Ons het voorheen berig oor ʼn Volvo S90. Die D5 Inscription om presies te wees. In daai berig kan mens lees dat ons smoorverlief is op die gróót Volvo. Van tyd tot tyd ervaar mens ʼn voertuig met iets spesiaals. Die S90 Volvo is net só ʼn voertuig.
Wat is die verskil tussen dié T6 en die D5? Omtrent 60 kW en 2 500 r/min. Die bakwerk, binneruim, ratkas, vering en bande is alles dieselfde. Wat verskil is die D5 is ʼn diesel, en die T6 is ʼn turbopetrol. Die enjin verander ietwat die S90 se persoonlikheid. Die D5 is meer van ʼn gemanierde ou dienskneg – en die T6 ʼn twintigjarige renjaer in ʼn Armani-pak.
Volvo se ontwerptaal is duidelik met die S90. Die skoon lyne is vir my indrukwekkend mooi. Die T6 het kleiner wiele op as die D5 en dit maak ʼn opmerkbare verskil aan die ritgehalte. Ek verkies die effe kleiner wiel met ʼn groter bandprofiel.
Die binneruim is steeds waar die S90 my verstom. Dit is vir my een van die mooiste, luukse binneruime wat tans in die mark is. Volvo probeer jou nie beïndruk met knoppies en fieterjasies nie. Alles is daar, afstandbeherende spoedbeheer, ʼn magdom veiligheidstelsels, de lot – maar alles word beheer deur een skoon skerm in die middel van die kajuit. Dit is vir my innoverend.
Watter een sou ek kies? As ek ʼn S90 moet koop, die D5 Inscription vir my. As ek bietjie meer ruimte het om te speel, dan kies ek die V90 Cross Country D5 Inscription. Die stasiewa is vir my mooier, en die grondvryhoogte met allewielaandrywing maak die V90 ʼn meer veelsydige voertuig vir enige toestande wat jy moontlik kan teenkom.
Die reeks lyk só:
S90 T5 Momentum | 187 kW/350 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R712 400 |
S90 D4 Momentum | 140 kW/400 Nm | 4.4 ℓ/100 km | R733 300 |
S90 T5 R-Design | 187 kW/350 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R742 500 |
S90 T5 Inscription | 187 kW/350 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R756 800 |
S90 D4 R-Design | 140 kW/400 Nm | 4.4 ℓ/100 km | R763 300 |
S90 D4 Inscription | 140 kW/400 Nm | 4.4 ℓ/100 km | R777 600 |
S90 D5 AWD Momentum | 173 kW/480 Nm | 4.8 ℓ/100 km | R817 200 |
S90 D5 AWD R-Design | 173 kW/480 Nm | 4.8 ℓ/100 km | R847 300 |
S90 D5 AWD Inscription | 173 kW/480 Nm | 4.8 ℓ/100 km | R861 600 |
S90 T6 AWD Momentum | 235 kW/400 Nm | 7.2 ℓ/100 km | R875 300 |
S90 T6 AWD R-Design | 235 kW/400 Nm | 7.2 ℓ/100 km | R905 300 |
S90 T6 AWD Inscription | 235 kW/400 Nm | 7.2 ℓ/100 km | R919 700 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk so:
Jaguar XF 30t R-Sport | 221 kW/400 Nm | 6.8 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km- waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R930 175 |
BMW 540i M Sport | 250 kW/450 Nm | 7.2 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R1 095 566 |
Mercedes-Benz E400 AMG Line 4Matic | 245 kW/480 Nm | 7.9 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan | R1 047 306 |
Teen sy mededingers is die S90 ʼn winskoop, en tóg só mooi.
‘n Gesiene familie lid van ons het in sy leeftyd tot voor sy aftrede altyd die veiliger motor gekoop bo spoed en moderne ontwerp, hy was ‘n Volvo eienaar. Tyd het vir hulle ook aangestap en met aftrede het ander eienskappe soos ekonomiese brandstofverbruik en laer instandhoudingskoste ook ter sprake gekom. Hy skaf toe vir hom ‘n nuwe Mercedes aan, net om te besef dat hy al die jare vir homself baie voordele ontneem het. Na verkope diens op die Mercedes was uitstaande, sekere herstelwerk gedurende dienste is gratis reg gemaak. Hier het hy nie net naam gekoop nie, maar doeltreffendheid. Persoonlik dink ek Volvo is ‘n uitstekende motor…kan ongelukkig nie dieselfde sê vir naverkope diens….