Plaaslike bekendstelling: Hyundai Tucson 1.7 Turbodiesel

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Die Hyundai Tucson is nie vreemd vir Suid-Afrikaners nie. In 2004 het ʼn taamlik nuwe Hyundai sy eie kompakte sportnutsvoertuig in SA bekendgestel. In die jare wat gevolg het, het die Tucson en Nissan se X-Trail die kryt voos gestoei vir die kroon van beste kompakte sportnutsvoertuig in die klas. Albei het gereeld gewen.

In 2008 het Hyundai al hulle model-name begin vervang met ʼn reeks i-nommers. Die Tucson het toe vir ʼn kort tyd die iX35 geword. Tot my verbasing is vroeg in 2016 aangekondig die Tucson-naamplaatjie keer terug SA toe.

Maroela Media het onlangs die plaaslike bekendstelling van die nuwe Tucson 1.7 dieselmodel bygewoon. Die nuwe Tucson dra ʼn sekere aantreklike sjarme, met skoon lyne, maar tog nie vervelig nie.

Die binneruim is luuks genoeg sonder om uitspattig of pretensieus te wees. Die stuurwiel kan teleskopies asook vertikaal gestel word, sodat dit net reg sit vir enige bestuurder. Elektries-verstelbare voorsitplekke is dadelik gemaklik en bied vir die insittendes goeie ondersteuning.

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Die rathefboom wissel seepglad deur die ratte, terwyl al die kontroles ergonomies uitgelê is. Die instrumentasie is verfrissend eenvoudig en die afwesigheid van oormatige inligting is regtig welkom. Al stel mens die voorste sitplekke heeltemal agtertoe, kan ek steeds in die agterste sitplekke pas. Ek is nie lank nie, maar tog nie ʼn kabouter nie. Die bagasiebak bied genoeg pakplek, al lyk hy bietjie vlak. Ek neem aan daar skuil ʼn vol-grootte spaarwiel onder die mat.

Die Tucson se nuwe Euro VI 1.7 liter-dieselenjin loop seepglad en mens hoor hom skaars as hy staan en luier. Die nuwe kragbron lewer 85kW teen 4 000 r/min en 280Nm wringkrag tussen 1 250 en 2 750 r/min. Te danke aan die verskriklike streng Euro VI-regulasies, produseer die enjin slegs 124g uitlaatgas per km.

Op die pad kan die Tucson heel goed sy sokkies optrek. Goeie vordering is maklik gehandhaaf sonder om die oliebronne leeg te tap. Die Tucson het op ʼn roete van ongeveer 120km, ʼn indrukwekkende brandstofverbruiksyfer van 6.2l/100km gebied. Die nuwe 1.7 dieselenjin skrik ook nie vir toere soos baie ouer dieselenjins nie. Die wringkrag is wel van verskriklik laag in die toerestrek beskikbaar, dus is dit heeltemal onnodig om die toere-naald verby 4 000 r/min te stoot.

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Grondpaaie is ingesluit in die toetsroete. Nie mooi platgeskraapte grondpaaie nie – eintlik is klip- en- rots-paaie ʼn beter definisie. Ek en my bestuurmaat het ʼn paar keer gedink, sjoe – is ons op die regte plek? Ek sal hier sê, die Tucson se ritgehalte en veringstelsel is fantasties.

Ek hou ook daarvan dat die Tucson 17” wiele op het, met bande wat ʼn 60-profiel het. Ek is nie ʼn baie groot voorstander van sportnutsvoertuie met 21” wiele, met ʼn 30-profiel band op, nie. Dit ruïneer die ritgehalte en sportnutsvoertuie is nie veronderstel om soos bol-aan-wol vas te klou nie. Terug op die teerpad, gedra die Tucson hom baie goed met geraas, vibrasie en verfyndheidsvlakke.

Die Tucson-reeks vaar reeds baie goed met verkope sedert sy plaaslike bekendstelling van die petrol-modelle vroeër vanjaar. Die twee diesel modelle wat nou beskikbaar is, gaan die reeks sterk in sy soektog vir die beste in sy klas kroon.

Die Tucson is ʼn goed afgeronde pakket met ʼn merkwaardige spesifikasievlak, sonder onnodige fieterjasies. Hyundai is bekend vir sy toonaangewende waarborg van 5 jaar/ 150 000km. Die dieselmodel geniet ook ʼn 5 jaar/ 120 000km diensplan en diensintervalle is elke 30 000km te danke aan sy voldoening aan Euro VI-spesifikasies. Die Tucson het ook ʼn 5-ster Euro NCAP gradering in die 2015-toets behaal.

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Om op te som: hierdie segment het ʼn klomp sterk mededingers, maar die Tucson kraai koning in 2016, met 3 444 eenhede wat tussen Maart en September verkoop is, 1 184 eenhede meer as die volgende mededinger, die Mazda CX-5.

Die pryse is redelik mededingend. Dit hang af op die ou end af watter een vir jou mooi is. Die waarborge en diensplanne is almal min of meer dieselfde. Daar is ook ʼn wye verskeidenheid om van te kies, petrol of diesel, handrat of outo, 4×2 of 4×4.

Die Tucson is ʼn WesBank Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-finalis en daar is goeie rede daarvoor. Die Tucson se bou en ritgehalte is indrukwekkend. Die nuwe enjin is ʼn klein juweel. Maak nie saak hoe jy kies nie, gaan bestuur beslis hierdie Tucson voordat jy finaal besluit.

Die reeks lyk so:

ModelKragBrandstofverbruikPrys
Tucson 2.0 Premium115kW/ 196Nm8.9l/100kmR369 900
Tucson 2.0 Premium outo115kW/ 196Nm9l/100kmR389 900
Tucson 1.6 Turbo Executive130kW/ 265Nm8.3l/100kmR439 900
Tucson 1.7 Turbodiesel Executive85kW/ 280Nm6.8l/100kmR439 900
Tucson 2.0 Elite outo115kW/ 196Nm9l/100kmR454 900
Tucson R2.0 Elite outo131kW/ 400Nm R519 900

Die Tucson-reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000km waarborg en 5 jaar 90 000km diensplan. Die 1.7 Diesel het ʼn 120 000km diensplan met diensintervalle van 30 000km.

Die kompetisie lyk so:

ModelKragBrandstofverbruikWaarborgPrys
Ford Kuga 2.0TDCi AWD Trend132kW/ 400Nm6.2l/100km4 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R489 900
Kia Sportage 2.0CRDi EX130kW/ 400Nm6.8l/100km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000km diensplan

R487 995
Toyota Rav4 2.2D-4D AWD GX110kW/ 340Nm5.6l/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R459 000
Mazda CX-5 2.2DE Active110kW/ 380Nm5.7l/100km3 jaar/ onbeperkte km waarborg

3 jaar/ onbeperkte km diensplan

R433 600
Renault Kadjar 81kW dCi Dynamique81kW/ 260Nm4.6l/100km5 jaar/ 150 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R394 900
BMW X1 sDrive 20d140kW/ 400Nm4.6l/100km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan

R522 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jr ·

Hoekom nie Mazda cx5 akera 2.2 diesel . 129kw en 420Nm nie. Waarom die laer kw model opsit.

Brendon ·

Dagsê JR.

Baie dankie vir jou kommentaar. Twee redes vir daai besluit. Eerstens, die CX-5 2.2 Akera is AWD, die Tucson nie. Tweedens is die CX-5 2.2 Akera R100 000 duurder as die Tucson.

Groetnis,
Brendon Staniforth
nms Maroela Media.

Will i am ·

Pragtige motor. Ek moet nou net n pos in die kabinet kry dat ek een kan koop

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.