Padveiligheid: Privaat opleiding is elke sent werd

Cheyne saam met ‘n mederyer en ‘n instrukteur (Foto: Gerrit Erasmus)

Toe ek so ’n paar jaar gelede begin gholf speel het, het ek nie vir een les gegaan nie. Hoe moeilik kan dit tog wees? Jy staan so met jou boude uit, jou rug reguit en swaai ’n stok. Na sowat ’n maand van frustrasie, gaan soek ek toe hulp. Die eerste paar lesse was bloot om alles wat ek verkeerd gedoen het uit te wys en reg te maak. Daarna kon die werk eers begin. As ek van die begin af vir lesse gegaan het, was my rekening soveel minder en my gholfstokke dalk nou nog in my besit. Dit geld ook vir motorfietsry. Dit maak nie saak hoe ’n talentvolle ryer jy dink jy is nie, daar is altyd ruimte vir verbetering.

Stephen Covey, die outeur van 7 Habits of Highly Effective People, het die sewende gewoonte geïdentifiseer as “slyp die saag”. Dit was waar ek met my motorfietsry was. Ek weet hoe om te ry, maar het nodig gehad dat iemand my kan dophou en my verkeerde gewoontes uitwys.

Een keer ’n maand bied Clinton Pienaar van SA Biking Academy ’n baandag met ’n verskil aan. Die groepie wat dit bywoon, word beperk tot 10 sodat elke ryer op een aspek van sy ry kan fokus. Elke sessie word afgeneem deur ’n fotograaf, sodat jy jou vordering oor die dag merkbaar kan sien. Daar is ook ’n instrukteur wat saamry en jou dophou. Clinton het al die Isle of Man TT gery, so moenie bekommerd wees dat jy dalk vir hom gaan wegry nie.

Brian Cheyne tydens die opleiding (Foto: Gerrit Erasmus)

Die dag skop af met ’n kenmekaarsessie, en elke ryer se doel vir die dag word op ’n bord neergeskryf. Die gedagte is nie dat jy hier is om 15 aspekte aan te spreek nie. Elke ryer moet één doel neerskryf. My doel was om my spoed in draaie te verbeter. ’n Ander ryer wou een sekonde vinniger om die baan gaan. Hoe minder ervare jy is, hoe groter is jou vordering. Ná die eerste paar rondes om die baan het ons na ons foto’s gekyk en almal was verbaas oor hulle tegniek, en hoe anders dit lyk, teenoor hoe dit vir jou voel. Met ’n instrukteur wat saam met jou om die baan ry, was die vordering vir my ongelooflik. Die res van die dag het bestaan uit ’n paar baansessies, gevolg deur ’n ontleding van jou sessie. Vir elke sessie het die instrukteurs jou aan een aspek van jou ry laat werk om jou teen die einde van die dag uit te kry by dit wat jy die oggend op die bord geskryf het.

Met my heel eerste sessie het ek een ryer geïdentifiseer en probeer bybly. Ek kon nie. My spoed was hopeloos te laag. Teen die einde van die dag kon ek bybly, selfs al was die ryer op ’n baie groter fiets.

Brian Cheyne tydens die opleiding (Foto: Gerrit Erasmus)

Nog ’n aspek wat vanself reggekom het, was my reaksie in ’n noodsituasie. Waar ek voorheen die motorfiets wou regop tel en rem, het ek op die betrokke draai net nog meer ingeleuen en die greep vertrou. Op die Long Tom-pas sou dit die verskil gewees het tussen veilig om die draai, of ’n ongeluk. Op Red Star kan jy maar foute maak. Jy kan in niks vasry nie. Op die pad is dit nie so maklik nie.

Ek kan nie so ’n dag hoog genoeg aanskryf nie. Elke ryer wat op ons paaie is, moet ten minste een van hierdie dae bywoon. Daar was selfs twee ryers wat hulle teerpad-ry wou kom opskerp op hulle groot avontuurfietse. Die koste sluit die baan, die instrukteur en ’n heerlike bord kos in. Jy kry ook na die tyd jou foto’s.

As jy nie oor ’n motorfiets beskik nie, of jy is bietjie skrikkerig om met jou eie fiets ’n baan aan te durf, is daarvoor ook ’n oplossing. Ek het ’n Honda CBR 600-baanfiets vir die dag gebruik. Jason Wessels van Moto-rentals het goedgunstiglik een van sy huurfietse aan my beskikbaar gestel. As jy so ’n fiets

Die opleidingsinstrukteurs bespreek die vordering (Foto: Gerrit Erasmus)

huur, voel jy net soos Rossi. Na elke sessie kom Jason self nader, help jou met die fiets en die fiets word deeglik nagegaan. Jy kan selfs ’n renpak by hom huur. Sy huurtarief sluit die fiets, brandstof en ondersteuning vir die hele dag in. Sy persoonlike bystand help ook dat jy net op jou ry kan konsentreer, en nie nog moet sukkel met ’n fiets nie.

Kom slyp jou saag. Kom leer. Elke sekonde op die baan maak van jou ’n beter ryer, en elke stukkie wat jy leer, kan jy toepas in jou daaglikse pendel. Dit is ’n klein prys om te betaal vir jou eie veiligheid. Die volgende baandag is op 23 Julie 2018.

Vir meer inligting, klik hier. Vir die fietshuur, kontak vir Jason Wessels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.