Raad vir motorklagtes

motorsleutels

Argieffoto.

Ons almal ken iemand wat al ʼn bloutjie geloop het met iemand in die motorbedryf. Gelukkig kan verbruikers met klagtes oor enigiets wat met motors te doen het, kla by die ombudsman vir die motorbedryf (MIOSA).

Wie is MIOSA?

MIOSA is geakkrediteer as ʼn alternatiewedispuut-resolusieskema kragtens die Wet op Verbruikersbeskerming. Lidmaatskap van MIOSA is verpligtend en voldoening aan die SA Bedryfskode vir die Motorbedryf is ook verpligtend vir alle lede.

MIOSA is die eerste agentskap vir alternatiewedispuut-resolusie wat deur die Nasionale Verbruikerskommissie geakkrediteer is. Die bedryfskode is die eerste om deur die Wet, wat in 2011 in werking getree het, voorgeskryf te word. Die organisasie los al sedert 2000 verbruikersgeskille en -klagtes op in gevalle waar lede van die bedryf en verbruikers nie ʼn oplossing kan vind nie.

Die SA Bedryfskode vir die Motorbedryf

Die bedryfskode reguleer betrekkinge tussen mense wat sake doen in die motorbedryf en maak voorsiening vir ʼn skema van alternatiewedispuut-resolusie tussen verbruikers en alle lede van die bedryf deur middel van ʼn bedryfsombudsman.

Alle mense en ondernemings in die bedryf moet sedert 2 Januarie 2015 aan die doel en beleid van die Wet op Verbruikersbeskerming voldoen. Hulle mag hulle ook nie skuldig maak aan verbode gedrag nie en moet verbruikers spesifiek beskerm teen onredelike optrede, onregverdige, onbillike en onredelike kontrakte en kontrakvoorwaardes, onregverdige, onbillike, onredelike en andersins onaanvaarbare handelspraktyke en misleidende, onbillike of bedrieglike optrede.

Daar word van almal in die motorbedryf verwag om interne prosedures in te stel vir klagte-oplossing. Dit moet ʼn interne departement vir die hantering van klagtes en ʼn gepaste prosedure vir die hantering van klagtes insluit, asook die proses wat verbruikers moet volg wanneer hulle kla. Personeel moet ook opgelei word oor die Wet op Verbruikersbeskerming en die regulasies, sowel as die bedryfskode en die algemene beginsels en prosedures om klagtes flink te hanteer.

Klagtes moet opgelos word volgens die gees en voorwaardes van die bedryfskode en die Wet. Lede van die motorbedryf moet ook hul bes doen om klagtes binne 30 dae op te los.

Kla hieroor by MIOSA

Verbruikers kan by die ombudsman kla oor alle goedere en dienste wat deur die motorbedryf verskaf word. Dit sluit in invoerders, verspreiders, vervaardigers, kleinhandelaars, verskaffers en tussengangers wat landbou-, nywerheids- of handelsvoertuie invoer, versprei, vervaardig, verkoop of verskaf. Sleepwaens, vragmotors, motorfietse en vierwielmotorfietse en selfs bootenjins is hierby ingesluit.

Onderhandelinge rakende die invoer, verspreiding, vervaardiging, verkoop en verskaffing van onderdele en bykomstighede vir hierdie voertuie word ook deur die kode gedek, sowel as herstelwerk, versiening, veranderings, omskakelings en aanpassings.

Klagteprosedure

Volgens MIOSA se klagteprosedure moet verbruikers eers by die verskaffer of bedryfsliggaam kla en die verskaffer moet binne tien dae skriftelik antwoord. Indien die klagte nie binne tien dae opgelos is nie, moet die verskaffer skriftelik verduidelik waarom die klagte nie opgelos is nie.

Die verbruiker kan dan skriftelik by MIOSA kla, wat van die verskaffer verwag om binne tien dae ʼn anwoord aan MIOSA te verskaf. Indien nie, sal MIOSA ʼn bevel tot voordeel van die verbruiker uitreik. Verbruikers moet egter ook optree volgens die bedryfskode, soos om skriftelik te kla en alle inligting te verskaf.

Indien die verbruiker oortuig is daarvan dat dit onnodige skade of benadeling sal veroorsaak, kan die verbruiker direk by MIOSA kla.

Klagtes van ons lesers

Een van ons lesers, Pieter Kempen, het onlangs aan ons geskryf en gevra of ons lesers kan inlig oor die doel en voordeel van MIOSA. Hy het by MIOSA gekla oor sy motor, maar het geen reaksie gekry nadat die vervaardiger ʼn antwoord op sy klagte aan MIOSA gestuur het nie. Volgens MIOSA het hulle nou met Kempen oor die vervaardiger se antwoord gesels.

Nog ʼn leser, Mariaan Smith, van Emalahleni (Witbank), kla oor steeds onvoltooide herstelwerk aan haar motor wat in die tweede week van November haelskade opgedoen het. Volgens die duikklopper, Automagic, het hy die maatskappy wat die motor sou herstel in Desember oorgeneem. Aangesien Automagic oor die feestyd gesluit was, het die herstelwerk langer geduur as gewoonlik. Om haelskade te herstel behels dat die bakwerk eers herstel word voordat dit geverf kan word, wat ook ʼn lang proses is, het Automagic gesê. Volgens Automagic sou Smith se motor verlede Maandag 8 Februarie klaar gewees het, maar Smith wag nog steeds. (Die berig is op Dinsdag 16 Februarie met nuwe inligting opgedateer.)

Volgens Johan van Vreden, die ombudsman vir die motorbedryf, is dit belangrik om ook by jou versekeraar te kla, aangesien die duikklopper deur die versekering aangestel word. Volgens Smith het sy by die versekeraar gekla, maar dit het nie vrugte afgewerp nie.

MIOSA se kontakbesonderhede en klagtevorms is beskikbaar by www.miosa.co.za.

Ina Opperman is ʼn lid van die MIOSA-raadkomitee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grap ·

Dit is n totale grap ons het n pad met MOISA gestap geen terugvoer, meer as 30 e-posse gestuur sonder dat enige probleme opgelos is van hulle kant af. Die idee agter hulle is great net jammer dit is n KLUG en soos meeste goed in SA is heeldag tee tyd

Willi ·

Stem saam, hierdie spul is “useless” het amper ‘n jaar gesukkel en nooit terugvoer of enigiets ooit van hulle gekry nie. Wat ‘n klug. Word seker betaal en onderhou deur die motor industrie.

Carlene vn Heerden ·

GROOT Klug!!!. Ons klagte le al van Maart 2015 Het darem ‘n klagtenommer gekry, maar niks verder!! Geen foonoproep word beantwoord Geen e-pos word beantwoord.

Barend ·

Ek stem saam ek sukkel al 2 jaar en kry GEEN terugvoer nie. Wonder hoeveel verdien hulle uit die handelaars om die klagtes te ignoreer.

Wilna ·

Het al ‘n klagte geplaas in 2009, selfs ‘n verwysings nommer gekry, maar na talle en talle emails, het dit net doodgeloop, nooit iets verder van hulle gehoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.