Padveiligheid: Pendel só veilig

Motorfiets (Foto: Pixabay)

Dit was verby in ʼn oogwink. Een oomblik salig in die verkeer en die volgende oomblik op my rug op die N1. Net onder die Allandale-brug. Die pyn was onmiddellik, maar die verwyte het eers later gekom. ʼn Gebreekte femur, knie, skeen en voet later besef ek hoe anders my dag kon gewees het as ek net ʼn paar eenvoudige reëls nagekom het.

Daar is ʼn sêding onder motorfietsryers wat lui: “Moet nooit vinniger ry as wat jou beskermengel kan vlieg nie.” Wel, op daardie koue Mei-oggend kon hy (of sy) nie bybly nie. Baie van wat ek nou gaan sê, doen jy seker reeds, maar tog is dit nodig om net weer die voor die hand liggende uit te wys. Onthou, jy is heeltemal blootgestel op jou fiets. ʼn Kar bied nog beskerming, maar ʼn motorfiets nié.

Ek het verlede week op BMW se K1600GTL weer op die N1 gery, en om hierdie ruimteskip tussen die karre deur te ryg verg die uiterste konsentrasie. Dit het my net weer laat dink aan die dinge wat ek nou al as tweede natuur doen.

Moet nooit aanneem die persoon in die motor gaan uitkyk vir jou nie. Maak doodseker jy kan die bestuurder in jou spieëltjie sien. As jy hom kan sien, sal hy jou hopelik sien wanneer hy opkyk van sy foon. Let veral op vir motors wat ʼn groot gaping los tussen hom en die kar voor hom, of wat so sweef oor die baan. Facebook is vir hom baie belangriker as jou lewe.

Motorfietse (Foto: Pixabay)

ʼn Ander gevaar is as jy tussen karre deurry, en daar ontstaan ʼn gaping in een van die bane. Wees baie versigtig as jy daardie gaping nader, want ʼn kar uit die vol baan gaan dalk net dink die ander baan is vinniger, en van bane verwissel. My ongeluk het juis só gebeur. Die standaardverweer is altyd: “Ek het jou nie gesien nie.” Nee, jy het nie gekyk nie.

Die verskil tussen mense wat al hard geval het, en dié wat nie het nie, is spoed. As ek sien hoe vinnig party ouens deur die karre vleg, dan moet jy weer so ʼn paar paragrawe terug lees. Moenie dink mense gaan jou sien bloot omdat jy jou liggie aanhet nie. My reël is so tussen 10 en 20 km/h vinniger as wat die verkeer beweeg. Dit maak dat jy op party plekke bitter stadig beweeg, maar ek het die dag van my ongeluk dalk net te vinnig gery en was drie maande laat vir werk, met ʼn yslike mediese rekening.

Dit bring my by seker die belangrikste deel van jou veiligheid, en dit is die klere wat jy dra. Jou Levi 501 lyk dalk goed, maar bied jou geen beskerming nie, sou jy die dag vir jou beskermengel wegry. Ek besef dit is nie binne almal se vermoë om ordentlik aan te trek nie, maar trek aan vir die val, nie vir die ry nie. Hoewel ek baie breuke gehad het, was daar, danksy my ryklere, nie nog stukkende skaafplekke wat óók gesond moes word nie. My broek het hulle van my afgekry met ʼn skêr, so spesifiseer dit op jou versekering, want die goed is duur.

My hele uitkyk wat motorfiets pendel betref, het verander ná my ongeluk. Hoekom moet jy leer uit jou eie foute as jy sommer uit myne kan leer? Ek het ʼn bitter pynlike les geleer, maar jy hoef nie deur dieselfde trauma te gaan nie. Wees veilig op jou fiets, maar bowenal, wees wakker en geduldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Peet Schabort ·

Jare der jare gelede het ek bromponie gery. Op ‘n dag in Pretoria het ook ek tussen die voertuie aangepoer en skielik het ‘n geparkeerde voertuig se deur aan die bestuurder se kant oopgegaan! Op een of ander manier was ek daardie oomblik ‘n akrobaat en het ek die deur gemis! Daarna het ek deur die agtervenster gekyk of daar iemand voor- of agter sit aan die regterkant. Die ander groot gevaar is die een wat skielik uit ‘n parkering besluit om ‘n U-draai te maak terwyl jy aankom. Hy sien jou halfpad in sy aksie en stop waarna jy nie weet of jy weens jou spoed en afstand voor- of agter moet verby want jy kan nie stop!! Vroeër jare was die witstreep op die pad ook dodelik om op ‘n draai te gly en doer tussen die sypaadjie se bome jou draai te maak. Laasgenoemde is egter nie meer ‘n probleem want witverf is ‘n luuksheid. Goeie- en gevaarlike tye nou verby.

Hendrik ·

Nog ‘n reel wat ek aangeleer het, op ‘n motorfiets, is om by ‘n kruising spoed te verminder op ‘n motorfiets want ‘n mens weet nooit wanneer iemand besluit om met ‘n motorkar te kruising te laat of te vroeg gaan oorkruis nie . As motoris is ek al ‘n paar keer sleg gevang deur motorfiets wat “lane splitting” doen en ek werklik hulle nie gesien het nie. Ek se altyd motorfietsryers is soos armes, jy kyk altyd uit vir hulle maar wee die dag as jy dit nie doen nie. Dan is jy in die moelikheid.

Padridder ·

Dankie vir jou bedagsaamheid teenoor motorfietrysers Hendrik.

Ek ry self motorfiets en het uit my “lane splitting” ervaring geleer om, wanneer ek soms weer agter die motorstuur sit, spesifiek op die uitkyk te wees vir motorfietse:

Hou doelbewus meer gereeld die kantspieeltjies dop en
Maak genoeg ruimte langs die sperstrepe vir ‘n ryer om verby te kom.

Oor die algemeen vind ek Weskaap motoriste, selfs minibus taxis, baie bedagsaam teenoor padridders. Solank daar wedersysdse begrip en vir resepek vir mekaar is, kan mens klein misverstande met ‘n vriendlike knik of handgebaar oorsien en veilig aangaan sonder ‘n ophef of padwoede.

Ons is almal saam in die verkeer-spel. Gun mekaar ruimte.

Geoffrey ·

Hi daar.
Jong het jou geskrif gelees en is regtig jammer oor wat gebeur het maar jy sê nie wat die les is wat jy geleer het en ook nie hoe om wat met jou gebeur het te voorkom nie.
Groete
Geoffrey

Sê maar net ·

Geoffrey,
Met respek. Lyk my jy het net die begin en einde gelees. Paragraaf 4-6 noem duidelik n hele paar reels om te volg om n ongeluk te vermy. In paragraaf 5 verwys die skrywer juis na hoe sy ongeluk gebeur het en waarvoor om op die uitkyk te wees.
Vriendelike Groete
NS. My Ma het altyd gesê jy moet vir almal om jou bestuur. Jy moet voorspel wat die bestuurder voor jou gaan doen. Dit geen bestuurskool,ongelukkig, jou nie leer…net ondervinding.

herman ·

Motorfiets ryers ry motorfiets sodat hulle vinniger deur die verkeer kan kom . As hulle volgens die wet bestuur sal hulle nie vinniger deur die verkeer kom as n motorkar nie .

Padridder ·

En hulle ry vinniger om, vir veiligheid, uit die pad van die verkeer te bly.

Bog ·

Glad nie, ons ry om onself te beskerm teen mense soos jy wat op jou selfoon sit , mense wat oor die strepe ry of net plain spitefull is. Dit vat nie eers n halwe sekond om vir ons plek te maak dan is ons verby. Onthou ook : vir jou wat stil sit in n kar lyk 40KPh baie vinnig. Laaste ding, dit is glad nie teen die wet om te “lane split” nie.

Uvonka ·

Ek kan rerig nie verstaan hoekom mense spiteful moet wees teenoor motorfietsryers! Gits dit vat mos niks om net ‘n entjie oor te skuif sodat hulle verby kan kom. Nee rerig motoriste!!!!!

Anthony ·

Ek ry al 43 jaar bike dit is my brood en botter,ek moet vinnig ry word betaal per km……..so asseblief motors maak pad asb , al ry ek 120 km/ uur tussen julle deur moenie skrik nie skyf net n bietjie oor dankie.ek waardeer dit.

SO ·

Vir wettige bestuurders wat padtekens, padreëls en padmerke gehoorsaam wil ek net sê, dankie vir bedagsaamheid. Vir mense wat nie weet wat dit beteken nie, kry asseblief ‘n geldige rybewys vir die klas voertuig wat jy wil bestuur en hou by die reèls.

JMC ·

Ek pendel daagliks al vir baie jare en dit is my persoonlike mening uit daaglikse observering dat 70% van ryers soos hulle gaaie ry en geen ruimte laat vir foute nie, dan wil hulle die motoris blameer. Suid-Afrika is ook een van baie min lande waar dit wettig is om laansplitsing en verkeerfiltrering te doen, maar meeste ryers sien dit as ‘n reg en nie ‘n voorreg nie.

Padridder ·

SA is ook van die min lande in die wereld waar ry in die noodbaan wettig is om, as vergunning, vir vinniger voertuie ruimte te laat vir verbysteek. Alles help om gemoedere te temper

Daar’s geen sin om agter ‘n string motors te sit en tydmors en hul giftige uitlaatgasse in te asem terwyl daar meer as genoeg spasie is om verby te ry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.