Pendelfiets met toervermoë

Foto: Brian Cheyne

Dis 4:00 in die oggend. Die ketel kook. Die huis is nog stil, maar die voëltjies is al reg vir die dag. Ek het besluit om vir my seun in Pietermaritzburg te gaan kuier, maar geen reis begin sonder koffie en beskuit nie.

Ek kry deesdae nie meer my gunsteling anysbeskuit nie, so dit sal maar karringmelk moet wees. In my motorhuis staan die nuwe Harley-Davidson Sport Glide 107, die negende model wat gebaseer is op die nuwe Softail-platform. Ons staan vir mekaar en kyk terwyl ek koffie op my hemp mors.

Die Sport Glide is ʼn mooi fiets. Tipiese Harley-Davidson lyne, wat nogal herinner aan die groter Street Glide. Harley het die voorwiel so ontwerp om te lyk of hy beweeg, al staan jy stil. Ek hou baie van die fiets. Dit is ʼn aantreklike ontwerp. Daar is ʼn skermpie oor die hooflig, maar ek sien sommer hy gaan nie veel doen om die wind van my pletterpet af te hou nie. My bors, wel. Ek haal my mees aërodinamiese helm van die rak af, en wonder of die koffie-vlek gaan wys op die swart hemp.

Foto: Verskaf

Die twee verwyderbare kanttassies is baie nuttig en die linkerkantste een is effe groter, omdat hy nie hoef plek te maak vir die uitlaatpyp nie. Ek pak my kameratas in die een, en die ander bevat my reënjas en klere vir die aand. Die oopmaak meganisme is baie eenvoudig en jy kan hierdie tassies oopmaak sonder om van die fiets af te klim. Hulle is ook sluitbaar.

Met koffie agter die rug is dit tyd om die Sport Glide op te saal. Hierdie fiets weeg amper 320 kg met ʼn vol tenk petrol. Die sitplek is maar 65 cm van die grond af, so die meeste van die gewig sit baie laag. Dit beteken dat dit nie veel inspanning kos om hom in die straat te kry nie.

Met die sleutel in my sak, druk ek die aansitter. Die yslike 1745 cc-enjin gee so ʼn paar kreune en dan is daar lewe. Die uitlaatpyp is stil in vergelyking met ander Harleys wat ek al gery het, en ek is maar te dankbaar daarvoor. Ek behoort darem nie die hele buurt wakker te maak nie. Die koppelaar is lig en om eerste rat te skakel verg ʼn gesonde trap. So pak ek en die Sport Glide die pad aan. Die vervelige stuk tot anderkant Johannesburg is gou agter my, en nou kan ek die spoedbeheer aansit en ontspan. By Van Reenen stop ek by die klein kerkie, iets wat ek my elke keer voorneem as ek daar verbyjaag.

Foto: Brian Cheyne

Die sitplek is ondersteunend en die feit dat jou voete vorentoe is, maak die Sport Glide ʼn baie gemaklike fiets. Dit is egter as die kilo’s begin optel en die boude lam raak, dat jy besef jy kan nie juis rondbeweeg op die fiets nie. So jy stop maar baie. Ek het heelpad mooi binne die spoedgrens gehou en met een skof meer as 24 km op ʼn liter brandstof gekry. Ek was aangenaam verras.

Die Sport Glide is gebaseer op die Softail-reeks en dit beteken ʼn ligter en stywer raam as sy voorganger. Dit sorg weer vir ʼn ongelooflike ry-ervaring. Oor Van Reenenspas se lang vloeiende draaie het die Sport Glide my verbaas. Ek het weer eens besef dat baie van H-D se toekoms op hierdie onderstel rus en dit was baie belangrik dat hulle dit regkry. My rystewels se hakke kan getuig dat Harley suksesvol was.

Foto: Brian Cheyne

Die Harley-Davidson Sport Glide is ʼn fiets wat as alledaagse pendelfiets ingespan kan word, en oor naweke kan jy die twee kanttassies vasmaak en vir jou seun in ʼn ver dorp gaan kuier.

Êrens langs die pad ruik ek gras en ʼn vars geploegde land. Dinge wat net vir ʼn motorfietsryer beskore is. Die wind, die vryheid en die alleenheid. Tyd om te besin oor dinge en mense in my lewe en om te vergeet van die koffievlek op my hemp. Geen afleidings nie, net die wind en ʼn gewillige V-twee onder jou.

Hierdie fiets stop jy nie ongemerk êrens nie. Hy trek aandag, en dit is deel van die Harley-Davidson ervaring. So as jy al ooit gewonder het of jy eendag ʼn Harley wil besit, kan jy nie verkeerd gaan met die Sport Glide 107 nie! Ek was werklik jammer ek moes hom teruggee.

Produkblad : https://www.harley-davidson.com/aa/en/motorcycles/2019/softail/sport-glide.html

Die feite:

Enjin1745cc V-Twee
Gewig ( Droog )304 kg
KragleweringGenoeg
Wringkrag145 Nm @ 6500 rpm
Tenkkapasiteit18,9 ℓ
Saalhoogte650 mm
PrysVanaf R 234 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Poot ·

Hulle kan maak met ‘n “Hardly Dangerous” wat hulle wil. Dit bly ‘n plaas implement.

marco polo ·

Ek sal nou nie juis n 1700cc monster n pendelfiets noem nie. Hopeloos te groot en swaar en vir pendel soek mens iets wat darem lig is op brandstof.

JWC ·

Ai ou POOT jy is poot-uit! Ek het ook sulke stupid aanmerking oor Harleys gemaak…. en toe koop ek een. Nou staan hier twee Fatboys en ‘n Sportster Forty Eight. O, en dan ook ‘n BMW R Nine T en ‘n Ducati XDiavel…. so pas my V* Boss Hoss (8.2 liter Corvette enjin in ‘n fiets! verkoop)… Probleem is ou POOT, ‘n mens moet ‘n paar Rand in jou sak hê om ‘n Harley te koop… daarna ry jy omtrent lekker EN so te sê verniet! Lig op brandstof, kan baie maklik self gediens word en is dem betroubaar!

Aan die skrywer van die bostaande artikel: Ek kan sien jy is ‘n “biker” – lekker aan jou stuk gelees!

Groete ou POOT…

Poot ·

@JWC
Almal is seker maar geregtig tot hul eie opinie. Ja ekt ook een gery. Toe kom ek tot my sinne. Jy sien ek sit al 36jr lank met motorfietse onder my sterre. Het al baie “brands” gery. Deesdae sal jy ‘n BMW R1200R en ‘n BMW K1300R in my motorhuis sien. My dae van tevrede wees met plaas implimente is lankal verby. Om ‘n Harley te ry is net om “status” te wys (wat ek regtig nie weet waste status hy verteenwoordig nie)…… Dis soos om ‘n John Deere sticker op jou double cab te plak.

Gys ·

Alhoewel ek ‘n avontuurfiets ou is (vanweë die feit day 75% van ons paaie grondpad is), sal ek my linker klinker gee om hierdie Harley al die pad N1 tot in Kaapstad te ry, en dan R62 langs terug huis toe.

Mrs H ·

Baie mooi! Sal ek my Dyna Street Bob ooit verruil? NEE. Dink ek moet net hierdie een ook aanskaf. Lol. Beste lewens ervaring, dankie vir die lees stukkie wat so interesant geskryf is.

anton ·

Al sou ek al die geld in die wêreld besit, sal n plaas implement, Skuus….. Harley :-) nie in my stoor, Skuus tog, motorhuis staan nie.
Net sekere mense hou van hulle. Waarheid.
:-)

Derick ·

@ JWC as jy so spog hoe ryk jy is koop vir jou die BMW adventure. N droom van n fiets. 180km/h op n grondpad voel soos 140 op n teerpad. Enigste problem is motorfietse is bietjie “over price” en almal het nie daai voorreg nie. Bly om te sien Suid Afrikaners kry nie swaar nie, en rol nog in die geld.

Poot ·

Derick.
Die beste belegging wat JWC gemaak het is die R NineT wat in sy skuur staan. Ducati het ook maar ‘n klomp klippe in ‘n blik gegooi…. toe noem hulle dit ‘n “ratkas”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.