Padtoets: Tweede skoot in die kol

Die nuwe Subaru XV (Foto: Subaru)

Subaru het ʼn paar jaar gelede die eerste XV bekendgestel. Hulle was baie trots op hul voertuig – maar ek was nie oortuig met die ontwerp nie. Nou is die nuwe XV beskikbaar – en dit lyk stukke beter.

Nóg ʼn rede waarom ek baie respek het vir die XV is die feit dat dit ʼn kruismodel is – maar tóg vierwielaandrywing het met indrukwekkende grondvryhoogte, 220 mm om presies te wees. Daar is mediumgrootte sportnutsvoertuie wat nie eens 200 mm het nie.

Een van die probleme wat ek vir ʼn geruime tyd met Subaru gehad het, was dat daar nie ʼn dieselenjin beskikbaar was nie. Toe bring hulle diesel Suid-Afrika toe, maar hul DPF (Diesel Particulate Filter) het baie probleme gegee omdat daar ʼn paar vereistes is vir dit om goed te werk. Die hoofvereiste is dat die voertuig goed op temperatuur kom en dan genoeg tyd het om deur sy herlewingsiklus te werk. Subaru het intussen besluit om nie meer die dieselmodelle in Suid-Afrika te verkoop nie.

Die nuwe Subaru XV (Foto: Subaru)

Aanvanklik was ek teleurgesteld, maar Subaru het in die tussentyd vir hul 2.0-viersilinderbokserenjin direkte brandstofinspuiting gegee. Dit verbeter die wringkrag en brandstofverbruik aansienlik. Nou sit mens met ʼn Subaru XV 2.0 CVT met vierwielaandrywing wat ʼn mens op die oop pad maklik 6 ℓ/100 km bied. Dit is voorwaar ʼn prestasie. Ouer Subaru’s het gebrul om 10 ℓ/100 km te haal. Die 2.0-viersilinderpetrol bied 115 kW en 196 Nm. Die enjin gaan gepaard met Subaru se CVT-palwisseltransmissie. Subaru het baie werk gedoen aan dié ratkas en dit so geprogrammeer dat dit ʼn gewone outo na-aap en “ratte wissel”. Ons het ʼn ruk gelede met dié ratkas gesleep in die Subaru Forester, en dit is ʼn goeie kombinasie.

Die ontwerp is vir my taf genoeg om soos ʼn ernstige kruismodel te lyk. Die binneruim is baie meer luuks as ouer Subaru’s. Dit is ergonomies uitgelê, en gee vir mens tóg die gevoel van ʼn Japannese voertuig, wat nie meer ʼn slegte ding is nie. Daar is slim tegnologieë beskikbaar in die XV, soos Apple Carplay en Android Auto, asook Eyesight Camera. Subaru se Eyesight-stelsel werk indrukwekkend goed en is meer betroubaar as dit vergelyk word met ander infrarooi- of radarstelsels. Die Eyesight-stelsel bied afstandbeheerde spoedbeheer en botsingwaarskuwing.

Die nuwe Subaru XV (Foto: Subaru)

Die ritgehalte op die XV is puik. Dit is ʼn kombinasie tussen bande met ʼn behoorlike profiel en sagte vering. Al is die vering lekker sag, is daar nie wilde bakrol nie – ʼn goeie kompromie. Padhouvermoë is vir my deesdae ietwat alledaags. Daar is nie karre in dié klas wat slegte padhouvermoë het nie. Bande en veringstelsels het só goed gevorder dat dit nie eintlik meer ʼn probleem is op enige voertuie nie. Die XV het wel Subaru se wêreldberoemde Symmetrical All Wheel Drive wat tans die wêreld se gewildste stelsel is, bo Audi se Quattro. Subaru se stelsel werk indrukwekkend goed in sneeulande – iets waarvan ons hier in sonnige Suid-Afrika nie veel weet nie.

Ek kan die XV maklik opsom. Dit is ʼn ware kruismodel met egte vierwielaandrywing en grondvryhoogte. Die brandstofverbruikkwale is nou opgelos en die binneruim baie luukser as sy voorganger. Die XV is vir my nou ʼn ware mededinger in die segment.

Die reeks lyk só:

Subaru XV 2.0i115 kW/ 196 Nm7.3 ℓ/100 kmR393 000
Subaru XV 2.0i-S ES115 kW/ 196 Nm7.3 ℓ/100 kmR450 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die Subaru XV het geen direkte mededingers nie. Voertuie soos die Nissan Qashqai is nie meer beskikbaar met allewielaandrywing nie. Daar is ʼn magdom vierwielaangedrewe sportnutsvoertuie – maar dan is hulle ook baie duurder as die Subaru. Die enigste vierwielaangedrewe voertuig wat in dimensies naby kom, is die Renault Duster. Ford se EcoSport is selfs ook te klein. Gaan toetsbestuur gerus die XV – jy sal aangenaam verras wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietsepan ·

Ek sal moet gaan kyk na die XV. Dit lyk soos ‘n Outback. Hierdie motors is baie betroubaar en uiters duursaam en die aandrywing stelsel is die besonders goed. Die masjien word ook in twee Girotuie gebruik weens hul betroubaarheid.

Paul ·

Die XV is uiters gewild in die VSA, juis omdat daar geen ander motor met dié spesifikasies teen ‘n soortgelyke prys beskikbaar is nie. Daar word dit ‘n Crosstrek genoem.
Dis kleiner (en goedkoper) as die Outback, maar andersins is dit baie soortgelyk, met dieselfde uitstekende vierwielaandrywingstelsel en dieselfde hoogte bo die grond as ‘n Outback, wat, soos in die artikel genoem word, hoër is as heelparty “hardebaard” 4×4 voertuie wat baie duurder is.

Kyk ook gerus videos op YouTube waar mense in ‘n XV deur hindernisse ry, of dit nou modder of sneeu of gruis is, waar ander groot 4x4s moedeloos vasval. Dis werklik ‘n uitstekende motor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.