Porsche se luukse nuweling

Foto: Bernard K Hellberg, Maroela Motors

Foto: Bernard K Hellberg, Maroela Motors

Dis nie aldag dat die top Duitse vervaardiger van luukse motors – Porsche – ‘n nuwe model aan die Suid-Afrikaanse mark bekend stel nie.

Maroela Motors was egter onlangs bevoorreg om die bekendstelling van die kompakte nuwe Macan (Indonesies vir tier) in die Wes-Kaap by te woon.

Twee modelle is aan die media vir oordeel oorhandig – ‘n 3-liter enkelturbo V6 diesel en ‘n 3-liter dubbelturbo petrol-aangedrewe V6. Puriste sal dadelik na hul asems snak, want as ‘n mens Porsche-enjins praat, praat jy plat (bokser) 6-silinders.

Maar hoe dit ookal sy, die Macan is spesifiek ontwikkel om te voldoen aan die vraag na ietwat kleiner sportnutsvoertuie (SUVs), ‘n modegier wat deesdae deur al meer vervaardigers uitgebuit word.

Maar anders as in die geval van die massaproduksie-mense, beklemtoon Porsche steeds dat die Macan nie ‘n sportnuts is nie, maar eerder ‘n sportmotor wat toevallig vier deure en 500 liter pakplek het en tot vyf mense in gerief teen hoë snelhede kan vervoer.

Om hierdie rede is die Macan-reeks dan ook nie juis goedkoper as sy groter stalmaat die Cayenne nie. Die mikpunt was duidelik: die Macan is nie kleiner sodat hy goedkoper kan wees nie, maar wel kleiner omdat daar baie voornemende kopers is wat al die eienskappe van die Cayenne wil hê – maar wel in ‘n kleiner bakformaat.

Maar dis die binneruim wat die meeste aandag trek met ‘n swetterjoel beheerknoppies in die middelkonsole. Gelukkig is die meeste instruksies heel verstaanbaar ander sou dit ‘n gesukkel afgegee het om van alles sin te maak.

Teen ‘n rustige 140 km/h is die Macan doodstil binne en word die voordele van die Bose®-klankstelsel ten volle benut. Vir die puris is daar ook ‘n opsionele Burmester-stelsel beskikbaar, maar moet liewer nie vra wat hierdie toevoegings gaan kos nie.

Die sportsitplekke en toereteller (reg in die middel voor die bestuurder) onderstreep die werklikheid dat die Macan eerder ‘n sportmotor vir vyf mense is as ‘n sogenaamde sportnuts (SUV).

Alhoewel sy meganiese hart – twee kragtige V6-eenhede – nie die tradisionele Porsche-plattes verteenwoordig nie, is hierdie twee enjins ware Porsche-eenhede wat onderskeidelik 250 kW (petrol) en 190 kW (diesel) ontwikkel. Die petrol V6 is in staat tot 254 km/h en loop die 0-100 km/h sneltoets in 5.4 sekondes plat. Die diesel bly egter nie ver agter nie en het ‘n topsnelheid van meer as 240 km/h en ‘n 0-100-tyd van 6.1 sekondes.

Wat die diesel nog meer bekoorlik en begeerlik maak is die brandstofverbruik (vervaardigersaanspraak) van tussen 6.1-6.1 liters/100 kilometers. Die vervaardigers beweer ook die petrolmodel sal so 8.7 liters/100 km gebruik – maar dit sal gewis nie op ‘n renbaan en in die hande van motorjoernaliste gebeur nie.

Die twee enjins se krag gaan deur Porsche se briljante (PDK-ratkas) na al vier wiele. PDK, vir diegene wat dit nie geraai het nie, is Porsche se beroemde Porsche Doppelkupplungsgetriebe – ‘n dubbele koppelaarstelsel met 7 vorentoe ratte wat, ongeag die rat waarin die voertuig is, die volgende rat reeds in plek het vir wisseling so seepglad dat dit onbewustelik gebeur.

Die 400 kilometer bekendstellingsrit vanaf Century City in Kaapstad tot by De Kelders in Gansbaai het gewys waartoe die Macan op Wes-Kaapland se goeie paaie in staat is.

Toegerus met 19” wiele en topgehalte Michelin-bande, was die mediavloot gereed vir slaggate en verbrokkelde oppervlaktes, maar dié was nêrens te sien nie.

Opsommend
Porsche se jongste model voldoen aan al die hoë standaarde van sy voorgangers en stalmaats. Dis ‘n voertuig vir vermoënde kopers wat nie by die bankbestuurder moet gaan mooipraat nie.

In elke opsig, van die skitterende hoeveelhede krag wat onder jou regtervoet beskikbaar is, tot elke denkbare geriefs- en veiligheidskenmerk, is die Macan ‘n waterskeiding in die vervaardiger se geskiedenis.

In die jare wat voorlê, sal daar na 2013 (toe die Macan die eerste keer bekend gestel is) verwys word as dié keer toe die wêreld se voorste sportmotorvervaardiger ‘n sportnuts met die hart van ‘n sportmotor gebou het.

‘n Mens kan maar net wonder hoeveel van hierdie puik nuweling uiteindelik deur superryk politici met belastingbetalersgeld aangeskaf sal word. Die Macan verdien beter as om as die volgende Limpopo Tazz gebrandmerk te word.

Die dieselweergawe sal jou R862 000 kos, terwyl die petrolweergawe teen R873 000 verhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.