Plaaslike bekendstelling: Toyota C-HR – mooi moderne modes

Die Toyota C-HR (Foto: Toyota)

Die Toyota C-HR (Foto: Toyota)

Vreeslike “moderne” motors word dikwels bekendgestel as bemarkingfoefies om die publiek sover te kry om die een of ander “nie-op-standaard”-handelsmerk te koop. Gewoonlik is dit nie die beste besluit om te neem nie…

Toyota is wel ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrika en almal het een of het een gehad, of hul pa of oupa. Die nuwe C-HR is splinternuut en hoewel dit nie almal se smaak mag wees nie, trek hy aandag soos ʼn stoute stiefkind in die kerk. Daar is verskeie hoeke en lyne – visueel is die C-HR ʼn taai klap in die tradisionele gesig. Pa en oupa het hulle beurt gehad, dié een is vir die kinders, kleinkinders of agterkleinkinders.

Die binneruim is ultramodern, maar tog Toyota. Nuut – maar jy ken hom van iewers af. Die kajuit is ergonomies uitgelê en die sitplekke kan in en uit sowel as op en af stel, nes die stuurwiel ook. Die twee verstellings verseker dat jy lekker vinnig gemaklik is. Outomatiese klimaatbeheer op die + spesifikasievlakmodelle en ʼn raakskermklankstelsel rond die pakket mooi af. Die kattebak is vir my bietjie knap – maar ek met my drie kinders is nie noodwendig die C-HR se teikenmark nie. Daar skuil darem ʼn volgrootte spaarwiel onder die kattebak se vloer.

Die Toyota C-HR (Foto: Toyota)

Die Toyota C-HR (Foto: Toyota)

Die splinternuwe 1,2 liter turbo-viersilinder onder die enjinkap is regtig lekker. Dalk net 1,2 liter, maar trek ver bo sy gewig. Die 85kW en 185Nm is nie te versmaai nie en die C-HR sal draf van 0 – 100 km/h in 10,9 sekondes en aanhou nael tot op 190 km/h. Brandstofverbruik is regtig puik, ons het op die toetsroete 4,8 ℓ/100 km behaal toe ons mooi rustig ry op die snelweg, en 6,4 ℓ/100 km op die agterpaaie met ʼn meer “voet-in-die-hoek”-bestuurstyl. Daar is twee ratkaste beskikbaar, ʼn gewone sesganghandrat of ʼn sewespoed-palwisseltransmissie (CVT).

Iets wat ek en my bestuursmaat wel opgelet het, is dat die C-HR regtig indrukwekkend goed geveer is. Hy klou heeltemal goed om draaie, maar as die pad ondeund raak is hy soepel en gemaklik. In die ou dae kon ʼn mens nie jou brood so aan albei kante gebotter hê nie. Deesdae is dit wel moontlik.

Om die C-HR te kon bekendstel teen sy prys het Toyota SA besluit om laer spesifikasievlak modelle te kies as wat oorsee beskikbaar is. Die C-HR in Suid-Afrika kom slegs met twee lugsakke en dan die ander gewone veiligheidsmiddels soos ABS, noodremhulp, elektroniese remkragverdeling, opdraande-wegtrekhulp en voertuigstabiliteitsbeheer.

Ons sal die C-HR weer kry vir ʼn meer diepgaande resensie en vergelyking teen sy mededingers. Ek dink teen die prys is dit ʼn lekker motor wat goed toegerus is met ʼn lekker enjintjie … en dit bly ʼn Toyota.

Die reeks lyk so:

C-HR 1.2T handrat  R318 500
C-HR 1.2T handrat +  R345 000
C-HR 1.2T CVT +  R356 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

SkarrelKind ·

Brendon, ek het jou skrywe geniet. En ek is nie ‘n motorkenner nie, maar Kia en Hyundai het so beindruk oor die laaste aantal jare, ek sal die Crete oorweeg, voor ek hierdie Toyota koop. Dis maar net my opinie. Toyota het in vergelyking met die Koreaanse reuse, ‘n bietjie teruggesak oor die laaste 5 jaar. Daar is lekker statistieke op die internet beskikbaar hieroor.

chris.l ·

skarrelkind jy kon dit nie beter gestel het nie ek was vir baie jare n
toyota man maar na my vrou se 1ste kia het ek verdwaal na korea se
reus toe maar moet se toyota bly my no 2

Piet Pompies ·

Uitstekende produk, sal hom graag in lewende lywe wil sien…. daardie prys is bietjie kwaai

Aneldi Steenberg ·

Net NB info vir die wat die CHR wil koop vir omvattende dekking vir jylle versekering: Daar is geen alarm of immobiliseerder in vir diefstal beskerming nie. Niemand maak melding daarvan nie. Neem net kennis en dit is nie gelys as n ekstra eat jy kan by koop nie. Maak die somme mooi, opsporingstelsel is dus seker jou voorland?

Takkie ·

Pfff, Nissan Juke na-aap. Die oordrewe stillering is nie vir my mooi nie.

Groot (ekst) Toyota aanhanger. ·

Mmm ek het vanoggend die dingetjie op die pad gesien en gedink dit is nou oulik maar vir daai prys??? Uhhhmmmm nee daar is baie karre met soveel meer om te bied in daai prysklas. En net toe ek baie bly raak en dink hier kry ek weer vir my n Toyota.

Liza ·

Ek ry tans met 2 Toyotas rond, my 1998 Tazz gebruik ek daagliks in die dorp en my 2014 Rav4 vat gereeld die langpad. LOVE my Toyota motors en sal nie maklik verruil vir iets anders nie. Opgewonde oor die enetjie!

Chris Ws ·

Toyotas is goeie rygoed maar vir daai prys kyk ek nie eers na hom nie.Kia of Hyundai is Toyota alreeds voor met gehalte vir prys.Jammer Toyota julle sal baie harder moet probeer want die Koreane het hul huiswerk deegliker gedoen as julle!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.