Padtoets: Stille waters, diepe grond…

Die Kia Rio. Foto: Verskaf

Ek glo motorjoernaliste het die lekkerste werk op aarde, maar omdat ons gereeld verskillende voertuie toetsbestuur en motorbekendstellings bywoon, moet ʼn motor gewoonlik baie goed wees om te beïndruk.

Terselfdertyd is dit ook moeilik om ʼn voertuig in ʼn paar minute of kilometer te leer ken.

Een só ʼn motor was die Kia Rio. Met die bekendstelling was die roete nie baie lank nie en het die motors baie min kilo’s gehad. Toe die Rio by die kantoor opdaag vir sy deeglike toets, was dit heeltemal ʼn ander voertuig.

Die Rio se ontwerp is steeds mooi, stiller eerder as “wintie” – maar ek hou daarvan. Die binneruim is eintlik luuks vir dié klas, en uiters gemaklik. Dan kom ons by die verbasende deel. Die Rio het twee verskillende uitrustings in sy kas. Mens kan dit regtig net rustig vat en uiters goeie brandstofverbruik kry terwyl jy dit doen – 6.1 ℓ/100 km, so duidelik is ʼn turbopetrolenjin met klein kapasiteit nie nodig nie.

Maar indien jy bietjie haastig wil wees, skop ʼn paar ratte terug en laat die toere bou, by 5 000 r/min trek die Rio vinnig sy ander pakkie aan en dan snol hy tot by 6 300 r/min met nuutgevonde dringendheid.

Die Kia Rio. Foto: Verskaf

Nee, dit is geen witwarm luikrug nie, maar enige persoon wat sê dat die atmosferiese 1.4-viersilinderpetrolenjin pap is, weet nie hoe om die beste uit hom uit te kry nie. Dié enjin bied 74 kW en 135 Nm. Om te dink, die uiters gewilde Ford Escort 1600 Sport uit die 70’s het maar 62 kW en 125 Nm gebied – en die Escort wás wintie. Die Rio sal 0-100 km/h in 11.5 sekondes aflê en 176 km/h behaal. Oorgenoeg, dink ek.

Op die pad is die kajuit goed geïsoleer – amper te goed! As jy nie die spoedmeter dophou nie, hol jy sommer vinnig 160 km/h op die snelweg. Die ritgehalte is lekker sag en die padhouvermoë heeltemal voldoende. Die wisselaksie van die handrat is seepglad en die meganisme voel asof die ingenieurs hom gemaak het om duisend jaar te hou.

Eenstryk deur ʼn puik kar. As jy een koop, gaan jy ook sy verskeie karakters leer ken en maats raak met hulle almal. ʼn Eienskap waarna elke motorvervaardiger streef, is dat jy jou kar sal liefhê, en ek dink nie dit sal moeilik wees om jou hart op ʼn Rio te verloor nie.

Die reeks lyk só:

Rio 1.2 LS62 kW/120 Nm5.4 ℓ/100 kmR219 995
Rio 1.4 LX74 kW/135 Nm5.7 ℓ/100 kmR234 995
Rio 1.4 LX outo74 kW/135 Nm6.0 ℓ/100 kmR247 995
Rio 1.4 EX74 kW/135 Nm5.8 ℓ/100 kmR249 995
Rio 1.4 EX outo74 kW/135 Nm6.0 ℓ/100k mR262 995
Rio 1.4 TEC74 kW/135 Nm5.8 ℓ/100 kmR274 995
Rio 1.4 TEC outo74 kW/135 Nm6.0 ℓ/100 kmR287 995

 

Slegs die luikrugmodelle is gelys. Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Swift 1.4 GLS70 kW/130 Nm5.5 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

3 jaar/60 000 km- diensplan

R225 900
Ford Fiesta 1.0T Ambiente74 kW/170 Nm4.3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R226 900
Toyota Yaris 1.5 Pulse82 kW/136 Nm5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R228 700
Opel Corsa 1.0T Enjoy85 kW/170 Nm5 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km- diensplan

R234 300
Mazda 2 1.5 Individual82 kW/145 Nm5.5 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R243 300
Peugeot 208 1.2T GT Line81 kW/205 Nm4.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R259 900
Renault Clio 88kW turbo GT-Line88 kW/205 Nm5.3 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R264 900
Volkswagen Polo 1.2TSI Highline81 kW/175 Nm5.1 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R278 600
Hyundai i20 1.4 Sport85 kW/160 Nm6.5 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

3 jaar/60 000 km- diensplan

R292 900

Die kompetisie is wild in dié segment. Die Suzuki, Ford en Toyota is ware winskope. Die Hyundai se prys is heeltemal te kwaai. Hoewel die Rio hoog prys tussen die mededingers, is sy gehalte onmiskenbaar. Hy het die sterkste spesifikasievlak en beste waarborg tussen die mededingers. Hy is ook van die ruimste in dié klas en dus beslis ʼn opsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ekke ·

Ek ry die Kia Sportage. Was skrikkerig om weg te beweeg van die ou name soos Volkswagen en Toyota. Maar ek was nog nie een dag spyt nie. Hierdie voertuig se werkverrigting is puik. Hanteer soos n droom en vertoon ook pragtig.

Paul ·

Hmmm… 11.5 sekondes van 0 tot 100 is “oorgenoeg”? Dalk in die 1990s…

Selfs ‘n Toyota Etios kan dit in 10.6 sekondes doen…

willie ·

Kia se tv advertensie maak dat ek inderdaad NOOIT ñ Kia sal koop nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.