Porsche open opleidingsentrum

Porsche open die SA Porsche Training and Recruiment Centre in Kaapstad (Foto: Verskaf)

Maroela Media het verlede Donderdagaand (30 Maart) die indrukwekkende opening van die SA Porsche Training and Recruiment Centre in Kaapstad bygewoon.

Die opleidingsentrum is geleë by die Salesian Institute Youth Projects (SIYP) in Groenpunt, Kaapstad. ʼn ‘Salesian’-skool is ʼn generiese term vir instellings wat gebruik maak van die Rooms-Katolieke Salesian-gemeente van Saint Don Bosco se opleidingsmetodes.

Salesian-skole is gemik op jong mense en bied aan hulle ʼn opvoedkundige omgewing in hul vormingsjare. ʼn Salesian-skool is meer as net ’n skool – dis ook ‘n huis, ’n kerk en ’n speelgrond waar leerlinge gewoond kan raak aan ‘n nuwe lewenswyse. Hulle word voorberei vir hul toekoms as goeie burgers van hul land terwyl hulle getrou bly aan hul godsdiens.

Oor die volgende drie jaar gaan ʼn totaal van 75 jong mans en vroue van ’n agtergeblewe agtergrond opgelei word as diensmegatroniese ingenieurs. Die eerste klasse vind reeds vanaf Junie 2017 plaas. Die opleiding sal ook ruimte skep vir werksgeleenthede in die kleinhandel-afdelings van die Volkswagen Groep.

Die projek word moontlik gemaak deur ʼn samewerkingsooreenkoms tussen die Bosco Salesian Institute Youth Projects in Kaapstad en die plaaslike invoerder van Porsche-motors, LSM Distributors (Pty) Ltd. Die eerste klas bestaan uit agt 8 jong vroue en 16 jong mans. Porsche het die skool toegerus met twee seminaarlokale, ʼn opleidingswerkswinkel en motors wat die leerlinge kan gebruik. Die program is deur Porsche en sy naverkopediens-kenners ontwikkel. Diegene wat die klasse aanbied, word ook opgelei deur PAVE (Porsche After Sales Vocational Education).

Teen die program se vierde jaar behoort SIYP finansiële beheer te neem van die program terwyl Porsche en die Volkswagen Groep steeds die opleiding sal hanteer. Verder sal daar vir leerlinge werksgeleenthede gebied word by Porsche of elders in die Volkswagen Groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Gaan daar wit agtergeblewe jongmense ook opgelei word of word die aantal jongmense bepaal deur die bevolkings demografie 8:2:2:1?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.