Plaaslike bekendstelling: Hyundai Creta – ʼn goeie eerste indruk

Die Hyundai Creta (Foto: Hyundai)

Die Hyundai Creta (Foto: Hyundai)

Maroela Media het verlede jaar die plaaslike bekendstelling van die gewilde Hyundai Tucson bygewoon. Die Tucson is reeds ʼn reusesukses vir Hyundai en hulle het dit goedgedink om ʼn kleiner kruismodel ook in Suid-Afrika bekend te stel.

Die Creta word in Indië vervaardig en geniet ʼn reuse-markaandeel daar. ʼn Aantreklike buksie met gawe proporsies en indrukwekkende grondvryhoogte bied ʼn visueel interessante motor. Daar is drie modelle beskikbaar, 1.6 viersilinder-petrol-handrat, 1.6 viersilinder-petrol-outomaties en die reeksleier, 1.6 viersilinder-diesel-outomaties.

Al drie modelle is Executive-spesifikasievlak en geniet dieselfde toerusting. Die 1.6 petrol-model bied 90 kW teen 6 300 r/min en 150 Nm wringkrag teen 4 850 r/min. Die 1.6 dieselmodel – my gunsteling, bied 94 kW teen 4 000 r/min en 260 Nm teen 2 750 r/min. Op die pad voel die diesel werklik sterker met baie beter versnelling deur die ratte.

Die Hyundai Creta (Foto: Hyundai)

Die Hyundai Creta (Foto: Hyundai)

Soos met die groter Tucson is die binneruim sonder fieterjasies. Ek hou van Hyundai se ongekompliseerde ontwerpstyl. Wat jy nodig het, is daar en nie veel ander onnodige truuks nie. Die bestuurdersitplek is regtig gemaklik en kan in ʼn japtrap gemaklik verstel word. Die indrukwekkende toerustingvlak sluit ʼn raakskerm en navigasiestelsel in. Satellietkontroles op die stuur vir die radio verseker dat jou hande altyd op die stuur bly.

My eerste indruk is dat die dieselenjin lekker stil is as hy luier en nie raserig vir ʼn Euro 2-spesifikasie-enjin is nie. Eerste indrukke met die petrolenjin is dat hy effe lui is teen lae toere – maar sodra mens verby 4 000 r/min stoot, dan raak hy meer angstig.

Op ons toetsroete is Hyundai weer vreeslik braaf gewees om twee lang stukke grondpad in die roete in te sluit en die Creta het homself oortref. Die laaste stuk van die tweede grondpad was regtig sleg en die Creta het hom werklik goed gedra. Op die teerpad klou die Creta indrukwekkend goed met bitter min bakrol.

Ons sal die Creta weer kry vir ʼn langer tydperk om meer in diepte verslag te lewer, maar eerste indrukke is goed. Die buksie is aantreklik, het plek vir vyf, is goed toegerus, die diesel loop lekker sterk en boonop is die Creta nie duur nie. In ʼn mark waar ʼn gewone sedan nie meer mode is nie, dink ek die Creta gaan baie goed vaar.

Die reeks lyk so:

Creta 1.6 Executive90 kW/150 Nm7.9 l/100 kmR319 900
Creta 1.6 Executive outo90 kW/150 Nm8.4 l/100 kmR339 900
Creta 1.6CRDi Executive outo94 kW/260 Nm7.4 l/100 kmR369 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se markleidende 5 jaar/150 000 km-waarborg op die voertuig en 7 jaar/200 000 km op die dryfstelsel. Daar is ʼn 5 jaar/90 000 km-diensplan in die prys ingesluit. Die brandstofverbruiksyfers aangehaal is werklike syfers verskaf deur Hyundai en nie laboratoriumtoetssyfers nie.

Ons sal weer in die indiepte-resensie kyk na Creta se kompetisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Basson ·

‘n Groot flater van Hyundai – geen stabiliteitsbeheer beskikbaar (ESP / TC), dus stap ek maar verby na Mazda, Toyota of Nissan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.