Pendel-plesier met SYM se Wolf SB250Ni

SYM se Wolf SB250Ni (Foto: Brian Cheyne)

SYM se Wolf SB250Ni (Foto: Brian Cheyne)

Ek is oortuig daarvan dat vervaardigers van kleinkapasiteit-pendelfietse slegs een formule het: ʼn ontwerp uit die 80s, met reguit lyne en baie chroom. Maar die speelveld het ʼn paar groot name wat nou hul toetrede gaan maak en SYM het so pas ʼn salvo afgevuur.

SYM is ʼn Taiwannese vervaardiger wat hoofsaaklik bromponies maak, maar het ‘n paar truuks geleer in die tyd wat hulle Hondas aanmekaar gesit het in Taiwan. Die SYM Wolf SB250Ni is ʼn baie bekwame klein fietsie. Wat my hart verbly het, is dat hulle nie die reëls gevolg het nie.

Die Wolf is ʼn baie moderne en aantreklike fiets. Daar is ‘n aanduiding dat SYM dalk bietjie die ander spelers se huiswerk afgeskryf het, want die lyne is Japannees geïnspireerd. Twee kleurskemas is beskikbaar: dof-blou en dof-rooi. Dit is ʼn ongewone afwerking, maar dit werk mooi op die fiets. Die Wolf span van voor tot agter die nuutse tegnologie in. Die voorste skyf het radiaal-gemonteerde knypers en agter is ook ʼn skyf ingespan. Die voorrem se hefboom is selfs verstelbaar, wat ongewoon is in hierdie klas.

SYM se Wolf SB250Ni (Foto: Brian Cheyne)

SYM se Wolf SB250Ni (Foto: Brian Cheyne)

Die enjin lewer 24pk en loop verbasend glad vir ʼn enkel-silinder. Gekoppel aan ʼn 6 spoed ratkas, sal die Wolf nie juis ʼn kortafstandwedren wen nie, maar hy loop gemaklik teen snelwegspoed. Ek was verbaas hoe min inspanning nodig was om 120km/h op die spoedmeter te sien. Geduld, ja, maar nie inspanning nie.

Die handvatsels is nou en dit maak van die Wolf ʼn fees in die verkeer. Die kantspieëls is betreklik wyd en sig na agter is uitstekend. Voor jou is ʼn groot toere-teller en die res van die inligting is vervat in ʼn vloeikristaleenheid. Dit wys selfs ratposisie aan, wat meer van toepassing is op groter fietse. Wat my verder beïndruik het, was die afwerking. Die skakelaars voel solied en duursaam.

Die brandstoftenk hou 14 liter en behoort ʼn reikafstand van meer as 300km te lewer. Met ʼn saalhoogte van 79cm, behoort selfs die korteres onder ons reg te kom. Die ryposisie is baie sportief. Jy lê so effe vorentoe en die voetruste is ver agtertoe geskuif.

SYM se Wolf SB250Ni (Foto: Brian Cheyne)

SYM se Wolf SB250Ni (Foto: Brian Cheyne)

Op die pad is die Wolf lekker rats en om van rigting te verander, verg die minimum inspanning. Onthou net, hierdie is ʼn pendelfiets en moet dienooreenkomstig beoordeel word. Top spoed en 0-100 syfers is irrelevant as jy deur stadsverkeer strompel. Die klein SYM is die ideale pendelfiets en ek het ons tydjie saam baie geniet.

SYM word ingevoer, versprei en ondersteun deur Kawasaki SA.

Vir meer inligting, besoek SYM se produkblad.

Prys: R58 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.