Plaaslike talent op die wêreldverhoog

Brad Binder as 2016-Moto3-kampioen saam met sy spanmaats (Foto: KTM)

Ons staan in die Waslow Hotel en wag vir Brad en Darryn Binder om op te daag. Dit is die stilste plek wat ons kon kry, want buite is alles nat en koud. My kameras staan reg. Die dame wat die onderhoud gereël het se foon lui. Dit is Brad. Hy bel net om te sê hy gaan ʼn bietjie laat wees. Hy is nie meer gewoond aan Johannesburg se verkeer nie.

ʼn Rukkie later stap twee jong manne in. Albei dra hulle Red Bull-kepsies. Brad, netjies in ʼn swart T-hemp. Darryn dra ʼn bonkige kledingstuk en die keps sukkel om sy welige bos hare in toom te hou. Die manne stel hulself voor en ek knyp myself so ʼn bietjie. Hier voor my staan die 2016-Moto3-wêreldkampioen en sy boetie.

Daar is drie klasse in die motorfiets-wêreldkampioenskap: Moto3, Moto2 en die prima klas, MotoGP. Ek het altyd net die MotoGP gekyk tot ek een middag gesien het daar is ʼn Suid-Afrikaner in die Moto3-klas. Met die eerste resies het ek geweet dat dit dié klas is wat jy moet kyk. Twee draaie van die einde af is daar steeds ʼn stuk of 10 fietse wat veg om ʼn plek en algehele oorwinning. Een klein foutjie en jy is van eerste na sewende.

Darryn Binder (Foto: Brian Cheyne)

Êrens in daardie bondel was ʼn jong Suid-Afrikaner wat met elke wedren ʼn bietjie verbeter het. Hoewel hy op ʼn onmededingende fiets was, het die naam Brad Binder en natuurlike talent saamgegaan soos Klippies en Coke. Hy verskyn die eerste keer op die podium in Duitsland in 2014. In 2015 kry hy sy groot kans en teken ʼn kontrak met die KTM-span van Aki Ajo. Jonger broer Darryn maak ook sy debuut in 2015.

In 2016 het Brad Binder Moto3 oorheers. Hy het gereeld op die podium gekuier, maar die boonste trappie het hom bly ontduik. Toe kom Jerez in Spanje. Binder was gestraf vir iets wat verkeerd was op sy fiets. Hulle het hom toegelaat om deel te neem, maar hy moes heel laaste op die wegspringrooster wegspring. Wat die wêreld op daardie dag gesien het, was ʼn meesterlike tentoonstelling van rou talent.

Die normaalweg kalme Brad het weggespring en met elke rondte sy teenstanders uit die pad gevee en sy heel eerste oorwinning in die Moto3-klas behaal. Hollywood kon dit nie beter geskryf het nie. Daarna het die oorwinnings makliker gekom en nog ses oorwinnings het hom die 2016-wêreldkampioen gemaak.

Brad Binder (Foto: Brian Cheyne)

En hier sit hy en praat oor sy verhouding met sy jonger boetie. Hulle lag en spot mekaar. Jy kan sien hierdie twee broers het baie tyd vir mekaar. Darryn se vriende is ook Brad s’n en Brad het ruiterlik erken dat hy eerder by die huis wou wees by sy ouers as om nou die een onderhoud ná die ander te moet doen. Brad is baie meer volwasse as wat jy sou verwag van ʼn 22-jarige. Ons praat verder oor ditjies en datjies, maar meer nederige, plat-op-die-aarde manne gaan jy moeilik kry.

Ongelukkig was 2017 nie ʼn goeie jaar vir die broers nie. Brad het opgeskuif na Moto2 en nog voor die jaar begin het, sy arm gebreek. Darryn het sy duim gebreek en ʼn paar rondtes misgeloop as gevolg daarvan. Aki Ajo het egter genoeg gesien van Darryn se vermoë en hom genader om in 2018 vir Brad se ou span te kom ry.

Daarenteen beloof 2018 om ʼn ongelooflike jaar vir die Binder-broers te wees. Brad se KTM het spoed, Darryn se KTM het homself al deeglik bewys, en met KTM wat hulle ontwikkeling op die MotoGP-fiets voortsit, is dit dalk nie lank voor ons een van die Binders in die topklas sien deelneem nie.

Nog ʼn plaaslike ryer, Steven Odendaal, neem ook deel vanjaar, so kom ons hoop ons sien die Suid-Afrikaanse vlag gereeld wapper! Die MotoGP skop die 18de Maart af in Katar.

Darryn Binder, Brian Cheyne en Brad Binder (Foto: Brian Cheyne)

Brad Binder (Foto: Brian Cheyne)

Darryn Binder (Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.