Padtoets: Stylvol – selfs in draftekkies

Die Volvo S90 T6 R-Design (Foto: Volvo)

Ons het voorheen berig oor ʼn Volvo S90. Die D5 Inscription om presies te wees. In daai berig kan mens lees dat ons smoorverlief is op die gróót Volvo. Van tyd tot tyd ervaar mens ʼn voertuig met iets spesiaals. Die S90 Volvo is net só ʼn voertuig.

Wat is die verskil tussen dié T6 en die D5? Omtrent 60 kW en 2 500 r/min. Die bakwerk, binneruim, ratkas, vering en bande is alles dieselfde. Wat verskil is die D5 is ʼn diesel, en die T6 is ʼn turbopetrol. Die enjin verander ietwat die S90 se persoonlikheid. Die D5 is meer van ʼn gemanierde ou dienskneg – en die T6 ʼn twintigjarige renjaer in ʼn Armani-pak.

Volvo se ontwerptaal is duidelik met die S90. Die skoon lyne is vir my indrukwekkend mooi. Die T6 het kleiner wiele op as die D5 en dit maak ʼn opmerkbare verskil aan die ritgehalte. Ek verkies die effe kleiner wiel met ʼn groter bandprofiel.

Die Volvo S90 T6 R-Design (Foto: Volvo)

Die binneruim is steeds waar die S90 my verstom. Dit is vir my een van die mooiste, luukse binneruime wat tans in die mark is. Volvo probeer jou nie beïndruk met knoppies en fieterjasies nie. Alles is daar, afstandbeherende spoedbeheer, ʼn magdom veiligheidstelsels, de lot – maar alles word beheer deur een skoon skerm in die middel van die kajuit. Dit is vir my innoverend.

Watter een sou ek kies? As ek ʼn S90 moet koop, die D5 Inscription vir my. As ek bietjie meer ruimte het om te speel, dan kies ek die V90 Cross Country D5 Inscription. Die stasiewa is vir my mooier, en die grondvryhoogte met allewielaandrywing maak die V90 ʼn meer veelsydige voertuig vir enige toestande wat jy moontlik kan teenkom.

Die reeks lyk só:

S90 T5 Momentum187 kW/350 Nm6.5 ℓ/100 kmR712 400
S90 D4 Momentum140 kW/400 Nm4.4 ℓ/100 kmR733 300
S90 T5 R-Design187 kW/350 Nm6.5 ℓ/100 kmR742 500
S90 T5 Inscription187 kW/350 Nm6.5 ℓ/100 kmR756 800
S90 D4 R-Design140 kW/400 Nm4.4 ℓ/100 kmR763 300
S90 D4 Inscription140 kW/400 Nm4.4 ℓ/100 kmR777 600
S90 D5 AWD Momentum173 kW/480 Nm4.8 ℓ/100 kmR817 200
S90 D5 AWD R-Design173 kW/480 Nm4.8 ℓ/100 kmR847 300
S90 D5 AWD Inscription173 kW/480 Nm4.8 ℓ/100 kmR861 600
S90 T6 AWD Momentum235 kW/400 Nm7.2 ℓ/100 kmR875 300
S90 T6 AWD R-Design235 kW/400 Nm7.2 ℓ/100 kmR905 300
S90 T6 AWD Inscription235 kW/400 Nm7.2 ℓ/100 kmR919 700

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

Jaguar XF 30t R-Sport221 kW/400 Nm6.8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R930 175
BMW 540i M Sport250 kW/450 Nm7.2 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 095 566
Mercedes-Benz E400 AMG Line 4Matic245 kW/480 Nm7.9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 047 306

Teen sy mededingers is die S90 ʼn winskoop, en tóg só mooi.

Die Volvo S90 T6 R-Design (Foto: Volvo)

Die Volvo S90 T6 R-Design (Foto: Volvo)

Die Volvo S90 T6 R-Design (Foto: Volvo)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Pompies ·

‘n Gesiene familie lid van ons het in sy leeftyd tot voor sy aftrede altyd die veiliger motor gekoop bo spoed en moderne ontwerp, hy was ‘n Volvo eienaar. Tyd het vir hulle ook aangestap en met aftrede het ander eienskappe soos ekonomiese brandstofverbruik en laer instandhoudingskoste ook ter sprake gekom. Hy skaf toe vir hom ‘n nuwe Mercedes aan, net om te besef dat hy al die jare vir homself baie voordele ontneem het. Na verkope diens op die Mercedes was uitstaande, sekere herstelwerk gedurende dienste is gratis reg gemaak. Hier het hy nie net naam gekoop nie, maar doeltreffendheid. Persoonlik dink ek Volvo is ‘n uitstekende motor…kan ongelukkig nie dieselfde sê vir naverkope diens….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.