dubbel die prys hier op daai tydstip!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.