Peugeot 208 GTi en Porsche Cayman S getoets

Die Porsche Cayman S

Die Porsche Cayman S

Maroela Media-motors het onlangs twee motors opeenvolgend as toetsvoertuie gehad – en hier is die gevolgtrekkings:

Peugeot 208 GTi

Daar was ‘n tyd, enkele dekades gelede, dat Peugeot as feitlik onvernietigbaaar en selfs as die ‘Koning van Afrika’ beskryf is.

Ongelukkig was daar ook ‘n tydperk waartydens hierdie einste handelsmerk berug geword het en selfs in ‘n stadium 15 jaar lank nie in ons land beskikbaar was nie omdat niemand bereid was om lewend in ‘n Peugeot gesien te word nie.

Hierdie tye het egter verander en die jongste Peugeot – die kragtige klein 208 GTi – het ‘n stylvolle, kompakte voorkoms wat veral by modebewuste jong sakemanne en -vroue sterk aanklank behoort te vind.

Spesifikasies is uit die boonste rakke en sluit in leerbekleedsel (met oordadige rooi striksel om die ‘GTi’-aspek te beklemtoon), fenomenale 205/45 R17 Michelin Pilot Exalto-bande en ‘n volgrootte noodwiel (ook op ‘n regte, egte allooivelling soos die ander vier). Die res van die binneruim is ook die ene rooi schmuck, soos die Duitsers sou sê, om jou daaraan te herinner dat jy hier met ‘n ware klein spiertier te make het.

Verder is die 208 toegerus met ‘n 1.6-liter 147 kW kragbron wat ook deur MINI gebruik word, en weeg dit ook ‘n skrale 1 160 kg om versnelling en maksimum snelheid nog ‘n verdere hupstoot te gee. Hierdie kombinasie werk uitstekend, want die maksimum snelheid (wat nie getoets is nie) sal lag-lag ver ander kant die 200 km/h-kerf wees. Trouens, die vervaardigersaanspraak is 230 km/h. Die 0-100 km/h versnelling word in ‘n blitsige 6.8 sekondes afgestof.

Maar, en dis juis hier waar die probleem lê, al hierdie krag word via die voorwiele op die pad geplaas. En as daar dan al ooit regverdiging was vir 4-wielaandrywing, dan was die 208 die ideale kandidaat. Daar draf soveel wringkrag deur die stuurwiel (torque steer) dat selfs ervare bestuurders daarop moet konsentreer om die Peugeot in ‘n reguit lyn te hou.

Benewens die Peugeot se pragvoorkoms, kan ‘n mens ook opgewonde raak oor die volledig verstelbare stuurwiel, sentrale sluit, klimaatbeheer, die heel redelike 266 liter-bagasieruim, die omvattende reeks veiligheidskenmerke soos ABD, EBD en togbeheer, asook die twee USB-sokke net voor die ratkierie. Daar is ook nie minder nie as ses lugsakke om die insittendes veilig te hou.

Die aanbevole prys van R260 000 sluit ook ‘n verkoelde rommelkissie, parkeerhulp voor en agter en togbeheer in

Maar daar is tog ‘n paar kenmerke van die 208 GTi wat erg pla. Die eerste is moontlik kleinlik, maar ‘n mens word tog nukkerig in die aangesig van politieke gedienstigheid soos die satellietnavigasie wat reeds vergeet het dat daar ‘n stad soos Pretoria is. Peugeot het klaarblyklik besluit dit sal voortaan Tshwane op die skermpie wees.

Afgesien hiervan is daar ‘n ernstiger probleem. Vir korter mense is dit, nadat die ideale sitposisie bepaal is, baie moeilik om die instrumentpaneel te sien! Hierdie is ‘n wesenlike tekortkoming en dui op swak ontwerp.

Ten gunste van die Peugeot 208 GTi kan gesê word dat die uitstekende bougehalte, die stylvolle voorkoms en die verstommende padklouvermoë, asook die lae CO2-uitlaat syfers van 139 gram/100 km hierdie knapie ‘n goeie keuse maak. Voeg daarby die BMW/MINI-kragbron en meganiese betroubaarheid behoort ook nie ‘n probleem te wees nie.

Die prys sluit ook ‘n 3 jaar/100 000 km-waarborg en ‘n 5 jaar/60 000 km instandhoudingsplan in.

Porsche Cayman S

Dalk vermoed die Porsche-mense dit al lankal, maar die Cayman (dis nou die Boxster met ‘n nie-verwyderbare dak) bied feitlik net soveel verrigting as die maatskappy se ikoniese 911 – teen tweederdes van die prys.

Teen ‘n prys in die orde van R800 000 is die Cayman buite meeste mense se bereik, maar tog bied hierdie motor kenmerke en eienskappe wat hom laat uitstaan bo die kudde.

Kom ons begin by die bande. Die keuse het geval op Pirelli P Zero op 20″ vellings. Die agterbande is egter breër (265/35) as die voorstes (235/35). Met hierdie lae profielbande sou ‘n mens ‘n harde en ongemaklike rit verwag, maar dis geensins die geval nie. Met hierdie soort toerusting wat die voertuig van die teer skei – en gegewe die renbeproefde veerstelsels voor en agter is die padhouvermoë aansienlik beter as uitstekend – briljant sou ‘n beter woordkeuse wees.

Ander Cayman-kenmerke wat die Tiende Gebod in gevaar stel sluit in die volmaak-gevormde sitplekke (daar’s net twee), die wonderlike grommende klank van die plat (bokser) 3.4-liter sessilinder teen 5 500 opm, die totale voertuigmassa van net 1 350, danksy die ruim gebruik van aluminium, en ‘n 7-gang outomatiese PDK-ratkas. Laasgenoemde dui op Porsche Doppelkupplung en beteken gewoonweg twee koppelaars in die stelsel.

Na my mening is dit die beste ratkas wat tans beskikbaar is.

Soos dit ‘n eksklusiewe gehaltemotor betaam is die Cayman omvattend toegerus. Die sitplekke is van handgeskikte leer, die stuurwiel is ten volle verstelbaar, daar is volle klimaatbeheer en selfs twee plekkies vir koeldrankblikkies. Die prima-klankstelsel het vier luidsprekers – meer as genoeg vir die klein kajuit.

Maar die eerste indruk wat ‘n mens van enige sportmotor soos die Cayman het, is die tegniese spesifikasies van die plat ses-enjin. Kraglewering is 239 kW en die maksimum snelheid word beperk tot 250 km/h. Die 0-100 km/h versnelling word in 4.9 sekondes kafgedraf, en die hele alfabet van ABS, EBD en vastrapbeheer word ingespan om te verseker dat die trotse eienaar nie hierdie pragstuk kreukel of knak nie.

Ander enjin-kenmerke is die vier kleppe per silinder, die aluminium-enjinblok en werkverrigting teen lae toere wat dui op aanvaarbaar ligte brandstofverbruik. Trouens, teen 140 km/h luier hierdie magtige kragbron in 7e rat rustig voort teen 2 000 opm, en volgens die vervaardigers is die gemiddelde verbruik dan slegs 8 liter/100 km.

Maar, sal die voornemende koper ten slotte vra – waar bêre ek die tasse? Die goeie nuus is dat die Porsche Cayman twee bagasieruime het – let wel, nie ruim bagasieplekke nie. Voor in die neus is daar plek vir ‘n klein tassie of selfs twee, terwyl daar agterlangs ook ‘n afsonderlike klein kompartementjie is.

Opsommend dus: Die Porsche Cayman S (sonder die S kry jy die goedkoper 2.7-liter) met sy reuse (geel geverfde) remknypers, wonderlike bougehalte en werkverrigting wat jou toelaat om die horison in een teug in te adem, is eintlike waarde vir geld.

Om R800 000 vir ‘n tweesitplekker te betaal is nie iets wat die gemiddelde mens daagliks doen nie.

Dis slegs beskore vir ‘n handjievol wat (a) finansieel onafhanklik is en (b) ‘n ware motorliefhebber is wat hierdie skitterende voertuig kan waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.