Peugeot floreer onder nuwe bestuur

Leslie Ramsoomar, besturende direkteur van Groupe PSA. (Foto: Verskaf)

Peugeot as handelsmerk is al deur diep waters in Suid-Afrika. Hier teen 2018 het dit maar beroerd gelyk vir die invoerder. Internasionaal is Peugeot en Citroën onder een sambreel genaamd Groupe PSA.

PSA het ook nou die Opel handelsmerk onder hul vlerk geneem en dieselfde sal mettertyd in al die internasionale markte gebeur. Die onderhandelinge in Suid-Afrika is amper afgehandel en uiteindelik sal Opel ook deel wees van PSA Groupe in Suid-Afrika.

Sodra dit afgehandel is, sal hulle begin met die integrasie van FCA (Fiat Chrysler Automobiles) nadat die groep ook deur PSA Groupe uitgekoop is. Tydgrense vir die proses in Suid-Afrika is nog duister en die prosesse vat lank.

Maar kom ons fokus vir eers op Peugeot en Citroën. Xavier Gobille het in ʼn baie kort tyd vir ʼn opskudding by Peugeot en Citroën in Suid-Afrika gesorg. Waar handelaars nie die mas kon opkom nie, is hulle gesluit. Spesialis-tegnici is ingebring om die aantal voertuie wat vir onderdele in Suid-Afrika wag drasties te verminder – van 564 motors in 2018 tot ʼn fantastiese 36 tans. Daar was in 2018 ʼn totaal van 80 voertuie wat weens gebrek aan tegniese kennis gestaan het, en nou is daar nie een voertuig waar die probleem nog nie gediagnoseer is nie. Dié voertuie is ouer voertuie wat VIN-spesifieke onderdele uit Frankryk nodig het. Geen voertuie wag tans vir diensonderdele nie. PSA het hul onderdelevoorraad opgestoot om te verseker dat klante se voertuie amper nooit staan nie.

Die Peugeot 2008. (Foto: Verskaf)

Leslie Ramsoomar het op 1 Februarie vanjaar as besturende direkteur by PSA oorgeneem. Hy het ʼn gesonde 20 jaar se ondervinding in die motorbedryf by Renault en Nissan. Hy staan nou aan die stuur van ʼn uiters sterk span om dinge van krag tot krag te laat gaan.

Terwyl die motormark in Suid-Afrika tot op hede met 36% af is, het PSA se markaandeel met 31% gegroei jaar op jaar. Dit is ʼn fantastiese prestasie. Leslie en sy hoof van naverkope, Toni Minnie, plaas groot klem op naverkopediens. Hulle wil eers seker maak al die handelaars is 100% reg en gereed voor hulle voortgaan met hul produkbekendstellings oor die volgende jaar. Daar sal teen die einde van 2020 ʼn totaal van 30 handelaars reg oor Suid-Afrika wees.

Teen einde 2021 sal vyf nuwe Peugeot-produkte in Suid-Afrika beskikbaar wees. Ons het nou ʼn blik op die Peugeot 2008 gekry en die voertuig gaan behoorlik die knuppel in die hoenderhok gooi in sy segment. Ons kan die nuwe 3008 én 5008 verwag sowel as Peugeot se eerste bakkie, die Landtrek.  En dan die mooiste van almal, die pragtige Peugeot 208.

Onder Peugeot se nuwe leierskap gaan dit fantasties wees om te sien hoe hul handelsmerke van krag tot krag gaan in Suid-Afrika. Peugeot, Citroën, Opel, Fiat en Alfa het puik produkte wat almal eens op ʼn tyd in die steek gelaat is in Suid-Afrika deur power naverkopediens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Bring die 504 terug, daai ding het nooit gebreek nie, en doen vandag nog diens in sommige Afrika lande. Jip dis net wiele, enjin en body, maar absoluut rateltaai.

andre ·

Die Landtrek is nie die eerste Peugeot bakkie nie.In die sewentigs en tagtigs het ek heelwat Peugeot bakkies in SA gesien

Adam Adriaan ·

Waar is die dae van die 404. Onbreekbaar. Was in die selfde klas as die Borgwardt uit Duitsland. Nooit gebreek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.